Sebastian de Klerk sê hy is vasbeslote om voort te bou op die goeie vertonings wat hy vir die Bulle gelewer het voor ’n ernstige voetbesering vroeër vanjaar die wind uit sy seile gehaal het.
Dié 26-jarige boorling van Durbanville het verlede seisoen groot opgang as veelsydige buite-agterspeler gemaak en is vir die ’n tweede agtereenvolgende jaar na ’n Springbok-belyningskamp genooi.
Ondersteuners van die Bulle en kenners was dit eens dat ’n Bok-buiging vir De Klerk wink.
Toe kom die voetbesering in Maart wat De Klerk vir sowat vyf maande buite aksie sou laat.
In die Bulle se VRK-tuiswedstryd teen die Stormers het De Klerk se voet in ’n duikslag op hom in die grasoppervlak vasgesteek en het hy ligamente aan die bokant van die voet geskeur. Hy moes toe ’n operasie ondergaan.
Johan Ackermann, hoofafrigter van die Bulle, het toe gesê dat De Klerk ’n dubbele rede gehad het om baie teleurgesteld te wees.
“Eerstens omdat hy nie kan speel nie, en tweedens omdat hy ’n voorsmakie gehad het van hoe dit is om in die Springbok-omgewing te wees.
“Ek weet die Springbok-afrigter (Rassie Erasmus) slaan hom baie hoog aan.”
De Klerk sê egter aan Netwerk24 dié teleurstelling is nou iets van die verlede.
Sy groot fokus is om nou weer sy beste spel vir die Bulle te lewer.
“As ek terugkyk op verlede seisoen, dink ek dit was een waarin ek baie as speler gegroei het.
“Ek het baie doelwitte bereik wat ek voor verlede seisoen vir myself gestel het. Dit is goed wat die meeste mense nie noodwendig in my spel sal oplet nie en ek voel ek het regtig baie gegroei.
“Die besering wat ek opgedoen het, was natuurlik vir baie redes teleurstellend,” voeg hy by. “Ek het dit so baie geniet om gereeld vir die Bulle ’n bydrae op die speelveld te maak en ek het in daardie stadium van my beste rugby tot nog toe gespeel. Ewe skielik kon ek nie meer saam met die manne jol nie.”
Glo hy sy besering het hom ’n Bok-kans gekos?
“Kyk, ek droom al van kinderdae af daarvan om ’n Springbok te word. Niemand kan egter die toekoms voorspel nie,” sê De Klerk.
Ofskoon hy hoofsaaklik deur die Bulle op vleuel ingespan word, is De Klerk vasbeslote om dié seisoen sy veelsydigheid as agterspeler te bewys.
Hy het ook al reeds per toeval daardie geleentheid gekry in die Bulle se VRK-wedstryd teen Munster.
De Klerk moes in die tweede helfte na buitesenter skuif toe Stravino Jacobs, wat op binnesenter uitgedraf het, die veld weens ’n besering moes verlaat.
Die buitesenter Stedman Gans het na binnesenter geskuif en De Klerk (regtervleuel) moes die buitesenter-posisie beman.
Hoewel die Bulle dié wedstryd met 22-26 verloor het, het De Klerk hom goed van sy taak gekwyt en sien hy uit om meer kanse in die middelveld te kry.
“Ek het nou die meeste van my rugby vir die Bulle as vleuel gespeel en voel heel gemaklik in dié rol,” sê hy. “Coach Neil (de Bruin) en coach Ackers daag my egter gereeld uit om my vaardighede as ’n buitesenter op te skerp en sal my altyd in oefeninge die kans gee om daar te oefen.
“Dit is ’n rol waar ek beslis voel ek ook waarde kan toevoeg en ek poog maar om altyd gereed te wees vir die dag wanneer hulle my gaan vra om in daardie posisie uit te draf.”




















