'n Volle 31 jaar het al verloop sedert die eerste Bitterkomix (BK) die lig gesien het. Met BK19, wat einde Julie gepubliseer is, druk die stigters van die dikwels omstrede publikasie, Anton Kannemeyer (Joe Dog) en Conrad Botes (Konradski), nogmaals al die verkeerde knoppies en krap hulle weer waar dit nie in die openbaar veronderstel is om te jeuk nie. Chutney de Ridderhet met die twee kisduiwel-kunstenaars gesels.
"Vryheid van spraak lê op sy sterfbed. Satire is die saad van Satan."
Aan die woord is Conrad Botes, een helfte van die Bitterkomix-duo wat sedert 1992 mense met hul bytende sketse en verhale in die publikasie ontstig, ontstel en, in gewone Afrikaans, dik die donder in maak.
Botes en Anton Kannemeyer stem in tot koffie en 'n gesprek met Netwerk24 en ons ontmoet op 'n snerpende Saterdagoggend by die Ou Meul in Pinelands.
Botes verduidelik vlugtig sy stelling.
"Jy moet deesdae so versigtig wees om nie op sensitiewe toontjies te trap nie. Jy moet woke wees as jy as kunstenaar iewers wil kom. Moet tog net nie iemand kwets of ontstel met jou werk nie, moenie priemende vrae vra nie, temper jou satire. Anders kanselleer ons jou. Dit voel kompleet ons baklei teen 'n oormag."
Kannemeyer sluit aan.
Ons het te doene met 'n nuwe tipe sensuur, een wat uit die gemeenskap kom. Die gepeupel op sosiale media.
"Ja, waar ons in die verlede ongekende vryheid van spraak belewe het - in die middel tot laat 1990's, die vroeë 2000's - is daai tyd nou beslis iets van die verlede. Die konteks waarin jou werk vertolk word, het nou se dae handomkeer verander.
"Ons het te doene met 'n nuwe tipe sensuur, een wat uit die gemeenskap kom. Die gepeupel op sosiale media. As jy nie woke is nie, is jy vyand nommer een. 'n Baie eienaardige situasie. Deesdae moet jy eintlik subversief kuns skep, eerder as ikonoklasties. Maar BK was eintlik nog altyd 'n ikonoklastiese publikasie. Ons doelwit was uit die staanspoor om tradisionele opvattings, stelsels en instansies te probeer afbreek, of at least om die feilbaarheid daarvan uit te lig, sonder om doekies om te draai. Om dit te bevraagteken sonder om standpunt in te neem, sonder om antwoorde te verskaf, sonder om kant te kies."
Het hulle enigsins, ná 19 publikasies, daarin geslaag om mense tot ander insigte te bring?
"Weet jy, dit maak nie eintlik saak nie," sê Kannemeyer.
"Toe ons destyds met BK begin het . . . ja, wel . . . ons was jonk en idealisties, ons wou die wêreld verander. As ek nou kyk na dit wat ons in die verlede gedoen het . . . dit behoort tot 'n sekere tydperk van ons lewe.
"BK18, byvoorbeeld, het uitgekom in 'n tyd toe ek moerse aangeval is in die tradisionele en op sosiale media (vernaam oor sy omstrede Erotic Drawings van 2019). Ek is basies gecancel as kunstenaar. So baie van die werk in BK18 was eintlik in reaksie daarop. Die reaksie is nie noodwendig interessant vir almal nie. Nie almal stel belang om te lees oor my hang-ups en probleme nie. Hulle wil net lekker comics lees. Daarom voel BK19 meer soos waarde vir jou geld. Daar is goeie stories in. Dis vermaaklik. Dis snaaks."
Botes sê dis die lekkerste uitgawe waaraan hy tot dusver gewerk het.
"Ek het dit baie geniet (om BK19 te skep). Ons het oor die jare besef jy gaan die haters nie tot ander insigte bring nie. Ons doen lankal nie meer BK omdat ons dink ons gaan die wêreld verander nie. Ons doen dit omdat ons flippen lief is daarvoor. Ek dink ook ons raak beter in dit wat ons doen. Meer aandag aan detail. Skerper.
"Ons inhoud is eerlik en dis in your face. As ons nie ongemak skep nie, kan ons dit maar netsowel laat vaar. Jy weet as die werk jou as kunstenaar uitdaag, gaan dit ook die lesers uitdaag. Met BK19 slaag ons hierin."
Satire is straks die groot wapen in die BK-arsenaal. Dis ook ironies genoeg BK se grootste achilleshiel. Die inhoud word dikwels verkeerd (letterlik) vertolk en derhalwe in die kookpot van, onder meer, rassisme, seksisme en vulgariteit gesmyt.
Die werk word op die oog af getakseer, geen dieper insig is betrokke nie. Dit word bloot afgeskiet.
"Ja, mense raak eintlik meer stupid, nè? Die groot ironie is net: Die grootste gros van hulle dink hulle is nou meer ingelig as ooit. As studente het ons geleer wat satire behels, hoe dit werk, hoe om dit in te span. Deesdae is dit iets wat soos die pes vermy word," verduidelik Kannemeyer.
"Die Universiteit van Kaapstad, byvoorbeeld, behandel nie meer BK as deel van sy Suid-Afrikaanse comic-module nie. Die dosent sal die klas vooraf waarsku - die BK-publikasies is in die biblioteek as verwysingswerk. Want die student dreig om uit die klas te loop en die dosent te gaan verkla as BK durf bespreek word. Die werk word op die oog af getakseer, geen dieper insig is betrokke nie. Dit word bloot afgeskiet. Hoe gaan jy die konsep van satiriese werk verstaan - veral ikonoklastiese satire - as daar nie 'n debat daaroor is nie?"
Volgens hom het die verandering omstreeks 2010 posgevat. Toe kon hulle al agterkom mense raak meer sensitief oor sekere onderwerpe, fyngevoelig en liggeraak.
"Daar was steeds tolerance en ondersteuning van die lefties, veral in die akademia en die media. Maar ná die Charlie Hebdo-slagting in Parys in 2015 was daar 'n moerse push-back gemik op satire. Dit het oorgespoel na die res van Europa, die VSA en derhalwe ook hier. Jy moet nou omgee vir die gevoelens van ander mense, tot elke prys. Ek dink weer, sodra jy dit as kunstenaar doen, bliksem jy logika by die venster uit."
Destyds se laaste linie van verdediging het ook verkrummel, voeg Botes by.
"In die verlede was daar altyd 'n handjievol liberals, vrydenkers, die intellectuals, wat geskerm het as BK om welke rede ook al in die spervuur beland het. As iemand skree ‘hoe durf julle, hoe kan julle!' dan het dié mense gesê wag 'n bietjie, stadig oor die klippe - hier het julle te doen met satire. Die kunstenaars stel vrae. Wil jou laat dink. Maar hierdie verdedigers van satire het - op enkele uitsonderings na - in die brandende kollig van wokeness soos mis voor die son verdwyn."

Dit gaan nie hier eindig nie, reken die twee.
"Ek dink dis net 'n kwessie van tyd voordat al die gekwetste gevoelens tot nuwe inskrywings in die wetboeke van Suid-Afrika lei," sê Kannemeyer. "Ek voel ons beweeg na 'n nuwe era van sensuur wat deur die regering toegepas gaan word, basies omdat 'n nuwe generasie van sensitiewes via sosiale media daarvoor pleit. Ek dink nie ek gaan in my leeftyd ooit verskoon word vir die absoluut ‘verskriklike werk' wat ek gemaak het nie. Bid jou dit aan dat ek nog altyd geglo het omstrede kuns, werk wat die morele waardes uitdaag, laat 'n onuitwisbare legacy.

"Laat my dink aan die boek oor Henri Matisse wat ek tans lees. Hy is destyds uitgekryt, vervloek en deur sy vriende versaak - basies gecancel - omdat hy dit gewaag het om met kleure in sy werk te eksperimenteer. En daar is hy toe heelwat later saam met Picasso een van die helde van 20ste eeuse kuns. Dis nogal vir my 'n riem onder die hart!"
Botes kry die laaste woord in.

"Vir my is die hele BK-ding baie eenvoudig. Dis 'n boek wat jy moet gaan koop - hetsy aanlyn of waar jy dit ook al kan vind. So, as jy nie van die inhoud hou nie, as dit jou ongemaklik stem, moet dit nie koop nie. Vermy dit. Maar moet dan nie jou mond daaroor uitspoel as jy dit nie binne konteks kan lees nie, as jy nie 'n begrip vir satire het nie.
"Ons is nie in die pleasing of everyone business nie. Ons is nie inklusief nie, maar met 'n rede. Ons is nie familievriendelik nie, maar met 'n rede. As jy op soek is na artificial representation, kry vir jou Walt Disney."
- Bitterkomix19 en ander beskikbare uitgawes kan aanlyn by bitterkomix.co.za aangeskaf word.















