Nuus

Inentings: Is jou keuse ’n wetlike risiko?

Ouers is vry om teen inenting te kies, maar die reg waarsku dat dié besluit wetlike en finansiële gevolge kan hê as dit ander in gevaar stel.
Ouers is vry om teen inenting te kies, maar die reg waarsku dat dié besluit wetlike en finansiële gevolge kan hê as dit ander in gevaar stel. (Foto: Adobe Firefly)

‘My kind, my keuse.’ Dis hoe sommige ouers voel as dit by inentings kom. Maar wat gebeur as daardie persoonlike keuse ’n bedreiging vir ’n kwesbare mens inhou of iemand ernstige skade laat ly?

Jy stap ná jou bondeltjie vreugde se geboorte weg met hul staatsuitgereikte Road to Health-boekie, en dis propvol nuttige inligting soos presies wanneer jou kind al hul inentings moet kry. Tog is daar geen wet in Suid-Afrika wat roetine-inenting verpligtend maak nie, maar dit beteken nie die keuse daarteen is sonder regsimplikasies nie.

Regsnavorsing dui daarop dat ouers wat onredelike mediese risiko’s namens hul kinders neem, wel in die beskuldigdebank kan draai vir deliktuele eise (dis ’n siviele regsaksie waar skadevergoeding geëis word) weens nalatigheid. Want wanneer ’n persoonlike oortuiging die lewe van ’n ander in gevaar stel, herinner die wet ons daaraan dat selfs ouerlike vryheid steeds gepaardgaan met ’n wetlike sorgplig teenoor die res van die gemeenskap.

Rhoda*, ’n Johannesburgse ma van ses kinders tussen sewe en 17 jaar oud, is grootgemaak om te glo dat inentings gevaarlik is en meer nadele as voordele inhou. “Ek en my man het in baie konserwatiewe gelowige gemeenskappe grootgeword en is van kleins af vertel dat ons nie dokters of die wetenskap kan vertrou nie.”

Daar is geen wet in Suid-Afrika wat roetine-inenting verpligtend maak nie, maar dit beteken nie die keuse daarteen is sonder regsimplikasies nie.
Daar is geen wet in Suid-Afrika wat roetine-inenting verpligtend maak nie, maar dit beteken nie die keuse daarteen is sonder regsimplikasies nie. (Foto: Gallo Images/Getty Images)

Hulle home-school al hul kinders en het hulle van die begin af op ’n “natuurlike manier” grootgemaak, en ook die alternatiewe roete geneem wanneer hulle wel sou siek word en medisyne benodig.

Tydens ’n buitelandse vakansie het haar negejarige by tye onophoudelik begin hoes. Omdat hy asmaties is, het ’n dokter voorgestel hy gebruik sy asmapompie meermale per dag tot hulle tuis is en by hul eie dokter kan uitkom. Terug by die huis het hy egter bloed begin hoes.

Hul dokter het aanvanklik gedink sy sinusse is rou as gevolg van al die gehoes, maar het dadelik toetse laat doen toe sy hoor hulle het nog nooit inentings gehad nie. Terwyl hulle vir die uitslae gewag het, moes die gesin in kwarantyn gaan.

“Die toetse het gekom. My seun het kinkhoes gehad. Wat so hartseer is, is dat ons byna niks hieromtrent kon doen nie: As die virus die asemhalingstelsel beskadig, veroorsaak dit die hoes, en teen die tyd dat dit kinkhoes is, help nie eens antibiotika nie. Kort hierna het my jongste óók begin hoes. Dit was verskriklik om hulle só te sien sukkel.” Die paartjie het hierna besluit om die gesin al die nodige inentings te laat kry.

Shané Dongers (34) van Pretoria het onlangs die ma van ’n babadogtertjie geword. Sy beplan om haar kind al die nodige inentings te laat kry. “Ek is as kind ingeënt en het nooit enige van die tipiese kindersiektes soos masels, die rotavirus of pampoentjies gehad nie, terwyl sommige van my maats wat nié ingeënt was nie, of wie se ouers hulle nie vir al die inentings geneem het nie, baie siek geword het.

“My oupagrootjie was as kind ook nie ingeëent nie en het polio gekry. Hy was bitter siek en my oupa-hulle moes maande lank onder kwarantyn leef. Ek wil beslis nie so ’n situasie hê nie. Boonop voel ek dis my ouerlike plig – al staan dit nêrens in wetgewing opgeskryf nie – om my kind deur inenting te beskerm.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beskou kinderinentings as ’n absoluut fundamentele, lewensreddende noodsaaklikheid.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beskou kinderinentings as ’n absoluut fundamentele, lewensreddende noodsaaklikheid. (Foto: Gallo Images/Getty Images)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beskou kinderinentings as ’n absoluut fundamentele, lewensreddende noodsaaklikheid. Inenting beskerm kinders van gevaarlike, voorkombare siektes soos polio, masels, kinkhoes, en tuberkulose, deur die immuunstelsel “te leer” hoe om infeksies veilig af te weer. Volgens WGO-syfers red inentings jaarliks miljoene lewens en bevorder dit onder meer kudde-immuniteit. Dít beskerm dan kinders en ander kwesbares wat as gevolg van ander siektetoestande nié ingeënt kan word nie.

Hoewel die keuse om nie jou kind te laat inent nie dikwels as ’n private reg beskou word, waarsku ontleders dat hierdie outonomie nie sonder grense is nie.

Die oomblik as ’n persoonlike besluit onredelike risiko’s vir die breër openbare gesondheid skep, dwing die reg stelselmatig ’n kompromie af. Dit laat jou met die vraag: Is ouers werklik gereed om die finansiële en wetlike koste te dra as hul keuse ’n ander kind se lewe kos?

Vry om te kies, maar . . .

