Nuus

Kweek jou eie kruie en laat dit só langer hou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Kruietuin bring geur, varsheid en trots, en hoewel dit floreer in kouer weer, neig dit om gou te verwelk as jy dit nie betyds opgebruik nie. Volg ons wenke om jou eie kruie te plant en jou oes langer en beter te benut.

Dit het nou selfs makliker geword om jou eie kruietuin te kweek danksy hierdie wenke. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Dit het nou selfs makliker geword om jou eie kruietuin te kweek danksy hierdie wenke. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Tiemie

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié geharde, meerjarige kruid is maklik om te kweek. Dit is teen ryp bestand, maar aard ook in droë toestande. Waterslim tiemie kan goed vaar in potte, as rankende kruid of as grondbedekking in 'n tuin. Party variëteite bly deur die winter groen en vorm pienk of ligpers, geurige blomme. Plant dit op 'n plek wat volop son kry en sorg dat die grond sanderig en goed gedreineer is. Voed sowat een keer per maand met 'n vloeibare kunsmis en pluk blare en lote gereeld af om groei aan te moedig.

Mint

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié geharde kruid is maklik om te kweek en sal floreer in grond met volop kompos wat vog vir die wortels sal hou terwyl die plant soveel moontlik son kry. Mint vaar goed of dit buite onder 'n afdak is, of in 'n pot op jou vensterbank. Dit moet gereeld met 'n organiese kunsmis gevoed word en sal deur die winter floreer as dit binne gehou word.

Dhanya

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Hierdie waterliewende kruid groei maklik, maar hou nie van ryp nie; hou dit dus in die kouer maande binne op 'n plek wat baie natuurlike lig kry. Dhanya is sensitief vir die son, en in die somer waardeer dié plant namiddagkoelte. Hulle moet in 'n diep houer geplant word om vir hul lang wortels voorsiening te maak en hulle is geneig om woes te groei. Die pot moet goeie dreinering hê en grond wat liggies met kompos behandel is. Vir die beste groei moet die plant nie te veel water kry nadat dit gevestig is nie - hulle hou nie van klam toestande nie. Maak seker daar's geen onkruid nie.

Origanum

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié waterslim, meerjarige plant is gehard in kouer maande, mits dit goed gewortel is, 'n deklaag het, en teen die wind beskerm word - ideaal gesproke binnenshuis. Sit dit op 'n sonnige, beskutte plek. Dit sal 'n lieflike heining vorm, maar vaar ook goed in 'n pot in grond wat goed gedreineer is. Hoe meer jy die blare oes, hoe beter groei dit.

Rosemary

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Geharde en immergroen roosmaryn maak 'n wonderlike winterstruik of heining uit, veral die variëteite wat teen ryp bestand is. Dié kruid is gelukkig wanneer dit meestal teen wind beskut, maar in die son is. Maar dit sal op amper enige plek groei. Dit geniet grond met goeie dreinering en hou nie daarvan om te veel natgemaak te word nie. As jy dit in 'n pot plant, sorg dat dit genoeg ruimte het om wild te groei en voed dit in die lente met 'n kunsmis met seewier as sy basis.

Pietersielie

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Pietersielie het lang wortels en vaar goed in tuingrond of in grond met volop kompos in potte wat minstens 30 cm diep is. Die kruid hou van son en skaduwee en is lief vir water, veral terwyl dit gevestig raak. Oes pietersielie van sy buitepunte af - nie direk van die middel van die plant af nie. Dít sal die plant langer laat blare vorm. As jou plant geel raak, is dit waarskynlik dors of ondervoed. Stel dít met water of kunsmis reg.

Nog wenke vir kruie kweek

• Verleng jou kruieplante se leeftyd deur te keer dat dit saad vorm. Só gaan al die plant se energie in die groei van die blare in. Pluk of snoei blomme af wanneer dit begin vorm, om die lewensiklus van die plant te verleng.

• Vra by 'n kwekery raad voor jy kruie koop om te kweek. Variëteite wissel volgens die toestande wat dit verkies.

• Kruie het in die winter minstens vier uur son per dag nodig. Jy kan die kruie bedags buite hou en dit saans inbring of sorg dat dit teen die strawwe elemente beskut is. Hou kruie uit 'n koue trek, soos naby 'n oop deur of venster.

• Moet kruie nooit te veel water gee nie. Een keer per week is die beste. Moenie klippe of gruis onder in die pot sit nie. Dit bevorder nie dreinering nie en het die teenoorgestelde uitwerking.

• Dreinering is baie belangrik by vars kruie. Die wortels moenie in nat grond staan nie, maar dit moet ook vog behou sodat die plant tot voedingstowwe toegang het. Verbeter dreinering deur organiese materiaal soos kompos, veenmos (peat moss) en gekomposteerde mis by te voeg. As jy kruie in 'n houer plant, maak seker dit het minstens een gat aan die onderkant.

