Jolindi van der Merwe was die algehele wenner in verlede jaar se wedstryd en ons het haar hele huis in die April 2022-uitgawe gewys. Indien jy dit misgeloop het, kyk aanlyn by Netwerk24.com/tuis.
Hoogste punte én 'n voorblad?Sowaar!
Vanjaar se algehele wenner in die gewilde Rookie Stylist-kompetisie in vennootskap met Mr Price Home gaan nie net 'n Mr Price Home-bewys ter waarde van R15000 in die sak steek nie, maar ook 'n professionele fotosessie deur die Tuis-span kry as stilis van 'n regte, egte voorblad vir Suid-Afrika se topverkoper in die dekor- en tuintydskrifmark.
Nie te versmaai nie, nè?
Sedert ons eerste Rookie Stylist-kompetisie in 2019 het duisende trotse huiseienaars en Mr Price Home-klante wat Tuis lees, koers gekies na ‘the Gram' om hul ruimtes met ander Suid-Afrikaanse dekorentoesiaste te deel. Maar nou, in jaar vier, het ons besluit dis tyd dat ons die skroewe so 'n bietjie aandraai!
Dis voor die hand liggend dat ons 'n passie het vir alles wat mooi is en graag die maniere waarop Suid-Afrikaners hul ruimtes mooimaak, vier - net soos die span by Mr Price Home.
Elke week kan een gelukkige deelnemer 'n Mr Price Home-koopbewys ter waarde van R2000 wen; die uiteindelike wenner en Rookie Stylist vir 2022 kry 'n R15000-koopbewys van Mr Price Home waarmee hulle kan koop net wat hul hart begeer. Die Tuis-span sal die weeklikse en algehele wenner aanwys. So, komaan, wys vir ons wat in jou steek!
Só WERK DIT
1 Neem met jou selfoon 'n foto van jou gunstelingruimte in jou huis (gebruik natuurlike lig vir die beste resultate). Jy kan 'n nabyskoot neem of effens terugstaan vir 'n wyehoekfoto. Kies 'n hele vertrek, 'n stoep, fokusmuur, rak of bed - enigiets, solank dit mooi is en na jou smaak gestileer is.
2 Laai die foto op jou Instagram-rekening. Indien jy nie 'n rekening het nie, skep een deur die app in die Apple App Store of by Google Play af te laai.
3 Skryf 'n kort byskrif; sluit die hutswoord #mrpricehomerookiestylist2022 in. Merk ook @mrp_home en @tuishomemag. So maklik soos dit! Die kompetisie is oop van 25 April tot 19 Junie 2022.











