Verkiesings 2024

Verminder ANC se stemme as straf, vra DA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Helen Zille stem Maandag by die Pinelands High School in Kaapstad. Foto: JACO MARAIS
Helen Zille stem Maandag by die Pinelands High School in Kaapstad. Foto: JACO MARAIS

Die DA vra 'n hofbevel dat die getal stemme wat die ANC in die algemene verkiesing ontvang, verminder word as "straf" vir pres. Cyril Ramaphosa se "stemwerwery" in sy toespraak aan die nasie Sondagaand.

Die DA voer aan hy het sy pos as staatshoof "misbruik om vir die ANC stemme te werf" aan die vooraand van die algemene verkiesing.

In hofstukke wat Maandag by die kieshof ingedien is, sê Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, die enigste manier om die situasie reg te stel is om die getal stemme van die ANC te verminder.

"Dit is uiteraard onmoontlik om met enige mate van sekerheid te bepaal hoeveel stemme die ANC bygekry het weens Ramaphosa se misbruik van mag.

"Die DA voer aan dat 'n vermindering van 1% van die totale getal stemme wat die ANC ontvang, regverdig sal wees," sê Zille.

Die DA vra dat die hof Ramaphosa die maksimum boete van R200 000 oplê en verklaar dat sy optrede die Kieswet oortree het.

Met die aansoek wil die DA Ramaphosa en die ANC verantwoordbaar hou vir "flagrante en erge oortredings" van sowel die Kieswet as die gedragskode vir verkiesings.

Die toespraak is op die regering se YouTube-tuiste uitgesaai, op die presidensie se X-rekening geadverteer en regstreeks deur verskeie uitsaaiers uitgesaai.

Die respondente is Ramaphosa, in sowel sy persoonlike hoedanigheid as sy hoedanigheid as staatshoof, die ANC en die Verkiesingskommissie (OVK).

Volgens Zille het Ramaphosa art. 94 van die Kieswet, saamgelees met item 9(2)(e) van die gedragskode vir verkiesings, oortree. Dit handel oor die misbruik van posisies van mag om die uitslag van 'n verkiesing te beïnvloed.

Voorts het Ramaphosa volgens haar art. 87(1)(g) oortree. Dit verbied die misbruik van staatsfinansiering vir politieke veldtogte, sê Zille.

"Ander partye het beperkte toegang om hul politieke boodskap uit te saai. Ramaphosa het probeer om hierdie beperking te systap deur 'n politieke verkiesingstoespraak as 'n presidensiële rede op te dis. Dit is hoekom sy toespraak misbruik en onwettig is."

Zille voer in die funderende verklaring aan hoewel Ramaphosa se toespraak "neutraal" voorgekom het, is dit 'n "deursigtige poging om die sogenaamde ‘suksesse' van die ANC van die afgelope vyf jaar uit te basuin en 'n oproep om die ANC weer aan bewind te stel".

Die optrede kan nie ongestraf gelaat word nie. Dit moet ongeldig verklaar word en Ramaphosa en sy party moet die prys vir hul misbruik betaal.

Die DA het volgens Zille geen beswaar teen die deel van die toespraak waarin Ramaphosa die OVK bedank en 'n oproep om 'n vreedsame verkiesing doen nie.

Dit is heel gepas dat die president die onafhanklikheid en integriteit van die verkiesing verdedig en vir 'n vrye en regverdige verkiesing vra.

"Maar die toespraak dwaal vinnig af van die presidensiële terrein na om bloot veldtog te voer."

Sy verwys spesifiek na die deel van die toespraak waarin Ramaphosa vra: "Laat ons bou op die vordering wat ons gemaak het. In hierdie oomblik op ons pad na vernuwing kan ons nie bekostig om terug te keer nie."

Volgens Zille onthul hierdie uitlatings dat die enigste doel met die toespraak was om stemme te werf.

"Ramaphosa sê deur te stem vir 'n ander party - en dus 'n ander administrasie - sal dit die sogenaamde ‘vordering" ondermyn wat sy administrasie gemaak het."

Die taalgebruik van "vernuwing" is volgens Zille ook soortgelyk aan dit wat die ANC herhaaldelik in sy veldtog gebruik het om stemme te werf.

"Die optrede kan nie ongestraf gelaat word nie. Dit moet ongeldig verklaar word en Ramaphosa en sy party moet die prys vir hul misbruik betaal. As sittende (presidente) toegelaat word om hul amp en staatsgeld straffeloos te misbruik, kan Suid-Afrika nie vrye en regverdige verkiesings hou nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM