Fiksie
Klein wonderwerk
Hans du Plessis
LAPA, R330
Die geliefde skrywer en akademikus prof. Hans du Plessis is in Oktober 2024 oorlede, kort voor sy 80ste verjaardag. Dit terwyl sy tiende roman, Klein wonderwerk, nog in produksie was.
Nogmaals ondersoek die ontslape skrywer temas van seksuele en magsmisbruik, wantroue, ontnugtering, verlies, veroudering en die dood, eensaamheid, die pad na aanvaarding en genesing en empatie tussen persone van verskillende geslagte en ouderdomsgroepe. Daar word oudergewoonte deernisvol met moeilike onderwerpe omgegaan; hier en daar fyn met wyshede en beleë insig wat jou tot nadenke stem.
Petrus en Anina is die hoofkarakters. Du Plessis struktureer Klein wonderwerk só dat hul paaie dadelik kruis wanneer die veel ouer, nou afgetrede plaaseienaar Petrus met die jonger, ewe ontnugterde maatskaplike werker Anina in aanraking kom in die ry by die munisipale kantore.
Belangrike buitelyne vir elk se karakterisering is dat Petrus se sig uiters swak is, dat hy fisiek sukkel en met moeite loop en dat hy vroue wantrou weens die feit dat sy gewese skoondogter sy kleinseun weggegee het. Anina se witkopseuntjie laat hom aan sy kleinkind dink.
Anina is ongelukkig getroud met 'n wrede man en het 'n geskiedenis van misbruik en mishandeling deur die toedoen van mans, wat sy gevolglik totaal wantrou. Daar is heelwat vleis aan die verhaal en geen gebrek aan moontlike intrige nie: wat pla, is nie soseer die wat nie, maar wel die hoe.
Eerstens is die eerste 15 bladsye van Klein wonderwerk heeltemal te uitgesponne soos dit uiters basiese dialoog, dikwels breë kwashale en veels te direkte taalgebruik inspan om die verhaal aan die gang te kry en veel van die hoofkarakters te verklap.
Dit bou nie spanning nie en wek nie nuuskierigheid nie en maak die leser eerder ongeduldig as geïnteresseerd in wat volg. Om die vertelling só te struktureer dat Petrus en Anina afwisselend aan die woord is, verleen 'n patroonmatigheid en voorspelbaarheid aan die roman.
Naamgewing vir plekke soos Pragbos en Huis Mooifontein is dikwels te voor die hand liggend en die taalgebruik soms vreemd oudmodies. Dit spyt my om te moet seg dat daar deurgaans te veel gehamer word op oorverduidelikings en vereenvoudigde "lesse", wat die leser erg onderskat.
Die slot en klimaks is te toevallig en afgejaag; veels te netjies. Dit terwyl die laaste kwart van die verhaal uiteindelik behoorlik romanmatig en meestal oortuigend uitspeel.
Gaan lees eerder weer Du Plessis se gevierde digbundel Innie skylte vannie Jirre.
Jonathan Amid is 'n taalpraktisyn van Stellenbosch.





















