
Albert Troskie (79) is nie net in die Baai nie maar ook landwyd bekend as 'n kenner van klassieke musiek.
Troskie, wat volgende week sy 80ste verjaarsdag vier, staan steeds vir geen orrelis terug nie en sy meesleurende orrelspel word gereeld by klassiekemusiekuitvoerings en ook op die radio gehoor.
Hy is op 7 Oktober 1942 in Adelaide in die Oos-Kaap gebore en het in 1961 aan die Gill-Kollege in Somerset-Oos gematrikuleer.
"My liefde vir musiek het op skool met klavierlesse begin en deur elke Saterdagaand na U eie keuse te luister," vertel Troskie.

"Ná skool het ek BMus aan die Universiteit van Kaapstad studeer waar my entoesiasme vir die orrel deur my orreldosent, mnr. Roelof Temmingh, aangewakker is.
"Hy het later my skoonvader geword!"
Troskie het daarna verder studeer aan die gewese Universiteit van Port Elizabeth (UPE) (nou Nelson Mandela-Universiteit) en sy Orrelvoordraerslisensiate met lof aan Unisa en die Royal School of Church Music in Brittanje geslaag.
Met 'n orrelstudiebeurs het hy gevorderde opleiding in orrelspel en orrel-improvisasie by Cor Kee in Amsterdam ontvang.
In dié tyd hy het ook lesse in koorleiding by die beroemde koorleier Kurt Thomas geneem.
In Nederland en Duitsland het hy 'n diepgaande studie van orrelbou gemaak en het sedertdien verskeie pyporrels vir kerke ontwerp wat onder sy toesig gebou is.
Twee van sy ontwerpe is die pragtige orrel van die NG kerk Somerstrand wat die grootste meganiese kerkorrel in Suid-Afrika is - asook die indrukwekkende reuse-orrel van die Veremarksentrum wat die grootste orrelstruktuur in Suid-Afrika is.
Albei hierdie orrels is in Gqeberha.
Ná afloop van sy studie is hy as junior lektor in musiek aan die UPE aangestel.

Daarna was hy ook onderskeidelik lektor, senior lektor en later medeprofessor in musiekwetenskap aan Unisa.
As kerkorrelis en koorleier was hy in verskeie NG gemeentes in Suid-Afrika aktief. Troskie is ook die stigter van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging waarvan hy vir 20 jaar die voorsitter was.
Hy het ook as studieleier opgetree en was 'n orrel-eksaminator vir Unisa en 'n beoordelaar van Unisa se oorsese musiek-studiebeurs-, ATKV- en Applous-koorkompetisie en kunswedstryde.
Gelukkig vir Oos-Kaapse musiekliefhebbers het hy teruggekeer na die Baai as 'n professor in musiek aan die UPE waar hy onder meer die amptelike orrelis-begeleier van die Oos-Kaapse kinderkoor was.
Later het hy as hoof van die musiekdepartement van die universiteit 'n samewerkingsooreenkoms met die NG kerk Somerstrand bewerkstellig.

Dit het bepaal dat die nuwe kerkorrel ook as 'n akademiese opleidingsinstrument deur studente gebruik kon word - hierdie ooreenkoms wat tot voordeel van albei partye strek, bestaan nog.
Troskie is geweldig trots op die Nelson Mandela-metro se ryk orrel- en konsertkultuur.
"Die klassiekemusieklewe in Gqeberha is baie aktief," sê hy.
"Die Musiekvereniging van Port Elizabeth en die Veremark-orrelvereniging bied gereeld konserte aan. Laasgenoemde het reeds byna 200 orrelkonserte aangebied, wat aan die stad die naam ‘Orrelhoofstad van Suid-Afrika' besorg het.
"Baie kunstenaars soos Colin Campbell, Gerdi Troskie, Pieter Schoeman, Mario Nell, Winand Grundling en Antonio Lawack wat hier opgelei is, is ook wêreldwyd as uitvoerders en onderwysers aktief."
Troskie was ook onder meer die redakteur van die geakkrediteerde jaarblad Vir die musiekleiers en het op die Psalm-en-Gesangekommissie van Liedboek van die kerk gedien.
Drie boeke, Pyporrels in Suid-Afrika, The Pipe Organ Heritage of South Africa en Waarom 'n pyporrel? het uit sy pen verskyn en hy was die medeskrywer van verskeie ander publikasies soos Die Tonsymbolik in Regers Chorwerken.
Self het hy verskeie bundels met orrel- en koormusiek gepubliseer.
Daar is ook 14 nuwe orrelverwerkings van hom in bundels van die Suider-Afrikaanse kerk- en konsertorrelistevereniging gepubliseer.
As orrelis het hy self vier CD's uitgegee en drie in samewerking met sy kerkkoor.
Hy tree die afgelope paar jaar gereeld saam met dr. Erika Bothma, president van die Port Elizabeth-musiekvereniging as 'n orrel- en klavierduet op.
Saam het hulle ook onlangs twee CD's, Serenata en What a Wonderful World uitgereik.
Troskie het in sy indrukwekkend loopbaan talryke pryse, erelidmaatskappe, erepennings en oorkondes vir sy bydrae tot klassieke musiek ontvang - hy was selfs een van drie benoemdes vir die eerbewys van Port Elizabeth se "Inwoner van die Jaar".
In 1999 het hy die Veremark-orrelvereniging gestig waarvan hy ook die kurator is.
"Daar was verskeie hoogtepunte in my musiekloopbaan waaronder die ontwerp van die Veremark- en Somerstrand-pyporrel en die publikasie van die Liedboek van die kerk in 2001," sê hy.
"Ek is hartstogtelik lief vir alle klassieke musiek, orrel-, klavier-, orkes- en koormusiek.
"Ek kan nie een werk uitsonder nie, maar Chopin en Mendelssohn is my gunsteling-komponiste."
Maar hy het darem op sy dag ook "gerock".
"In daardie dae was die Beatles baie beroemd en ek het baie van hul liedjies gehou!"
Hy is al 'n bekende gesig op sy groot SYM-bromponie waarmee hy veral tussen die Veremarksaal en die Somerstrand-kerk van die een oefening of optrede na die ander rondrits.
"Ek het nog altyd 'n passie vir motors en motorfietse gehad. Met my groot BMW 1200-motorfiets het ek dikwels lang afstande getoer en motorfiets-saamtrekke bygewoon."
Hy is met Jenny getroud, en hulle het vier kinders en nege kleinkinders.
Die Port Elizabeth-musiekvereniging en die Veremark-orrelvereniging bied vir hom 'n verjaardagkonsert op Donderdag 6 Oktober om 16:00 by die NG kerk in Somerstrand aan.
Die Rupert-stigting finansier die geleentheid wat gratis deur alle musiekliefhebbers bygewoon kan word.
" 'n Paar van Suid-Afrika se beste kerkorreliste, 'n violis en 'n sanger sal tydens die spesiale geleentheid optree," sê Bothma.
"Ek wil nie te veel oor die program uitbrei nie omdat dit steeds 'n verrassing vir prof. Troskie moet wees, maar ek beloof dat dit wel 'n musiekaanbieding uit die boonste rakke sal wees."
Bel Erika Bothma by 082 308 4494 vir inligting oor die konsert ter ere van prof. Troskie.
Bel Andries Troskie by 041 5037 854 of 082 726 9595 of stuur 'n e-pos aan hom by a.troskie@telkomsa.net met navrae oor musiek of die Veremark-orrelvereniging.





















