Verkiesings 2024

’n Kieser is sonder haar ‘ondersteuning’ ...

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Iewers in Rooihuiskraal is ’n kieser sonder haar ondersteuning.  Foto: Lizette Jonker
Iewers in Rooihuiskraal is ’n kieser sonder haar ondersteuning. Foto: Lizette Jonker

Dit is seker nie vreemd dat mense rondborstig hul volronde ondersteuning in 'n verkiesing ontbloot nie.

En dit kan maar bra vervelig wees om lank in 'n tou te staan om jou "cross your heart"-kruisie te trek.

Wat egter die eienaar van 'n duur Wonderbra genoop het om háár stukkie kant so voor die voete van kiesers te werp, is onbekend.

"Iemand het Woensdagoggend die ‘rooi' in Rooihuiskraal gesit," was Lizette Jonker se afleiding toe sy in die straat voor 'n stemlokaal in dié Centurionse voorstad 'n prettige stukkie, beslis nuwer as 'n oulap-se-rooi, op die teerpad gewaar.

"Ons was so om 07:00 by die stemlokaal. Dit is loopafstand van ons af, maar ek het nie die stukkie onderklere op pad soontoe raakgesien nie.

"Ek staan toe in die tou en neem maar die wilde strelitzias af, die bome . . . dit raak maar bra vervelig om so te moet wag," vertel sy.

Omstreeks 07:45 het sy en haar seun uitgestap en in die straat voor die ingang tref 'n stukkie kleur haar oog.

"Dit was so róói, en ek dink, wag 'n bietjie, laat ek kyk."

Losweg geskat, was dit skaars 7 m van waar die tou mense, sommige met looprame, ander met kinders, gestaan het.

"In die middel van die straat.

"Daar is 'n kuierplek naby ons stemlokaal, en dalk het iemand Dinsdagaand 'n baie prettige pre-stemmery-partytjie gehad, maar ek weet nie presies hoe 'n meisie daardie stukkie klere dáár sou verloor nie," wonder Jonker.

Sy het dit nou nie te noukeurig beskou om die grootte te weet nie, maar kon sien "dit is vir rojale buuste" bedoel.

"Die etiket was wel sigbaar: Wonderbra. Dit was so 'n mooi stukkie, ek het nogal vir 'n oomblik gewonder of dit my grootte is," skerts sy.

Jonker het egter eerder nóg 'n kiekie vir die dag geneem - die rooi teen die rowwe teerpad het nogal mooi gelyk - en dit op sosiale media geplaas met: "Someone lost something in front of our voting station."

"Jy weet, dalk sien die eienaar die plasing," voeg sy skalks by.

Die gemeenskap het laat (s)waai met kommentaar, en die bra-lose eienaar geloof vir haar "volle steun" aan 'n "vrye" verkiesing.

Sommige het wel gewonder of dit dalk 'n bewys kan wees dat iemand "omgekoop" is om gouer voor in die ry te kom.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM