Boeke

By my lees | Dibi Breytenbach

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

In die rubriek By my lees deel skrywers en boekmense hul leesavonture. Dibi Breytenbach is 'n skrywer van KwaZulu-Natal. Sy werk in die strafregstelsel, veral met kindersake. Sy is bekend om spanningsromans soos onder meer Saliger, Vrediger, Heiliger, Dowe gode, Blinde gode en Stom gode. Die Heks het verlede jaar uit haar pen by Queillerie verskyn.

Die skrywer Dibi Breytenbach Foto: NB Uitgewers
Die skrywer Dibi Breytenbach Foto: NB Uitgewers

Die boek wat die grootste invloed op my gehad het:

Daar was nie net een nie. Die Ilias en Odyssee van Homeros. Ek het grootgeword met stories van gode en helde en dit fassineer my tot vandag toe. En magiese boeke soos De Kleine Johannes van Frederik van Eeden. Ek het die boek die eerste keer gelees toe ek nog in die laerskool was - in Hollands, kan jy dit oorvertel. Dit was by my ouma en oupa op die plaas, ver van die dorp en die biblioteek af en daar was nie veel anders om te lees nie. Die boek het my vasgevang, miskien omdat ek self in die windekind-stadium was. Daar is 'n beskrywing in De Kleine Johannes van 'n kat, Rollo, wat agter 'n asblik sit en 'n haringkop vreet. Sekerlik die mooiste beskrywing van 'n kat wat ek nog ooit gelees het! En dan die classics. Die groot romantiese romansiers - Tolstoi, Turgenef, Victor Hugo. Behalwe vir die wonderlike, menslike stories, is die boeke so dik, jy raak nie maklik opgelees nie. En my aartsgunsteling, Alexandre Dumas.

Dit was by my ouma en oupa op die plaas, ver van die dorp en die biblioteek af en daar was nie veel anders om te lees nie. Die boek het my vasgevang, miskien omdat ek self in die windekind-stadium was.

Ek lees elke jaar The Three Musketeers, want dit is so 'n rip-roaring, gung ho, plesierige boek. Ek raak nooit sat daarvan nie. O, ja. Die Suid-Amerikaners. Gabriel García Márquez se One Hundred Years of Solitude en Love in the Time of Cholera laat my dink aan 'n Chagall-skildery. Magies realisties. My interpretasie. Ek is 'n groot aanhanger van John Irving se vroeëre werk, met 'n spesifieke sagte plekkie vir A Prayer for Owen Meany. En my eie, wrang sin vir humor laat my besonder aanklank vind by die kortverhale van O. Henry en Flannery O'Connor. Ooggetuies uit die geskiedenis verskaf my net soveel vreugde. Ek het nou die dag weer Tacitus se Germania gelees en my verkneukel in die beskrywings van die Germaanse barbare uit die oogpunt van 'n Romeinse aristokraat. Ek dink, alles in ag genome, het al hierdie boeke 'n vormingsrol. Verbreed horisonne. Laat jou dink. Vir elke fase van 'n mens se lewe is daar 'n raakpunt met 'n skrywer wat op daardie dag, op daardie plek, met jou en jou alleen praat.

Die voorplat van Dibi Breytenbach se "Heks" wat verlede jaar verskyn het.
Die voorplat van Dibi Breytenbach se "Heks" wat verlede jaar verskyn het.

Die boek wat ek toe nooit klaargelees het nie:

Almal wat my ken, weet ek is wakker in die middel van die nag wanneer almal slaap. Dit is 'n verpesting en 'n blessing. Maar in 'n stadium het ek besluit ek moet 'n vervelige boek kry om my aan die slaap te sus want ek glo nie aan slaapmedikasie nie. Toe kry ek Stephen Hawking se A Brief History of Time. Ek het die boek jare gelede gekoop en nog nooit verder as bladsy nege gekom nie. As susmiddel is dit egter onverbeterlik.

Die boek wat my lewe verander het:

Daar is sommer baie. Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance. Oor die veranderlike toepaslikheid van die waarheid as 'n konkrete beginsel. On Killing, deur kolonel Dave Grossman, oor die absolute erkenning van die waarde van lewe wat in ons elkeen ingebou is. Diarmaid Macculloch se verkenning van Christelikheid uit die oogpunt van 'n vriend van die Christendom. Plato oor Sokrates se laaste ure nadat hy die gifbeker gedrink het en sy mymerings oor verganklikheid en waarheid.

Die laaste boek wat die trane laat loop het:

Twee, van dieselfde skrywer. Tannie Pompie se Oorlog en Bloedbroers, van Deon Lamprecht. Ek gebruik albei as navorsingsbronne vir die manuskrip waarmee ek tans besig is, en het al meer as een keer my oë uitgehuil nadat ek hulle gelees het.

Die boek wat ek graag as geskenk gee:

Dit klink ydel, maar my eie. Ek gee hulle graag aan almal wat meehelp om hulle te skryf. Ek het baie ongelooflike, tegemoetkomende tegniese adviseurs vir my romans. Ná alles sou die boeke nie verskyn het as dit nie vir hulle hulp was nie. Maar in my jonger dae, toe ek meer ydel was, was daar 'n klomp ontvangers van Ayn Rand se Atlas Shrugged . . .

Die boek wat ek tans lees:

Die jongste boeke van die skrywer Deon Lamprecht, ‘Tannie Pompie se oorlog' en ‘Bloedbroers', het Breytenbach se trane laat loop - sy gebruik die boeke as navorsing vir haar nuwe boek. Foto: Melinda Stuurman
Die jongste boeke van die skrywer Deon Lamprecht, ‘Tannie Pompie se oorlog' en ‘Bloedbroers', het Breytenbach se trane laat loop - sy gebruik die boeke as navorsing vir haar nuwe boek. Foto: Melinda Stuurman

Tans lees ek vreeslik baie vir navorsingsdoeleindes. 'n Paar terselfdertyd: Executive Outcomes: Against all Odds van Eeben Barlow, Zulu Zulu Golf van Arn Durand, Koevoet van Jim Hooper en Iron Fist from the Sea van Douw Steyn en Arne Söderland. Die laaste boek wat ek vir ontspanning gelees het, was Donker Water van Martin Steyn.

Die boek wat ek as troos lees:

As ek moet lees vir troos, lees ek gewoonlik iets waar 'n slegte persoon aan die pen ry. Net sodat ek kan lekkerkry in 'n kroek se ellende. Gewoonlik iets gewelddadig, soos Jack Reacher of so iets. Regtig.

Die skrywer van wie ek al sy of haar boeke gelees het:

Die voorplat van Robert M. Pirsig se ‘Zen and the Art of Motorcycle Maintenance'.
Die voorplat van Robert M. Pirsig se ‘Zen and the Art of Motorcycle Maintenance'.

Ek kan werklik nie dink aan 'n spesifieke een nie. Die een wat waarskynlik die naaste daaraan kom, is John Irving. Madelein Rust ook. En my broer, Henk.

Die boek wat ek in 'n kind se hand gee:

Ek is heeltemal die verkeerde mens om boeke vir kinders aan te beveel. Ek het grootgeword in 'n huis waar absoluut geen leesstof vir ons verbode was nie, met die gevolg dat ek in standerd twee al met 'n Konsalik-boek skool toe is wat my juffrou die horries gegee het. Met my eie kinders het ek dieselfde benadering gevolg en hulle juffrouens het ook die horries gekry.

- laetitia.pople@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM