Gewysigde reëls vir die eerste sitting van die Nasionale Vergadering (NV), Nasionale Raad van Provinsies (NRP) en provinsiale wetgewers is Donderdag deur hoofregter Raymond Zondo bekend gemaak wat onmiddellik van krag is.
Dié wysigings hou grootliks verband met kwessies van prosedure wat deur lede gelug kan word en die handhaaf van orde tydens sittings.
Zondo dien ingevolge die Grondwet as voorsitter van die eerste sitting van die parlement ná die verkiesing, waartydens die speaker, adjunkspeaker en president verkies word, terwyl hy ook gemagtig is om reëls vir dié sittings te maak wat ook met die eerste sittings van die provinsiale wetgewers geld.

Sy wysigings sluit in dat reël 8 van die reëls wat op 30 Mei gepubliseer is, vervang word en reëls 9, 10, 11 en 12 bygevoeg word.
Vrae oor prosedure mag deur lede of 'n hoof van 'n provinsiale afvaardiging (in die geval van die NRP) gestel word indien dit gesekondeer is deur 'n ander lid of die hoof van 'n ander afvaardiging.
Die voorsittende beampte kan besluit dat dié vraag bespreek word indien nodig en is by magte om deelname daaraan en die duur daarvan te beperk.
Lede moet ook hulself ordelik gedra en nie die verrigtinge op enige wyse belemmer nie, lui die wysigings.
Indien die voorsitter meen dat 'n lid of lede nie die reëls nakom nie of opsetlik wanorde skep, mag hulle beveel word om die saal te verlaat.
Indien hulle weier, mag die beskermingsdiens ontbied word om die lid of lede te verwyder en die sitting mag vir dié doeleinde opgeskort word terwyl al die ander lede bly sit.
Waar geweld voorkom, mag veiligheidsdienste ingryp indien daar 'n onmiddellike gevaar vir mense se veiligheid of skade aan eiendom is.
Lede van die beskermingsdiens of ander veiligheidsdienste mag nie gewapen wees wanneer hulle die saal binnegaan nie, tensy daar 'n onmiddellike bedreiging vir veiligheid of skade is.
Indien die voorsittende beampte in enige stadium meen dat een of meer lede optree op 'n wyse wat die sitting ontwrig of onnodig vertraag, mag die voorsittende beampte beveel dat hulle die saal vir die res van die sitting verlaat. Hulle mag ook verwyder word indien hulle weier.
Verder mag geen lede aanstootlike, beledigende, onbetaamlike of onaanvaarbare woorde of gebare gebruik nie, lui die wysigings.
In die geval van onvoorsiene omstandighede wat die bestaande reëls nie dek nie, word die voorsittende beampte gemagtig om dit te hanteer soos hy of sy goeddink.




















