Die bekroonde rolprentvervaardiger en aktrise praat vir die eerste keer oor haar afskeid van haar man, die woordpaljas Chris Barnard. Willemien Brümmer het by haar in Onrus gaan kuier.
‘Voor my in ’n mispel kras drie kraaie; my dae verdwyn in stiltes soos kwartels in lang gras.”
Daar’s ’n byna gewyde atmosfeer aan die etenstafel terwyl die bekroonde rolprentvervaardiger en aktrise Katinka Heyns voorlees uit D.J. Opperman se “Vakansiebrief”. Langs die gedig het sy in haar krullerige handskrif geskryf: “Chris. Des ’15 Wilgers”.
Haar diep stem kraak en daardie dromerige blou oë, so wispelturig soos die see, loop oor. “Ek moes dit gewéét het; dat hy geweet het dat hy op pad is, maar nie een van ons wou dit weet nie.”
Sy praat oor die man met wie sy ’n heilige kontrak gehad het en met wie sy vir 37 jaar getroud was: Die bekroonde skrywer, gesinsman en boer Chris Barnard, wat op 28 Desember 2015 in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria gesterf het. Die woordpaljas wat vir haar die draaiboeke geskryf het vir onsterflike rolprente soos Fiela se kind, Die storie van Klara Viljee, Paljas en Die wonderwerker.
Dit was die laaste gedig wat sy vir hom voorgelees het. Dié keer toe hy gesê het hy soek Afrika, hy soek Opperman.
Sy praat nie gewoonlik oor sy dood nie, maar vandag, hier, in die huis wat sy en Chris 33 jaar gelede in Onrus gekoop het, maak sy haar hart oop.
Die witgekalkte huis lyk soos ’n rolprentstel met sy blou dak, magiese skilderye en herhalende temas soos perde en vlinders, voëls en engele. Byna alles hier is ’n mistieke blou, met fluisteringe van ’n vergange era: Haar boesemvriend Jan Rabie se poel ’n klipgooi van die diepblou tuinhek, die teekoppies van die fynste porselein. Die boekrak wat haar oupa Frans gemaak het, is volgepak met boeke wat Chris geskryf het.
In die TV-kamer die foto’s met herinneringe aan ’n ryk lewe: Chris saam met mede-Sestigers soos Jan Rabie, Etienne Leroux en André P. Brink; haar en Chris se seun, Simon (35), en Reghard (44, uit haar huwelik met die rolprentvervaardiger Koos Roets).
Op nog ’n foto is ’n stralende Katinka langs Chris met haar ruiker van wit magrietjies. Die datum: 9 Oktober 1978.
Net die vorige dag het ’n vriendin, die kunstenaar Renée le Roux, uit die bloute voorgestel dat hulle moet trou. Katinka was toe pas geskei van Koos, en Chris van sy eerste vrou, Anette, by wie hy drie seuns het (Johan, Stephan en Tian). Katinka praat soos ’n stoomtrein, asof sy bang is om stil te hou tussen stasies.
“Chris het altyd gesê ek en Cobus Rossouw (veteraanakteur) is die enigste mense wat hy ken wat hulleself drie keer in een sin in die rede kan val. Ek het dit nou pas gedoen. Toe bel sy (Renée) vir Izak de Villiers (predikant, skrywer en redakteur) en sy sê: ‘Hoor hier, Izak, wat doen jy môre? Want ek het twee vriende hier en hulle oorweeg dit ernstig om te trou, maar ek bel jou oor ’n halfuur terug. Is jy beskikbaar? Hoe laat sal ons sê? Drie-uur?’”
Uit hierdie rolspel is dit duidelik dat Katinka op haar dag ’n formidabele aktrise was. “Chris kyk met sulke verstarde oë na my en hy’s blou om die kiewe en hy sê: ‘Ek weet nie of . . . is dit nie bietjie gou nie?’
“Ek sê toe: ‘Maar ons kan saambly vir ewig of ons kan saambly vir ’n jaar en dán trou, maar hoekom trou ons nie net en kry dit verby nie?’”
Haar katoenhemp is net so blou soos haar oë. “Daar was nie blomme en konserte nie, die orrel het nie gespeel nie, dis doodstil en dis net daai oomblik van oorgawe. Dit was net so suiwer, so spesiaal.”
Sy en Chris het hul laaste troudagherdenking, voordat hy siek geword het, saam in Onrus deurgebring in die huis wat hy “Hier en daar” gedoop het. Hy was in die laaste jare van sy lewe die meeste van die tyd “daar”, in sy huis in ’nveiligheidskompleks net buite Nelspruit waar hy gebore is. Hy’t soontoe getrek nadat hy in September 2012 op sy Laeveldplaas, Thulani, aangeval is.
Katinka, die watermens, was meestal “hier” in Onrus. “Chris het nie daarvan gehou om te swem nie en hy’t gesê die see raas vir hom te veel. Ek het ’n ding met water. Dis ’n groot tema in my lewe soos wat bome Chris se tema was.”
Sy skep asem. “Dit was deel van my verjaardaggeskenk wat die 20ste September is dat hy hiernatoe sou kom en om dan hier te bly tot ons troudag as ons kon, as ons nie moes werk nie. Toe het hy vir my so ’n mooi kaartjie geskryf: ‘Lief . . . Kom ons hou maar uit tot die einde. Baie lief vir jou, Chris.’”
Om haar nek is ’n soort gebedsnoer uit Indië met kleurvolle klein diertjies, ’n geskenk van ’n dierbare vriendin wat nou op haar sterfbed is. Toe ons ingekom het, het ’n requiem gespeel.
“Dit kan vreeslik phoney klink, maar ek voel Chris tog aan. Nou minder as aan die begin moet ek tog sê. Dis asof daar nou meer van ’n gerustheid is. Ek het baie van hom gedroom, Simon ook.”
Sy vertel van die droom wat sy seker 15 jaar voordat hy oorlede is gekry het: Chris staan voor ’n enorme gietysterhek en tik met sy regterhand op sy horlosie asof hy vir haar wil wys sy’s weer laat.
Sy kry haarself nie so ver om op te staan nie. “Hy het weer getik op sy horlosie en toe gaan die hekke stadig oop. Net toe kom Tobie Cronjé (teenoor wie sy onder meer gespeel het in die gewilde TV-reeks Willem) en sit langs my. Die volgende oomblik lê daar ’n hoop 35 mm-filmraampies voor my. Chris het deur die hek gestap en omgedraai.
“Tobie het die raampies opgehou en my daarna laat kyk. En elke keer wat hy ’n rolletjie neersit en die volgende een optel, was Chris ’n entjie verder van ons af. Nog raampies en nóg, totdat ek Chris nie meer kon sien nie. Dis ’n ver ent gewees. Chris het klein geword in die prentjie. Ek het my kop so teen Tobie se skouer gesit en dit was so gerusstellend, hierdie skouer van hom, en daai gevoel sal ek nooit vergeet nie.”
Sy kyk op. “Ek kan nogal meer daarvan vertolk as wat ek noodwendig wil. Ek weet net die droom was mooi. Dit was sag. Ek het nou onlangs besef Tobie is ’n tussenganger tussen wêrelde.”
Buite steek die reënwolke op. Ons praat oor Chris se laaste sewe weke nadat sy regterbeen geamputeer moes word weens ’n bloedklont. Sy en Simon was die hele tyd aan sy sy in die waakeenheid by die Wilgers. Sy’t in en uit gehardloop om vir hom te sê wat is die kriekettelling.
Sy bly ’n oomblik stil sodat jy net die see se geruis hoor. “Daar was iets baie poëties daai laaste sewe weke tussen ons. Gesprekke wat ons gehad het, oomblikke wat ons gehad het. Net die manier wat hy my hand vashou en dit druk en na my kyk. Vir een keer in my lewe het ek nie gepraat nie. Ek het nie gebabbel nie, ek het net gesit.”
Op Kersdag neem sy en Simon vir hom kreef en ’n klein botteltjie wyn. Simon vra vir sy pa of hy ’n slukkie van sy Coke wil hê. “Toe sê hy net ja, en sy laaste Kersfeesmaaltyd, laaste ordentlike maaltyd, is toe kreef en Coke, jy weet? Toe dink ek dis soos iets wat hy sou geskryf het.”
Die skrif is aan die muur toe Chris twee keer infeksies kry in die hospitaal en ’n suurstofmasker moet kry. Sy organe begin mettertyd ingee. Die nag van 27 Desember kry hy baie koud.
