’n Peruaanse politikus met die name Hitler Mussolini Simeón Flores (45) is tot burgemeester van ’n afgeleë Andes-distrik verkies nadat hy sy naaste teenstander met net 25 stemme geklop het, berig die BBC.
Flores, kandidaat van die gematig linkse party Ahora Nación, het 229 stemme in Queropalca in die Huánuco-gebied gekry. Dit verteenwoordig sowat 34,5% van die 663 geldige stemme. Sy naaste teenstander van die regse party Renovación Popular Perú het 204 stemme gekry.
Volgens die BBC het net meer as 700 mense aan die verkiesing deelgeneem. Queropalca se geraamde bevolking is net meer as 730. Flores is in dié distrik, sowat 360 km van Lima, hoofstad van Peru, gebore.
Sy voorname stem ooreen met dié van Adolf Hitler, leier van Nazi-Duitsland, en Benito Mussolini, fascistiese diktator van Italië. Die name het internasionale aandag op die klein gemeenskap gevestig.
Dis egter nie die eerste keer dat ’n Peruaanse politikus met die naam Hitler verkies word nie.
Volgens die BBC is Hitler Guesclin Alba Sánchez in 2018 tot burgemeester van Yúngar, nog ’n klein Andes-dorp, verkies. Hy het sy teenstander, Lenin Vladimir Rodríguez Valverde, geklop en luidens berigte sy veldtog gevoer met die slagspreuk: “Ek is die goeie Hitler.”
Ook in Namibië het ’n politikus met dié naam opslae gemaak. Adolf Hitler Uunona het in 2020 internasionale aandag getrek toe hy plaaslike verkiesings gewen het. Namibië was voorheen ’n Duitse kolonie, waar Duitse voorname steeds voorkom.
Die keuse van historiese of ongewone name, selfs dié met omstrede assosiasies, is nie ongewoon in Peru nie.






