Die Verkiesingskommissie (OVK) het ná die hersiening van Sondag se verkiesingsuitslae bevestig dat die VF Plus sy setel in die Oos-Kaapse wetgewer behou.
Piet Mey, die party se provinsiale leier, sal die setel opneem, het Pieter de Necker, uitvoerende hoof van die VF Plus, Donderdag aan Netwerk24 gesê. Mey sal Jaco Burger as dié party se LPW vervang.
Toe die OVK Sondag die voorlopige uitslae bekend gemaak het, was daar nog besware oor plekke waar stemme hertel moes word. Die VF Plus was Sondagaand onder die indruk dat hulle die setel in die Oos-Kaap verloor het.
LEES OOK | Oos-Kaapse wetgewer: VF Plus uit, MK en PA in

"Ons is uiters dankbaar dat ons ons setel kan behou. Dit sou regtig baie hartseer gewees het as ons daardie setel verloor het. Ons gaan natuurlik nou voortbou op die werk wat ons in die Oos-Kaap begin het. As ons hierdie setel verloor het, sou dit beslis die finansiering wat ons van die OVK ontvang, beïnvloed het," sê De Necker.
Die ANC het die meeste setels met 45 setels, gevolg deur die DA (11), EFF (8), UDM (3), Patriotic Alliance (2), MK (1), ATM (1) en VF Plus (1).
Setels in die Oos-Kaapse provinsiale wetgewer het, gegewe die provinsie se bevolkingsgrootte, sedert die laaste algemene verkiesing van 63 setels tot 72 toegeneem.
De Necker skryf die effense afname in steun vir die VF Plus in die Oos-Kaap toe aan die moontlikheid dat kiesers weens "vreespolitiek" besluit het om vir ander partye te stem.

"Baie mense was in 2019 ongelukkig met die DA en het toe vir ons gestem. En nou het hulle in die afgelope verkiesing vir die DA gestem. Ek dink ook die vreespolitiek en toetrede van die MK-party het baie mense laat voel dat hulle vir 'n groter party moet stem," sê hy.
Alhoewel die party 'n afname in steun getoon het en steeds net een setel in die wetgewer het, reken De Necker dat steun vir die party eintlik in die provinsie toeneem.
"Dis positief vir ons dat ons voor 2021 nooit enige raadslede in die Oos-Kaap gehad het nie en voor 2019 nooit enige verteenwoordiger in die provinsiale wetgewer nie. Die feit dat ons ons setel behou het en dat ons raadslede in twee van die metro's, en van die plaaslike munisipaliteite het, dui daarop dat die party in die Oos-Kaap groei."
De Necker sê die party gaan nou, in die aanloop tot die plaaslike verkiesing, weer probeer om die vertroue van die kiesers terug te wen wat voorheen vir die VF Plus gestem het.




















