Boeke

Boeke: Deur Ingrid se oë

In haar veertiende roman sedert haar debuut 40 jaar gelede herbedink Ingrid Winterbach 'n groep randkarakters uit ‘Buller se plan', die eerste roman wat 25 jaar gelede onder haar eie naam verskyn het. Johan van Zyl het op Stellenbosch oor ‘Onrus op Steynshoop' gaan gesels.

Ingrid Winterbach: "Op die spreadsheets vertel skryf 'n droewige verhaal. Ek word per uur baie ver onder die minimum loon betaal. En weet jy hoe súkkel ek om te skryf?" Foto's: Peter van Noord
Ingrid Winterbach: "Op die spreadsheets vertel skryf 'n droewige verhaal. Ek word per uur baie ver onder die minimum loon betaal. En weet jy hoe súkkel ek om te skryf?" Foto's: Peter van Noord

Buite skop ek die tuinhek eers van binnekant af oop, dat hy ver verby sy normale swaai swáái, en toe skop ek hom van die ander kant af terug, dat sy skarniere ingee. (Dis 'n ou hek.) Minstens vier paar oë hou my dop. Ek stamp my kind in die kar in. Ek slaan die deur toe. Ek rev die kar. Hier begin my relaas.

Met dié openingsparagraaf van Klaaglied vir Koos (1984) het Ingrid Winterbach 40 jaar gelede haar kleim afgesteek in die Afrikaanse letterkunde. Dit was die eerste van vyf boeke wat onder haar eertydse skrywersnaam, Lettie Viljoen, verskyn het.

"Ja, ou Lettie," sê Ingrid, arms angstig gepantser oor haar bors, "sy was 'n jeugsonde, 'n jeugfout, 'n futiele poging om anoniem te bly in Stellenbosch. . . maar ag wat, dis ook fine, ek het my nou maar met die ou girl vereenselwig."

In die ligdeurdrenkte leefvertrek van die huis in Jamestown, Stellenbosch, waar Ingrid en haar man, die skilder en filosoof Andries Gouws, woon en werk, staan 'n pot stoomwarm tee byderhand ter streling van haar nuweboeknerwe en -manie, en daarnaas 'n bord louwarm hertzoggie-oliebolle en pasteis de nata. Die huis staan so 'n bietjie skuins op die erf, sê Ingrid, maar dis presies uitgewerk sodat die ateljees se vensters perfek suid wys vir die beste natuurlike lig.

"Waarom ek vanoggend so blerriewil op my senuwees is om met 'n nuwe roman public te gaan, weet ek nie. . . Is dit werklikwaar al 25 jaar sedert Buller verskyn het? Kan jy darem enige vordering sien? En 40 jaar! Dis maar 'n skraal oes vir 40 jaar - het Chanette Paul dan nie al 50 romans op haar kerfstok nie?" ('n Roman elke 2,85 jaar is meer as wat die meeste skrywers kan baasraak.)

"Weet jy, dit vóél soos 40 jaar, maar gelyk ook nie, want boeke is nie die enigste bakens langs die pad nie. My eie lewe het tussenin gebeur met egskeidings en kinders en hertroues en hervestigings. Verskuiwings. Die groen van Durban, die terugkeer na die Boland."

Miskien is een van die voordele van Onrus op Steynshoop dat sy vir mense kan verduidelik waaroor die boek gaan. "Toe my ginekoloog my vra waaroor my vorige roman, Voorouer. Pelgrim. Berg., gaan, het ek geantwoord dit gaan eintlik oor niks nie, maar my man het dit al vier keer gelees. Nou kan ek ten minste sê Onrus gaan oor Chinese op 'n plattelandse dorp en die hoofkarakter is 'n haarkapper. Dan is mense tevrede, hulle weet wat dit beteken, hulle kan relate."

Van Ingrid se onlangse werk.
Van Ingrid se onlangse werk.

Sy sug. "Voorouer., wat in 2021 tydens Covid verskyn het, het gesink soos 'n klip en gaan ook nie vertaal word nie, wat jammer is, want 'n vertaling vergroot die moontlikheid vir die boek om in die wêreld uit te gaan. Voorouer. was 'n moeilike roman wat baie gevra het van lesers; ek het baie kanse gewaag en regtig die uiterste van gewone lesers se geduld beproef, reken ek. Daarby was daar in die Covid-tyd nie die gewone reklame en afwagting en spin en hype vooraf nie. . . ek het besef ek kan eenvoudig nie in die rigting van Voorouer. voortgaan nie." (In 2002 het sy in reaksie op 'n vraag oor die toeganklikheid van Niggie presies dieselfde gesê oor Bullerse plan: "Die roman voor Niggie het gemengde reaksie ontlok en swak verkoop. Ek kon eenvoudig nie in daardie rigting voortgaan as ek enige boeke wil verkoop nie.")

'n Paar van die kleure wat sy op die oomblik die meeste gebruik.
'n Paar van die kleure wat sy op die oomblik die meeste gebruik.

Met Onrus probeer Ingrid iets wat sy nog nie vantevore gedoen het nie: Sy herbesoek die wêreld van 'n vorige roman. Waar die slagvelde en oorlogsgrafte van die fiktiewe dorp Steynshoop digby die grens met Lesotho in Buller vooropgestaan het, is die plek nou "oorgeneem deur Chinese". En "wat weet kinders van vandag buitendien nog van die Anglo-Boereoorlog?"

Sy verklaar in 'n nota aan die einde: "Van die karakters in Onrus op Steynshoop is voortsettings, maar met wysigings, van karakters in 'n vorige roman."

Sy vind dit interessant dat Etienne van Heerden se Gebeente ook eggo's van 'n ouer roman het. "Nou wonder ek of dit 'n kenmerk is van laat werk: Dat ouer skrywers lus kry om hulle ou goed te herverbeel.

"Ek het spesifiek nie in die slotnota van Onrus genoem die karakters kom uit Bullerse plan nie en ek weet ook nie of dit nodig is om dit te sê nie. . . Buller is nié 'n sleutel vir die begrip of geniet van Onrus nie. Die roman het ook nie begin by Buller nie, dit was ná 'n klomp vals beginne dat ek toevallig by die karakter Benna uitgekom het. Die begin van 'n roman is eintlik onagterhaalbaar: Hier kom iets op, daar kom iets op - dis ongelooflik, al die uiteenlopende dinge, al die verkeerde beginne en steierwerk, wat uiteindelik weer wegval. . .

"Wat ek wel weet, is as 'n boek klaar is, is dit vir my ontsettend moeilik om met 'n nuwe een te begin. In die aanloop raak ek die ene antennas: Wat nou? Wat gaan ek volgende skryf? Uiteindelik is dit dan ook 'n lang en moeilike proses voordat daar weer iets nuuts is om mee te werk. Baie frustrerend. Maande van probeer en niks werk nie. En dan, ineens, 'n saadjie wat ontkiem het."

Sy was al 'n hele ruk aan 't skryf aan Onrus voor sy Buller herlees het. "En ek het ook net ingedip in die boek; ek het nie die hele ding weer van voor tot agter deurgelees nie. Ek het besluit dit gaan 'n baie los aanpassing wees, ek gaan baie vryheid neem en my nie te veel aan Buller steur nie. As mense goed wil naspeur en kyk wat die verskille is, be my guest, maar daar's niks wat bepaal dat ek my by Buller moet hou nie. As ek byvoorbeeld by die tyd moes hou, was Benna nou baie ouer." (Volgens Buller is hy in 1966 gebore, maar in Onrus is "sy geboortejaar 1981 of daar rond. . . hy is 12 as Bitterkomix 4 in 1994 verskyn".)

Van strookprente tot comics

Saam met sy Chinese vriend Chaoxing Yang versamel en teken Benna comics (in Buller is dit deurgaans strookprente genoem), 'n medium waarin verhalende elemente en die visuele byeenkom. Dit is 'n onderwerp wat in haas elke onderhoud met Ingrid opduik omdat sy ook bekend is as visuele kunstenaar en kuns as so 'n belangrike voedingsbron vir haar skryfwerk beskou dat sy dit "bykans onmoontlik vind om dit uit 'n roman te hou".

Die houtbeeldjies dateer uit hul Durbantyd, saamgebring deur hul huiswerker ná 'n besoek aan Kranskop, haar tuisdorp. Die skildery is van Andries.
Die houtbeeldjies dateer uit hul Durbantyd, saamgebring deur hul huiswerker ná 'n besoek aan Kranskop, haar tuisdorp. Die skildery is van Andries.

Sy en Andries werk albei in hul eie ateljee op die boonste verdieping - soggens skryf sy en smiddae neem sy die kwas op. Die deure word toegemaak en elkeen luister hul eie musiek, maar Andries kom darem twee keer per dag by haar tee drink.

"Dis beslis vir my makliker om te skilder as wat dit is om te skryf. Ek het nog altyd gedink my visuele intelligensie is groter as my skrywerlike intelligensie. Ek sal baie makliker twyfel in myself as 'n skrywer, juis omdat ek so sekuur voel as dit kom by visuele goed - dit voel vir my ek kan dadelik sien as iets nie reg is nie. Skilder en skryf is twee heeltemal aparte prosesse. Met skilder - ek vermoed dis hoe reeksmoordenaars ook voel - kom daar so 'n gevoel oor jou. Jy weet net: Dis tyd. Of: die kleur pers. Ek skilder elke dag, en die skilderye gaan ook, soos die romans, deur hersienings en hersienings en hersienings.

"Persoonlik dink ek ook Andries hou meer van my visuele werk as van my skryf," sê Ingrid.

Hy proes dadelik: "Ja, maar wat jou kuns betref, is daar amper daagliks iets nuuts te sien; met die skryfwerk moet ek drie jaar wag."

