Netwerk24 op soek na 'Ma van die Jaar'

Netwerk24 het 'n video-kompetisie begin wat die lof van die onbesonge heldinne in lesers se lewe besing: Ma's.

R40 000 se pryse is op die spel in die Ma van die jaar-kompetisie. Of die ma-figuur in jou lewe aan jou geboorte geskenk het of nie, elkeen het 'n ma en elkeen se ma het 'n storie. Netwerk24 wil lesers se ma-stories kyk en beleef.

"Hier aan die einde van Vrouemaand is dit vir ons opwindend om 'n kompetisie af te skop wat hulde bring aan van die belangrikste mense in ons samelewing - die ware BBP's!," sê Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24.

" 'n Ma is die een wat jou die eerste van liefde leer, wat jou veilig hou, jou leer hoe om vir ander om te gee en jouself te gedra, wat jou wys en vertel wat reg en verkeerd is. Soms is 'n biologiese ma afwesig, maar is daar 'n ander ma-figuur wat hierdie rol vervul.

Ons wil videostories sien en hoor wat ons harte warm laat klop. Dit hoef nie grootse verhale te wees nie; dis juis ook die klein dingetjies wat 'n ma spesiaal maak.

—  Henriëtte Loubser, redakteur van Netwerk24

"Ons wil videostories sien en hoor wat ons harte warm laat klop. Dit hoef nie grootse verhale te wees nie; dis juis ook die klein dingetjies wat 'n ma spesiaal maak. Dalk maak sy jou lewe lekker, sommer net omdat sy 'n bobaas-bakster is of oorloop van sorgsaamheid. Of sy is 'n voorvatter in die gemeenskap of maak opofferings om 'n siek kind of ouer te versorg."

Maryke Cumpsty, die projek-koördineerder, sê die organiseerders het dit so eenvoudig moontlik gehou vir lesers om in te skryf.

"Ons maak dit maklik. Al wat jy hoef te doen is om jou video op jou sosialemedia-profiel te laai. Plaas dit deur Netwerk24 te tag met @netwerk24 en voeg die hutsmerke #Netwerk24 en #Mavandiejaar by.

"Video het in die digitale era 'n gewilde manier geword om stories te vertel en kan emosie baie treffend uitbeeld." sê Cumpsty.

Inskrywings kan op Facebook, Instagram en Twitter geplaas word, of per Whatsapp gestuur word na 072 970 1581.

Al wat jy hoef te doen is om jou video op jou sosialemedia-profiel te laai. Plaas dit deur Netwerk24 te tag met @netwerk24 en voeg die hutsmerke #Netwerk24 en #Mavandiejaar by.

—  Maryke Cumpsty, die projek-koördineerder

Jou video het boonop 'n kans om op TV vertoon te word. VIA (kanaal 147 op DStv) gaan deurlopend 'n keur van die beste inskrywings uitsaai, asook die wenners se video's.

Die video's kan op selfone verfilm word en hoef net tussen 60 en 90 sekondes lank te wees. Dit moet video-vertellings bevat van wie benoem word en waarom.

Loubser sê wanneer daar wenners gekies word, gaan die paneel van beoordelaars kyk na hoe boeiend en visueel kreatief die inskrywings is. "Ons gaan ook kyk na video's wat baie gedeel en ge-like is," sê sy.

"Die 3,5 miljoen kyke (views) wat Netwerk24 se videokanaal sedert Januarie vanjaar gekry het, sê vir ons ons lesers is mal oor video," sê Le Roux Schoeman, Netwerk24 se multimediahoof.

Ons soek nie die volgende Steven Spielberg nie, ons soek net 'n opregte storieverteller.

—  Le Roux Schoeman, Netwerk24 se multimediahoof

Netwerk24 ontvang ook gereeld lesersvideo's oor die weer, verkeer en troeteldiere. "Ons weet ons lesers is al klaar aan't video's maak, maar dié keer wil ons sien hoe kreatief hulle kan raak," sê Schoeman.

Dit gaan egter nie oor die tegniese aspekte van rolprentmakery nie, maar eerder oor oorspronklikheid.

"Ons soek nie die volgende Steven Spielberg nie, ons soek net 'n opregte storieverteller."

Inskrywings sluit op 17 September 2017 om middernag.

* Klik hier vir meer inligting oor die kompetisie en hou ook VIA (kanaal 147 op DStv) dop.

Nadine Theron

SPELETJIES VANDAG

CTA