Goeie maniere kan vir jou kind deure oopmaak. Dié praktiese wenke kan help om dit te kweek.

In die vinnige wêreld waarin ons leef, en met skerms en sosiale media wat 'n groot deel van ons interaksies bepaal en beïnvloed, voel dit dalk soms soos iets uit 'n vergete era om vir kinders maniere te leer.
Kenners sê juis dis belangriker as ooit om kinders te leer om nie net asseblief en dankie te sê nie, maar hulle ook oor respek en grense te leer.
"My ma het altyd gesê jy maak nie jou kinders net vir jouself groot nie, maar moet in gedagte hou hulle moet eendag in die wêreld kan funksioneer," vertel Tanya*, 'n Kaapse ma van twee tieners.
"Vir my beteken dít om my kinders groot te maak met die bewus-wees van ander se gevoelens en menswees. Dis nie altyd maklik nie, maar om vir hulle maniere te leer is dalk die beste geskenk wat ek as ma vir hulle kan gee. Ek besef ook al hoe meer sodra hulle self dinge kan uitpluis, gaan jy in die moeilikheid wees as jy nie sélf die gedrag uitbeeld wat jy van hulle verwag nie. 'n Tiener will call you on that!" meen sy.
"Ek leer ook my kinders, soos die sêding lui, dat jy meer vlieë met heuning as met asyn lok. Be kind. Almal fight 'n battle waarvan jy niks weet nie. En die lewe se uitdagings gaan dalk net moeiliker wees as jy dit sonder maniere aanpak."
Kiara Adir, 'n kliniese sielkundige by die Cape Town Therapy Hub, vertel hoe jy prakties jou kind maniere kan leer.
Wanneer moet jy hulle begin leer?
Jy kan van babatyd af met jou kind begin gesels oor maniere. Hoe vroeër kinders sulke goed hoor, hoe vroeër sal hulle dit internaliseer. Dit help met hulle taalontwikkeling en ook sosiale interaksie. Jy kan byvoorbeeld terwyl jy vir jou baba 'n bottel maak, sê: "Kyk, ek maak nou die kas oop en haal jou bottel uit. Jy is seker lekker honger. Sê ‘asseblief, kan ek 'n bottel kry?'
"Dan kan jy, wanneer jy vir hulle die bottel gee, hulle vra om te sê: ‘Dankie vir die lekker melk, Mamma'?." Met sulke voorbeelde leer jy vroeg al jou baba om te kommunikeer.
Wat is effektiewe maniere om vir kinders maniere te leer?
Herhaling en volhou daarmee is belangrik vir vaslegging. Oor die algemeen laat dit kinders baie veilig voel wanneer ouers iets herhaal, omdat hulle dan kan voorspel wat gaan gebeur - dit maak herhaling die beste manier vir kinders om gedrag aan te leer.
Dis ook belangrik om hulle te prys wanneer hulle die gedrag wat jy wil sien, uitvoer. Almal, selfs volwassenes, hou daarvan om te hoor dat hulle goed gedoen het, so gee vir hulle 'n kompliment vir die gedrag wat jy graag wil sien. Wees versigtig vir die frase "wat is die magic word?" as dit kom by "asseblief" en "dankie" sê. Daar is baie kere wat jy sal moet nee sê vir iets, al vra jou kind hoe mooi. As jy dit laat voorkom asof asseblief en dankie 'n magical betekenis het, gaan kinders dink hulle kan enigiets met daardie woorde regkry.
Moet ouers die gebruik van ‘asseblief' en ‘dankie' by hul kinders afdwing?
Om kinders te dwing om sulke uitdrukkings te gebruik, kan jou kinders laat skaamkry. Omdat hulle nog die gedrag aanleer, is dit natuurlik vir hulle om nou en dan te vergeet.
In plaas van sê, "Hoe sê ‘n mens?", gebruik self die woorde wat jy wil hê hulle moet gebruik.
As iemand vir jou kind 'n geskenk gee, sê hardop dankie vir die geskenk. In die meeste gevalle sal jou kind dít wat jý doen, navolg. Onthou om "Mooi so" te sê nadat hulle dankie gesê het. Jy kan ook vir jou kind sê: "Dankie dat jy sulke mooi maniere het. Dis belangrik om dankie te sê wanneer iemand vir jou iets gee."
Of as jou kind by die huis vir jou vir nog lekkergoed vra en hulle sê asseblief, sê: "Dankie dat jy so mooi gevra het. Natuurlik kan jy nog kry."
Positiewe terugvoer is een van die beste maniere om te help dat kinders sulke sosiale vaardighede ‘n deel van hul menswees maak.
Wat van straf as hulle nie beleefd is?
Straf help nie veel om goeie sosiale vaardighede te ontwikkel nie. Dit lei tot skaamte, wat weer kan veroorsaak dat dit vir jou kind moeilik sal wees om 'n band met jou te bou.
Dis natuurlik om teleurgesteld en selfs kwaad te wees as jou kind ongeskik is, maar om hulle te straf omdat hulle nie dankie gesê het nie, kan hulle baie weerstandig maak in die toekoms.
As jou kind byvoorbeeld op 'n ongeskikte manier vra vir iets om te eet, kan jy hulle reghelp deur vir hulle die regte woorde en gedrag te wys. Hoe ouer jou kind word, hoe meer uitgebrei kan jou verduidelikings wees oor hoekom asseblief en dankie so belangrik is.
*Skuilnaam
Volg dié riglyne vir jou kind se ouderdom
• Onder die ouderdom van twee Fokus op asseblief en dankie. Gebruik self dié woorde sodat jou kinders dit kan navolg, of doen dit met behulp van rolspel. Dit vat tyd vir kinders om goeie tafelmaniere aan te leer, so jy kan dit 'n speletjie maak waar hulle vir jou hul borde en eetgerei moet aangee as hulle klaar is.
• Tussen twee en vyf jaar Soos wat hulle taal ontwikkel en kinders meer tyd deurbring saam met ander kinders en grootmense buite die familie, is dit 'n goeie tyd om te begin oefen aan die uitdrukkings wat hulle gebruik. Help hulle om ander te groet en hulself voor te stel, en om hallo en koebaai te sê as hulle die skool of 'n maatjie se huis verlaat. Op dié ouderdom kan jy ook daarop fokus om hulle te leer om te deel, soms beurte te maak, en hoe om sag teenoor ander te wees.
Dis ook 'n goeie ouderdom om met jou eie optrede vir hulle te wys dat ‘n mens iemand kans moet gee om klaar te praat en hulle nie in die rede moet val nie. Dit help ook met jou kind se luistervermoë.
• Ses jaar en ouer Op dié ouderdom moet jy die vaardighede waaraan jy reeds gewerk het, steeds herhaal sodat dit deel van jou kind se optrede raak. Jy kan vir hulle in meer detail verduidelik hoekom dit belangrik is om na ander te luister. Hulle doen ook gewoonlik nou meer sport, so dis 'n goeie manier om hulle te leer oor beurte maak en hoe om in 'n span saam te werk.
Dis ook die tyd om hulle te leer dis verkeerd om maatjies te terg. Vra jou kind: "Hoe sou jy voel as iemand vir jou lag?" Help hulle deur die antwoord werk, en leer hul