Die blote keuse teen inenting word nie outomaties as ’n oortreding beskou nie.

Só sê dr. Liesl Hager van die Universiteit van Pretoria se privaatreg-departement. “Die reg trek nie ’n vaste lyn nie, maar hanteer die grens tussen ouerlike outonomie en openbare gesondheid as ’n voortdurende oefening in proporsionaliteit of ewewig tussen mededingende grondwetlike regte,” sê sy.

“In Suid-Afrika is regte nie absoluut nie; daar word gekyk na die breër konteks daarvan in die samelewing, wat beteken dat die uitoefening van een persoon se reg nie die fundamentele regte van ’n ander mag skend nie. Die reg beskerm ouerlike outonomie slegs tot op die punt waar dit onredelike risiko’s vir ander skep.

“Ouers is vry om te kies, maar hulle moet die sosiale en finansiële koste van hul keuse dra as dit ander se fundamentele regte op gesondheid en veiligheid skend,” sê Liesl.

Die blote keuse teen inenting word nie outomaties as ’n oortreding beskou nie, sê dr. Liesl Hager van die Universiteit van Pretoria se privaatreg-departement.
Die blote keuse teen inenting word nie outomaties as ’n oortreding beskou nie, sê dr. Liesl Hager van die Universiteit van Pretoria se privaatreg-departement. (Foto: Verskaf)

Dít beteken as ’n kind wat nie ingeënt is nie siek word en ’n ander persoon met hul siekte besmet, en daar kan bewys word die ouer se besluit om die kind nie te laat inent nie was onredelik en het direk skade veroorsaak, kan daardie ouer wetlik verantwoordelik gehou word.

Liesl sê in so ’n geval sal verskeie regte gebalanseer word. Soos die ouers se reg om besluite vir hul kinders te neem, die kind se reg op gesondheid en beskerming, en die breër publiek se reg om veilig te wees teen voorkombare siektes.

Sy waarsku egter dat, selfs al kan nalatigheid en ’n direkte skakel tussen die oordra van ’n siekte en skade aan iemand bewys word, sal dit ’n moeilike en ingewikkelde regskwessie wees. “Daar is sekere bewyslasvereistes (dis regsvereistes om die bestaan van ’n bepaalde feit in ’n hof te bewys) en struikelblokke wat moeilik sal wees om te oorkom. Maar in teorie is dit moontlik.”

Daar is tans geen nasionale wetgewing wat kinderinenting uitdruklik verplig nie, maar skole en kleuterskole volg spesifieke beleide wat die toelating van oningeënte kinders kan beperk.

—  Dr. Liesl Hager, privaatregkenner

Sy verduidelik ook dat die doel van so ’n siviele saak slegs is om die verlies wat deur die skade veroorsaak is, te herverdeel of te versprei; nie om mense bang te maak of te dwing om hul kinders te laat inent nie.

Daar is tans ook geen Suid-Afrikaanse saak wat dié kwessie direk aanspreek nie, en dit vra vir duideliker wetgewing oor kinderinentings, skooltoelating, vrystelling en die wetlike gevolge van nie-inenting, sê sy.

“Daar is tans geen nasionale wetgewing wat kinderinenting uitdruklik verplig nie, maar skole en kleuterskole volg spesifieke beleide wat die toelating van oningeënte kinders kan beperk om openbare gesondheid te beskerm. Die reg neig om die skool se veiligheidsbeleid en die gemeenskap se kollektiewe gesondheid voorop te stel, veral tydens uitbrake of pandemies.”

‘n Uiteensetting van die voorgestelde inentings

Met geboorte word hierdie inentings teen die volgende siektes toegedien:

  • Tuberkulose
  • Polio
  • Hepatitis B (slegs as die ma positief was vir hepatitis B-oppervlakantigeen tydens swangerskap)

Op 6 weke:

  • Orale polio (OPV1)
  • Rotavirus. Die tweede dosis hiervan word op 14 weke toegedien.
  • DTaP-IPV-Hib-HBV. Dis die eerste entstof teen witseerkeel, tetanus, kinkhoes, Haemophilus influenzae Tipe B (HIB) en hepatitis B (kombinasie). Die tweede en derde ronde van hierdie enstof word op 10 weke en 14 weke toegedien. Die eerste pneumokokkale entstof (PCV1) wat beskerm teen ernstige siektes soos longontsteking. Die tweede ronde word op 14 weke toegedien.

Op ses maande word die eerste entstof teen masels en Duitse masels toegedien.

Op 9 maande word die derde pneumokokkale entstof (PCV3) toegedien. In privaatpraktyke word die MCV1 of meningkokkale entstof ook toegedien.

Op 12 maande word die tweede masels-entstof gegee, en tussen 12 en 15 maande in privaatpraktyk is daar ook die volgende inentings: PCV4 (teen pneumokokke siekte), MMRV (masels, Duitse masels, pampoentjies, waterpokkies), en die hepatitis A-entstof.

Op 18 maande word die vierde entstof teen witseerkeel, polio, tetanus, kinkhoes, Haemophilus influenzae Tipe B (HIB) en hepatitis B (kombinasie) gegee. In privaatpraktyk word die tweede meningkokkale entstof (MCV2) gegee, asook die hepatitis A-booster. As die MCV nie gegee is in privaatpraktyk nie, is daar ’n geleentheid om dit toe te dien op die ouderdom van 2 jaar.

Op 6 jaar word booster-inentings teen tetanus en witseerkeel gegee.

LET WEL:

Die rotavirus-entstof moenie ná die ouderdom van 24 weke toegedien word nie. En die entstof teen masels en Duitse masels moenie saam met enige ander entstowwe toegedien word tensy die kind ouer as nege maande is nie.

*Skuilnaam

CTA