• Die potte waarin kruie verkoop word, is nie groot genoeg om groei te handhaaf nie. Plant dit eerder uit in potte met 'n deursnit van 18-20 cm of groter. Moenie jou kruie opbondel nie. Gee elkeen genoeg ruimte om welig te groei.

• Plant elke vier maande 'n nuwe sarsie om 'n standvastige voorraad te verseker.

• Verbeter die grond deur dit gereeld met kunsmis en kompos te behandel.

• Plante in houers moet gereeld voeding kry, want die voedingstowwe in die grond spoel weg wanneer dit gereeld natgemaak word. Jy kan elke seisoen organiese droë korrelkunsmis by die grond voeg, of organiese vloeibare plantkos een keer per maand vir sagte kruie en een keer elke drie maande vir harde kruie gebruik.

• Gee gevestigde kruie net water wanneer die boonste 2-3 cm van die grond droog voel, en maak dit dan deeglik nat.

Hoe lank leef kruie?

• Meerjarige kruie soos tiemie, rosemary, origanum en mint hou langer as een seisoen. Party meerjarige kruie moet ná elke groeiseisoen gelig, teruggesnoei en verdeel word. Ander, gewoonlik rosemary en lavender, kan ná 'n paar jaar houtagtig en onnet word en sal dan vervang moet word.

• Eenjarige kruie soos dhanya, basil (nie meerjarige basil nie) en dill het 'n kort lewensiklus. Dit vorm in een seisoen blare, blomme en saad voor dit doodgaan.

• Tweejarige kruie soos pietersielie en sage sal eers blare ontwikkel en dan in die tweede jaar blomme en saad ontwikkel voordat hulle lewensiklus verby is. As jy die blare nie gereeld genoeg pluk nie, sal party tweejarige plante 'n eenjarige plant word.

Vier planne met oorskietkruie

1. Beter in botter

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Kruiebotter is 'n maklike manier om jou kruie te bewaar. Dit kan weke lank in die vries- of yskas gehou word. Kap 'n paar van jou gunstelingkruie op en meng dit met botter wat by kamertemperatuur is. Probeer 'n kombinasie van 2 teelepels vars tiemieblare, 2 eetlepels vars pietersielie en 1 eetlepel chives. Vir ekstra geur kan jy twee fyngedrukte knoffelhuisies en 'n knippie sout en peper byvoeg. Sit die kruiebotter in cling wrap en skep dan 'n worsvorm. Vou die punte toe om dit te verseël en bêre dit in die yskas of vrieskas.

Gebruik dit só: Smeer oor hoender, steak of vark voor dit in die oond gaan, gebruik dit op groente, of in knoffelbrood, of roer dit deur pasta.

2. Sit dit in olie

Gegeurde olie maak bredies, braaigeregte en selfs sop ekstra lekker. Verwyder die blare van kruie soos tiemie, origanum, sage, rosemary of basil van hul stele, en breek in growwe stukke. Vul nou die holtes van 'n ysbakkie halfpad daarmee en gooi extra virgin olyfolie daarby. Bedek jou geurige olie-ysies met cling wrap en plaas in die vrieskas.

Wenk: Jy kan gekapte vars chillies saam met jou kruie voeg as jy van ekstra skop in jou kos hou.

3. Droog dit

Bind 'n paar takkies van jou gunsteling-kruie in bondels vas. Hang dit op 'n donker plek met goeie ventilasie in jou huis sodat dit goed kan uitdroog, anders groei daar muf. Laat hang die kruie tot dit droog is. Krummel dit dan in flesse met verseëlbare deksels voor jy dit bêre.

Wenk: Gebruik dit binne 'n maand of twee, voor die geur verslaan. Jy kan dit ook microwave op kombuispapier in sarsies van 1 minuut om dit te droog.

4. Perfekte pesto

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Vars kruie soos pietersielie, dhanya, chives en mint is perfek vir 'n eenvoudige, smaaklike pesto. Was 2 koppies kruie van jou keuse goed af om van enige grond of insekte ontslae te raak. Kap dit dan op. Sit dit in 'n food processor met 1 knoffelhuisie, 1 eetlepel gerasperde parmesaan en neute (soos almonds, pistachio-, pecan- of walnuts). Voeg nou ½ koppie olyfolie (of meer vir 'n loperiger tekstuur) by, en verwerk tot glad.

Wenk: As jy 'n neut-allergie het, gebruik sonneblomsade of pampoenpitte vir 'n effense bros tekstuur. Met net 'n paar eenvoudige stappe kan jy keer dat jou kruie mors, en boonop elke dag jou kookkuns 'n tikkie vars geur gee.

BRONNE: foodandnutrition.org, yuppiechef.com, reformationacres.com, eatingwell.com, eckards.co.za, food24.com, gardenandhome.co.za, gardeninginsouthafrica.co.za, gardenworld.co.za, growveg.co.za, news24.com, stodels.com, thegardener.co.za, Russell Davidson (Garden World)

Kim Van Reizig

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM