1. Gooi 'n hand vol kalk of 60 ml (4 e) koeksoda by 18 liter seewater en laat perlemoen 30 minute lank in die skulp daarin lê om die slymerigheid op te los.
2. Sny die vleis met 'n skerp mes uit die skulp deur die mes tot onder in die skulp te druk en die perlemoen uit te lig. Begin aan die kant verste weg van die ry klein gaatjies in die skulp. Sny die binnegoed aan die buiterand weg en sny die baard af. Laat die perlemoene in asynwater (125 ml [½ k] asyn op 6 liter [24 k] water) lê sodra hulle uit die skulp gehaal is tot hulle skoongemaak word. Skrop die vleis met 'n skoon skropborsel, draadborsel of draadskuurder totdat dit spierwit en skoon is.
3. Kap die perlemoen met 'n vleishamer tot sag en sit dit heel in 'n drukkastrol.
4. Voeg 125 ml (½ k) water vir elke 5 of 6 perlemoene by. Geen sout word bygevoeg nie.
5. Stoom dit 12 minute by 100 kPa.
6. Haal dit uit en sny die vleis in blokkies of maal dit.
7. Plaas dit in 'n kastrol en voeg by: 250 ml (1 k) vars broodkrummels, 30 ml (2 e) botter, 1 ml (¼ t) gerasperde neutmuskaat, peper en suurlemoensap na smaak. Om die mengsel dikker te maak, kan 30 ml (2 e) geweekte sago of halfgaar rys ook bygevoeg word.
8. Stowe 20 minute oor stadige hitte.
9. Voeg 250 ml (1 k) melk, sout en peper na smaak by net voor dit opgedien word, of klits 1 eier in 'n mengbak en skep die mengsel daarby. Meng goed en verhit dit sonder om weer te kook. Fyngekapte, gebraaide sampioene kan bygeroer word.
10. Sit voor met rys.
Let wel: hoe varser die perlemoen berei kan word, hoe smaakliker.
Wenk
• Maak perlemoen skoon, kap tot sag, soos hierbo beskryf, en sny in dun skyfies. Braai in 'n warm pan, geur na smaak en sit voor. Die perlemoenskyfies kan ook eers in meel, geklitste eier en droë broodkrummels gerol en dan gebraai word.
Klik en koop die boek
* TAKEALOT








