Muf is nie net onaansienlik en moeilik om van ontslae te raak nie, dit hou ook gesondheidsgevare in. Raak só ontslae daarvan.

Die winter is gewoonlik sinoniem met muf, en al probeer jy wát, kry dit by tye die oorhand - veral ná erge reën. Die grootste probleem is egter die gesondheidsgevaar wat muf inhou.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie raam dat 100 000-plus mense jaarliks aan mufverwante siektes sterf. In Suid-Afrika is daar drie algemene soorte swamme: Aspergillus, Cladosporium en Stachybotrys, sê dr. Petra Smit van Mold Detection SA.
Aspergillus is baie algemeen binne en buite die huis, so jy asem dit basies daagliks in. Cladosporium groei ook binne en buite: buite op dooie plante, boomstompe en hout wat verweer, en binne op matte, gordyne, oortreksels en selfs muurpapier. Stachybotrys, oftewel swart muf, het eintlik ‘n swartgroen kleur en groei op goed soos veselbord, gipsbord en papier. Dié muf ontstaan waar daar vog is weens waterskade, lekkasies, kondensasie of vloede.
"Die simptome van siektes wat deur swart muf veroorsaak word, is soortgelyk aan dié van ander siektes soos verkoue, asma, sinusitis en psoriase. Die probleem is dat mufverwante siektes nie gesond raak met behulp van antibiotika of kortisoon nie," sê Petra. Sy verduidelik hoe muf jou kan siek maak en wat jy daaraan kan doen.
Wat is tekens van muf in my huis?
Let op na dié tekens:
• 'n Muwwerige, klam reuk. Sommige sê dit ruik soos nat sokkies of vrot hout.
• Probleme met vogtigheid.
• Dakke of pype wat lek.
• Kondensasie, veral soggens wanneer jy opstaan, en hoë humiditeit.
Wat veroorsaak dit?
• water wat lek
• swak ventilasie
• hoë humiditeit en kondensasie
• vloede
• boumateriale
• vog in die lug
Hoe maak dit jou siek?
Muf kan jou só infekteer:
• As jy daaraan raak.
• As jy dit inasem. Groot partikels infekteer die boonste deel van jou lugweg. Kleiner partikels infekteer die laer deel van jou longe en kan jou bloedstroom binnedring.
• As jy dit eet.
Watter simptome kan weens mufblootstelling ontstaan?
Alle tipes muf kan moontlik tot siektes lei, maar bittermin mense word regtig erg siek. Mense kan kopseer, asemhalingsnood, velirritasies (uitslae) en asma-simptome wat vererger, rapporteer.
Die volgende kan ook voorkom:
• 'n aanhoudende gehoes
• 'n toe of loperige neus
• sinusitis en asma wat vererger
• waterige en rooi oë
• babas kan longontstekingsimptome hê
• vergeetagtigheid
• moegheid
• 'n seer keel
Hoe keer ek dat muf groei?
Muf groei binne 48 uur, en versprei binne 72. Mufspore is natuurlik in die lug en kort net vog en organiese materiaal om te groei.
Petra beveel dít aan teen mufvorming:
• Beheer die humiditeit in jou huis.
• Verhoog die ventilasie in jou huis.
• Maak gereeld skoon en ontsmet jou huis.
• Maak lekplekke reg.
• Kry vir jou 'n dehumidifier.
Wenke vir self skoonmaak
Jy kan die volgende oplossing probeer om self ontslae te raak van muf:
Gebruik 'n droë mikrovesellap om eers liggies los muf van die oppervlak te verwyder. Meng dan gelyke dele asyn en water in 'n spuitbottel. Spuit dit op die oppervlak waaraan die muf kleef en wag 10 minute. Gebruik dan 'n spons of 'n skropborsel om dit in 'n sirkelvormige beweging te skrop. Was dit af met skoon water en vee met 'n klam lap af om enige oorblywende oplossing te verwyder. Maak seker dat die area wat jy skoongemaak het ten volle droog word. Dra 'n masker terwyl jy dit doen sodat jy nie die deeltjies inasem nie.
Kry PRO-Hulp wanneer . . .
Swart muf "sterf" nie, dit gaan in remissie. Dit wag op die regte geleentheid en begin weer van voor af groei. As die probleem te groot word, moet jy ‘n professionele persoon inkry om die muf te verwyder.
Besoek survivingmold.com vir meer inligting.
Ekstra bronne: Nih.gov en Marthastewart.com




