“Ek wou hom nie los nie en hulle het net gesê ek moet gaan, ek moet gaan slaap. Die oggend toe haal hy net die maskers so half af en hy sê vir my: ‘My liggaam is besig om toe te maak.’ ”
Sy kyk af na haar hande met die eenvoudige trouring aan haar linkervinger.
“Sy liggaam het net stadig begin letterlik afsluit. En die hart is laaste, want die hart pomp natuurlik om te probeer om al hierdie werkinge aan die gang te hou.
“Sy niere het nie meer ordentlik gefunksioneer nie; sy longe het nie meer ordentlik gefunksioneer nie, so sy hart het probeer, en dis maar lyk my die ritueel hoe dit gebeur teen die einde.”
Dié nag het hy gewys sy moet sy suurstofmasker afhaal en toe praat hy vir die laaste keer: “Sluit jou deure”.
Sag vertel sy van die plaasaanval op Thulani. “Ek glo hy het ná die plaasaanval in ’n depressie verval.
Chris is gesleep van een vertrek na ’n ander, plastieksak oor sy kop, hy’s geskop en geklap . . . en hy het nie regtig daaroor gepraat nie, hy kon nie daaroor skryf nie.”
Skuins voor drie die oggend van 28 Desember lui die foon en iemand van die hospitaal sê: “Please, Mrs. Barnard, you must come immediately, your husband stopped breathing.”
Sy begin hardop bid en Simon ry met hulle na die hospitaal. Deur ’n gordyn wat op ’n skrefie oop is sien hulle hoe ’n groot verpleegster probeer om Chris se hart weer aan die klop te kry.
Haar stem is vol heimwee. “Ons het ’n klein intieme begrafnis in Johannesburg gehad en ons het ’n gedenkdiens hier gehad waar van die skrywers gekom het wat baie lief was vir Chris en ons het ’n waterbessieboom hier geplant. Die idee was dat almal ’n beker water gooi uit my ouma se houtbalie.”
Met die eerste begrafnis sê sy nie ’n woord nie. Op die gedenkdiens sê sy skaars vier sinne, toe val daar ’n motreëntjie.
Sy lag. “Ek dink hy het besluit nee, hier gaan ek haar nou regtig net stilkry en ek gaan nou maar my eie boompie water gee, want sy gaan so lank praat dat hierdie mense nooit by my boompie gaan uitkom nie.”
Die vier honde blaf voor by die tuinhekkie: Willempie, die Duitse pointer en Stella, Chris se rifrug. Die twee corgi’s, Tiekie en Tango, kom uitasem na haar aangedraf.
“Ek besef nou dat vir dié wat te seer is, werk die idee van ’n viering ná die dood nie regtig nie. Veral ook vir die kinders. Mens is te oorbluf en te verbysterd. Ag, hierdie jaar as Chris verjaar (hy sou op 15 Julie 79 geword het), wil ek graag ’n paar mense nooi dat ons dan lekker saam eet en lekker saam wyn drink, en dalk wil iemand iets lees uit hierdie storie of daai. Nóú eers, ná twee en ’n half jaar, voel ek gereed om so iets te doen.”
Tot dusver het sy die heeltyd beweeg tussen ontkenning en pyn. “Soveel van Chris is teruggespieël deur die karakters wat hy geskep het en dit wat hy geskryf het, dat ek verstrengel geraak het. As dit nie was vir die see en my paar goeie vriende en my twee kinders nie, sou ek verdrink het.”
Sy vertel van die eerste keer toe sy gehuil het ná Chris se dood. Dit was presies ’n jaar ná daardie Desemberoggend toe sy so hulpeloos moes toekyk hoe hy groet. Sy en Simon het oorgeslaap by hul goeie vriende, die Le Rouxs van die plaas Doornkraal aan die voet van die Swartberge. Soggens het sy die houtrame van die historiese plaashuis oopgeskuif en twee oggende ná mekaar het ’n swaeltjie ingevlieg en kom sit op een van die lampe. Die derde oggend, op 28 Desember, het twee swaeltjies ingevlieg en sy het besluit dié keer gaan sy geen foto’s neem nie. Toe die swaeltjies uitvlieg, kyk sy by die venster uit en sy sien die ou plaasmuur, die gereedskap in die agtergrond en die twee sipresse wat lyk soos iets uit ’n Wendy Malan-skildery.
“Hier sit die twee swaeltjies. Dit het net iets aan my gedoen, en toe het ek aangetrek en net gedink hoe gaan ek hierdie dag omkry? Toe gaan ek na Celia le Roux by wie ek gebly het se sitkamer en ek trek ’n boek uit sonder om eers te kyk en ek maak hom oop en dáár staan die titel ‘Trekswaels’ deur Chris Barnard en ’n foto van twee swaeltjies wat daar sit.”
Sy vertel sy en Chris het destyds spesiaal ’n besoek gebring aan Positano langs die kus van Amalfi, want Chris se essay “Die Swaeltjies van Positano” was die eerste storie waaroor sy met hom gepraat het.
“Die swaeltjie-tema was eintlik van die begin af daar. En aan die einde van ‘Trekswaels’ skryf hy: ‘In myle gemeet, is die wêreld skrikwekkend groot – hoe groot presies sal jy selfs ná ’n voetreis oor albei pole nie mooi besef nie. Van hart tot hart gemeet, is dieselfde wêreld ’n baie klein en vertroude plattelandse dorp.”
Sy staan op en lig haar hande, asof sy wil wegdryf oor die see. “Daai swaeltjies was letterlik soos ’n duidelike, helder boodskap, en dít op sy sterfdag. Nou hoe vertolk jy dit?”
IN RAPPORT IN 2016
Hul nuwe fliek het Katinka Heyns en haar seun, Simon, gedwing om hul seer te konfronteer oor die dood van die skrywer Chris Barnard, Katinka se man enSimon se pa.
Barnard is op 28 Desember aan ’n hartaanval dood.
Die fliek, Die rebellie van Lafras Verwey, is gegrond op ’n radiodrama wat Chris in 1971 geskryf het. Simon het dit met Chris se hulp in ’n draaiboek verwerk en het die fliek geregisseer.
Katinka en Genevieve Hofmeyr was die vervaardigers.
“Dit was maar moeilik. My pa se dood het my baie geraak.
“Hy was my beste vriend en het goeie advies gegee. Soos die tyd verbygaan, raak dit amper half moeiliker. Met die maak van die fliek en nou met die redigering is dit asof ek die hele tyd sy woorde in my kop hoor.”
Katinka sê dit het hulle op ’n manier gedwing om aan te gaan.
“Die projek moes klaar en Simon moes sy eie visie uitdra. Dit het geweldige dissipline geverg en ons gehelp om nie in hopies te gaan lê nie,” sê Katinka.
“Ons kan nou begin met die volgende fase van die rouproses.”
Sy was vir ’n verandering nie regisseur nie en volgens haar was dit maar moeilik om stil te sit en na monitors te kyk. Maar sy wou Simon kreatiewe vryheid gee.
“ ’n Mens wil nie die hele tyd iemand hê wat oor jou skouer loer nie. Dit was natuurlik ’n risiko omdat hy nog nie so baie ervaring het nie, maar baie interessant om hom dop te hou en te sien hoe die fliek ontwikkel.
“Hy was van kleins af baie visueel ingestel en kon hom vreeslik inleef in ’n storie. En veral met die tegniese dinge weet hy weer baie meer as ek.”
Die fliek is ’n tragi-komedie. Die rol van die hoofkarakter, Lafras, word deur Tobie Cronjé vertolk. Hy werk in die staatsdiens, is nogal eksentriek en droom drome oor ’n beter toekoms vir almal: Hy is immers ’n sleutelfiguur in ’n broeiende revolusie . . .
“Omdat my pa gehelp het met die draaiboek, het ons baie tyd saam deurgebring voordat hy dood is.
“Dit was spesiaal en het ons verhouding verdiep. Ons het kante van mekaar leer ken wat ons nie voorheen geken het nie,” sê Simon.
Chris het baie gewerk met ironie en sy kortverhaalbundel Oulap se blou aan Simon opgedra.
Toevallig was Chris 32 jaar oud toe hy die aanvanklike storie geskryf het en Simon ook 32 toe hy die teks in 2014 herskryf het vir die draaiboek.
“My pa het my (in die hospitaal) vertel dat hy ’n man by ’n straatkafee in Londen gesien het.
“Hy was aan die een kant halsstarrig en aan die ander kant pateties. Dit het hom interesseer en hy het besluit om ’n storie te skryf.”
• Die fliek begin op 7 April draai.











