Welstand

Kry jy paniekaanvalle? Kry dit só onder beheer

Paniekaanvalle is erg, maar met die regte hulp kan jy leer om dit te beheer.
Paniekaanvalle is erg, maar met die regte hulp kan jy leer om dit te beheer. (Gallo Images/Getty Images)

Almal raak soms bang of angstig, dan keer die lewe weer terug na normaal, maar by sommige mense lei dit tot ’n paniekaanval wat kan voel asof jy ’n hartaanval kry en doodgaan. Dis egter iets wat onder beheer gebring kan word – hier is wat jy kan doen.

Die eerste tekens dat sy paniekaanvalle kry was intense vrees, kortasem wees, en ’n gevoel dat sy beheer oor haar lewe verloor. Só vertel Juanita* (33), ’n ma van drie van Kaapstad.

Dié simptome het haar daaglikse lewe begin beïnvloed en veroorsaak dat sy daaglikse take probeer vermy het. “Ek wou nie meer ver van die huis af ry nie; ek het die highway vermy, en ek kon ook nie groot groepe mense handle nie as gevolg van die stimulasie en die vrees om voor ander paniekbevange te raak,” vertel sy.

“Dit was uitmergelend, het my baie moeg gemaak, en was nie iets wat ek kon verduur sonder om hulp te kry nie. As ‘n ma van drie word daar op jou knoppie gedruk en ek wou nie my kinders in die steek laat nie.”

Juanita vertel toe sy haar simptome op die internet navors, het sy besef dis paniekaanvalle. Sy het by haar huisdokter gedraai, waar sy die nodige hulp en medikasie kon kry.

“My lewe het handomkeer verander met die regte medikasie en ’n paar leefstylveranderinge. Ek het ook vir ’n ruk sielkundige hulp gekry. Dis nie nodig om alleen en in stilte te ly nie – daar is hulp beskikbaar.”

Dikwels werk geselsterapie en medisyne saam die beste vir paniek.
Dikwels werk geselsterapie en medisyne saam die beste vir paniek. (Getty Images)

Paniekaanvalle vs. panieksteuring

’n Aanval is een episode van paniek, terwyl meer as een episode per maand of meer as een oor ’n langer tydperk op ’n panieksteuring dui, sê dr. David Rosenstein, ’n sielkundige van Kaapstad. Nie almal wat ’n paniekaanval kry, ontwikkel panieksteuring nie.

Volgens die Cleveland Clinic, ’n Amerikaanse akademiese mediese sentrum, is daar sekere stressors wat tot paniekaanvalle lei. Vir iemand met panieksteuring, daarteenoor, kan die aanvalle sonder waarskuwing gebeur en nie weens een spesifieke gebeurtenis nie.

Wat veroorsaak dit?

Die eerste aanval kan voorafgegaan word deur ’n traumatiese gebeurtenis, soos die dood van ’n geliefde of die eerste dag by ’n nuwe werk. Vir iemand met ’n vrees vir naalde kan die idee dat hulle moet gaan vir ’n bloedtoets tot ’n paniekaanval lei. Daar is ook mense vir wie die vrees vir ’n paniekaanval een kan veroorsaak.

Paniekaanvalle is oorerflik en word deur chemiese prosesse beïnvloed. As daar iemand in jou direkte bloedlyn is wat daarmee sukkel, is die kans vyf keer groter dat jy dit óók kan ontwikkel. Daar is sekere medikasie wat ook paniekaanvalle kan veroorsaak, en dit kan ook gebeur as gevolg van dwelms, te veel koffie, inspuitings by die tandarts, pille met kafeïen en norefedrien, en sekere maermaak- en malariamiddels.

Hoe om paniekaanvalle te behandel

Paniekaanvalle is erg, maar met die regte hulp kan jy leer om dit te beheer.

Medikasie en ander tipes behandeling werk goed om ’n angssteuring te behandel. Dit gebeur egter baie dat dié toestand misgekyk of dalk verkeerd gediagnoseer word.

As jy vermoed dat jy met angs sukkel, is die eerste stap om jou huisdokter te raadpleeg, sê Bradley R. Daniels, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg. Dié sal jou verwys na ’n sielkundige of psigiater.

Jy kan ook ’n vraelys oor angs/paniek by sadag.org invul. ’n Sielkundige help jou verstaan hoekom jy angstig is, terwyl ’n psigiater jou kan help met medisyne wat sal werk. Dikwels werk geselsterapie en medisyne saam die beste.

Daar is ook kognitiewe gedragsterapie. Dít leer jou hoe om te sien watter gedagtes die aanval veroorsaak en hoe om dit te stop. As niks anders werk nie, kan antidepressante help. Dit kan die aanvalle ná ses maande tot ’n jaar onder beheer bring.

As jy vermoed dat jy met angs sukkel, is die eerste stap om jou huisdokter te raadpleeg.

—  Bradley R. Daniels, Kliniese Sielkundige

Probeer ook dít

  • Sê vir jouself dit is ’n vals alarm en niks gaan met jou gebeur nie.
  • Hardloop of stap vinnig om die adrenalien uit te werk.
  • As jy bestuur, ry stadiger, maar moenie stop nie.
  • Haal stadiger asem.
  • Dink aan ’n plek waar jy kalm voel.
  • Luister na ’n song of dink aan ’n aangename herinnering.
  • Kyk na dinge rondom jou.
  • Tel van 20 af terug en dink aan ’n lekker oomblik by elke getal.
  • Dink aan ’n fliek wat jy gesien het of wat jy gaan eet.
  • Gee ’n groot gaap en strek.
  • As jy alleen is, maak ’n vuis en skree: “Los my uit! Jy gaan nie wen nie!”

Moet nooit dít vir ’n panieklyer sê nie

  • “Moenie jou kop oor kleinighede breek nie.”
  • “Ag, raak net kalm.”
  • “Doen dit net. Kom daaroor.”
  • “Ek raak ook soms gespanne.”
  • “Kom ons gaan drink ’n dop.”
  • “Het ek iets verkeerds gedoen?”

*Skuilnaam

Hier’s hulp

As jy of ’n geliefde ekstra ondersteuning met angs en panieksteurings benodig, kontak die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) by 011-234-4837, hul krisislyn by 0800-567-567 of hul 24-uur-hulplyn by 0800-456-789.