Die VF Plus se verlaagde steun in die laaste verkiesing sowel as wetswysigings oor partybefondsing is redes wat die party aanvoer vir die sluiting van kiesafdelingkantore landwyd.
Volgens Wouter Wessels, VF Plus-LP en -woordvoerder, is die party onder meer genoop om kantore in Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat te sluit.
"Vanweë 'n daling in steun sowel as wysigings en beperkte befondsing van politieke partye is daar besluit om die kantore te hergroepeer om sodanige dienslewering te optimaliseer."
Kobus Hoffman, wat die VF Plus voorheen in die Gautengse wetgewer verteenwoordig het, beweer die Midvaal-kantoor in Meyerton is uit wraak gesluit deur mededingers in die party. "Die uitvoerende dagbestuur gebruik hierdie geleentheid om individue wat vyandig teenoor hulle is uit te roei," sê hy.
Hy is veral ontstig oor die wyse waarop werknemers Vrydag behandel is nadat die Midvaal-kantoor van buite met 'n ketting en slot gesluit is. "Hierdie kantoor is oor tien jaar opgebou en daar is talle mense wat baie goed vir die party is wat nou hul werk gaan verloor."
Wessels sê egter die party volg arbeidswetgewing getrou en dat partywerkers geweet het hul dienskontrakte verstryk einde Junie. "Personeel by die Midvaal-kantoor het deurgaans nie hul samewerking gegee nie. Die party was billik en regverdig in sy optrede om onder meer van sy bates te verhaal. Kobus weet sy optrede is onaanvaarbaar."
Die herrie volg op 'n betwiste Gautengse leiersverkiesing wat op 25 November 2023 in Krugersdorp gehou is. Die LP Philip van Staden is as leier verkies en Hoffman en Grandi Theunissen ('n raadslid in Tshwane) as onderleiers. Drie dae later het die uitvoerende dagbestuur van die VF Plus se federale raad die uitslae tersyde gestel.
Volgens Wessels is die Gauteng-streek tans onder administrasie en tree die uitvoerende dagbestuur van die party as die provinsie se dagbestuur op.


