Andries is al jare lank Ingrid se eerste en "mees meedoënlose leser", maar hy was dié keer veel vroeër by die proses betrokke omdat hy haar met navorsing oor die Chinese in Afrika gehelp het.

Andries sluk sy laaste stukkie pasteis de nata en sê Ingrid het die afgelope halfjaar vyftig keer meer met haar skilderye verdien as met haar skryfwerk.

. . .ek leef eintlik volkome deur my oë en wil niks hier wegvat nie.

"En dis regtig nie asof ek verskriklik baie skilderye verkoop het nie, maar op die spreadsheets vertel skryf 'n droewige verhaal. Ek word per uur baie ver onder die minimum loon betaal. En weet jy hoe súkkel ek om te skryf? Daardie oor en oor en oor. Ek gaan terug en maak reg. Ek gaan stadigaan vooruit, maar ook heeltyd agteruit. Soos 'n breimasjien, vorentoe en agtertoe." Haar hande lyk of hulle meteens iets aan die kraag beetkry en skud. "Hierdie unwieldy ding met die taal wat nie wil doen wat jy wil hê dit moet doen nie. Eintlik weet jy nie regtig wat jy wil hê dit moet doen nie, jy het maar net so 'n gevoel. . .

"Comics was nog altyd op my radar, ek het 'n belangstelling daarin, ek dink dis eintlik hoe ek Engels geleer het. As ons kleintyd by die see met vakansie was, het ons saans gaan stap en dan kry ons elkeen 'n Bumper-sjokoladeroomysie en 'n comic. Jy kon self jou comic kies, maar die keuse was beperk. . . Little Lotta en so aan.

"Dit was vir my ongelooflik lekker om die comics-dele in Onrus te skryf, veral die stukke oor die Middeleeuse heilige Katerina de Sanguin wat so oor die kontinente gevlieg het om sendingwerk te doen in daai swart nonnehabyt van haar. Ek het eenkeer iets oor haar gehoor in 'n oudioboek oor die wêreld ná 1493, maar toe ek dit probeer nagaan op Google, kon ek nêrens enige melding van 'n Katerina de Sanguin vind nie."

Aan die einde van die onderhoud mik ons na die ateljee bo vir foto's. Sy wys na die rekenaar.

"Dit lyk dalk of ek hier skryf, maar eintlik sit ek daar op die bank in my winterkwartier en skryf op my laptop. Ai jirre, verskoon tog, hierdie plek is so vol, maar die visuele goed is vir my so belangrik. . . ek leef eintlik volkome deur my oë en wil niks hier wegvat nie. Miskien raak dit tyd om 'n bietjie Swedish death cleaning doen. . . dis wat jy doen as jy voel jy staan aan die einde van jou lewe en jy wil jou kinders nie belas met alles wat jy agterlos nie."

Ontmoet die skrywer

• Swellendam: Die skrywer Anna Kemp stel die vrae by Bokmakiri Boeke se gesprek eerskomende Vrydag, 26 Julie (17:30 vir 18:00), in die Hoofgebou van Olyfkrans-kollege op die hoek van Moolman- en Voortrekkerstraat. RSVP: 083 651 5830.

• Stellenbosch: Die skrywer Willem Anker lei die gesprek op Saterdag 3 Augustus (11:00) by die Stellenbosch-biblioteek in Pleinstraat. RSVP: sonia.paulse@stellenbosch.gov.za of 021 808 8398.

• Johannesburg: Die regsgeleerde en resensent Jean Meiring vra Winterbach uit op Dinsdag 13 Augustus (18:30 vir 19:00) by Rhodeslaan 10 in Parktown. RSVP: hrossouw@group621.co.za of 011 263 9000.

• Pretoria: Die digter Johan Myburg vra die vrae op Woensdag 14 Augustus (18:00 vir 18:30) by Exclusive Books in die Menlyn Park-winkelsentrum. RSVP: www.exclusivebooks.co.za/pages/events

• Aanlyn: Die digter Loftus Marais lei Netwerk24 se digitale boekgesprek op Donderdag 15 Augustus (om 20:00).

• Wellington: Die letterkundige Louise Viljoen stel die vrae by die bekendstelling op Woensdag 25 September (18:15 vir 19:00) by Die Bôrdienghuis by die Breytenbach-sentrum. Kaartjies kos R50 p.p. en sluit wyn en versnaperinge in. RSVP: 078 022 3458 (Gerhard).

• Woordfees: Ingrid en Ivan Vladislavicc gesels op 2 Oktober (11:30) oor hul nuwe boeke, belangstellings en bekommernisse in die Boektent. Of besoek Ingrid en Andries se ateljees op 29 en 30 September en 4 en 5 Oktober (15:00 en 16:00) as deel van die Ateljeebesoeke by vanjaar se fees. Laai die Woordfeesprogram af by www.woordfees.co.za en bespreek by www.quicket.co.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM