Boeke

By my lees | Gerda Taljaard

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die skrywer Gerda Taljaard deel in die gereelde rubriek By my lees haar leesavonture. Benewens talle kortverhale het die kortverhaalbundel Maansiek, die jeugroman 'n Engel in die hoenderhok, die romans Kelder, Die laksman se dogter en Vier susters, waarmee sy die kykNET-Rapport-fiksieprys en die ATKV-Woordveertjie vir prosa gewen het, uit haar pen verskyn. Haar jongste roman, Die grafdigter, verskyn aan die einde van die jaar by Penguin Random House. Dit handel oor 'n getraumatiseerde sielkundige in Rusland, wat 'n Suid-Afrikaner ontmoet wat die Bosoorlog oorleef het.

Die boek wat 'n groot invloed op my gehad het

Daar is baie boeke wat oor die dekades heen 'n groot invloed op my as mens én as skrywer gehad het, maar as ek een moet uitsonder, is dit Petra Müller se Die dwerg van die Infanta en ander verhale. Dit is kortverhale waarvoor die leser nooit moeg raak nie, wat jy oor en oor kan lees, want met elke lees is daar iets nuuts - 'n metafoor of beskrywing of besonderheid wat jy nie voorheen opgemerk het nie.

Veral die titelverhaal, wat geskoei is op 'n Velázquez-skildery, is onvergeetlik. Müller het 'n unieke verhaal om hierdie kunswerk geweef, waar elke woord onontbeerlik tot die hoofpersonasie se ontwikkeling en tot die tema is: Lyding is noodsaaklik vir die skep van skoonheid. Dit het my beslis gemotiveer om self te begin skryf.

Gerda Taljaard Foto: Verskaf
Gerda Taljaard Foto: Verskaf

Die boek wat my lewe verander het

Patti Smith se outobiografie Just Kids het my lewe verander. Dit gee 'n unieke blik op die 1970's in New York. Dit beskryf haar en Robert Mapplethorpe se stryd om oorlewing in dié stad, sowel as hoe hulle uiteindelik hulle kunstenaarskap ontdek en uitleef. Dit het my laat glo dat enigiets moontlik is, dat deursettingsvermoë selfs belangriker as talent is.

Die boek wat ek nooit klaar gelees het nie

Ek kon nie Tolstoi se War and Peace klaar lees nie, nie eens naastenby nie. Dis heeltemal te lank en geweldig omslagtig geskryf. Ek is nie 'n geduldige leser nie.

Die boek wat ek nou lees

Op die oomblik lees ek Karen Thompson Walker se The Strange Case of Jane O, wat Deborah Steinmair in haar aanlyn boekrubriek aanbeveel het. Ek is mal oor boeke wat die menslike psige ontleed, wat afspeel in psigiatriese hospitale, of in sielkundiges se spreekkamers. Dan lees ek ook Kirby van der Merwe se Eugene vir 'n tweede keer, nie net omdat ek besig is met 'n artikel daaroor nie, maar ook omdat dit vir my een van die beste romans is wat die afgelope paar jaar verskyn het.

Dit is uitstekend geskryf en laat jou opnuut besef hoe apartheid mense verneder, verarm en getraumatiseer het. Daarby is dit soms skreeusnaaks.

Die Amerikaanse sanger en digter Patti Smith in 2010 met die verskyning van haar memoires ‘Just Kids'. Die boek bied 'n unieke blik op die 1970's in New York en op Smith en die kunstenaar Robert Mapplethorpe se stryd om oorlewing in dié stad, sowel as hoe hulle uiteindelik hulle kunstenaarskap ontdek en uitleef. Foto: Getty Images
Die Amerikaanse sanger en digter Patti Smith in 2010 met die verskyning van haar memoires ‘Just Kids'. Die boek bied 'n unieke blik op die 1970's in New York en op Smith en die kunstenaar Robert Mapplethorpe se stryd om oorlewing in dié stad, sowel as hoe hulle uiteindelik hulle kunstenaarskap ontdek en uitleef. Foto: Getty Images

Ek het alles van hierdie skrywer gelees

Ek het alles wat Elena Ferrante geskryf het, gelees. Dit is nie haar Napolitaanse vierluik wat my die meeste beïndruk het nie, maar haar vroeëre roman The Days of Abandonment. Nog nooit voorheen is daar só eerlik oor egskeiding geskryf nie.

Ander skrywers van wie ek nog nie 'n boek gemis het nie, is Margaret Atwood en Ian McEwan.

Die boek wat die trane laat loop het

Sigrid Nunez se The Friend het my soos 'n kind laat huil, seker omdat ek oor die jare self Great Danes gehad het waarvan ek moes afskeid neem.

Nunez se beskrywing van hierdie honde se maniërismes is lewensgetrou. En daardie nat, soenbare snoet! Asook die gevoel van verlies wanneer so 'n hond sterf. Sterf, ja. Want Great Danes gaan nie net dood nie, hulle sterf.

Gerda Taljaard lees nou Kirby van der Merwe se bekroonde roman ‘Eugene' vir 'n tweede keer. Sy beskou dit as een van die beste romans wat die afgelope paar jaar verskyn het.
Gerda Taljaard lees nou Kirby van der Merwe se bekroonde roman ‘Eugene' vir 'n tweede keer. Sy beskou dit as een van die beste romans wat die afgelope paar jaar verskyn het.

Die gedig waarin al die woorde reg val

Byna al Wilma Stockenström se gedigte se woorde "val reg", maar dis veral haar gedigte oor die dood waar iedere woord sy plek vind. Kyk byvoorbeeld na dié twee reëls uit "Met 'n snak en 'n rilling ervaar die vis . . ." (in Aan die Kaap geskryf):

Hoe helder is die dood,

hoe oneindig en anders.

Die boek wat ek as troos lees

Wanneer ek troos benodig, lees ek 'n kinderboek. Gewoonlik Huppelkind. Of Peter en die wolf.

Die boek wat ek as geskenk gee

Ek gee graag resepteboeke as geskenke.

Die ontslape skrywer en digter Petra Müller se bundel ‘Die dwerg van die Infanta en ander verhale' het 'n groot indruk op Taljaard gelaat. Foto: Verskaf
Die ontslape skrywer en digter Petra Müller se bundel ‘Die dwerg van die Infanta en ander verhale' het 'n groot indruk op Taljaard gelaat. Foto: Verskaf

Laetitia.Pople@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM