Boeke

By my lees | Jonathan Amid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jonathan Amid is 'n vryskutresensent, manuskripontwikkelaar, redigeerder, skryfkonsultant en gereelde onderhoudvoerder, alles in Afrikaans en Engels.

In Netwerk24 se gereelde rubriek By my lees vertel hy meer van sy leesavonture.

Die boek wat my insigte in iets verander het (. . .) of die boek wat my lewe verander het:

Jonathan Amid
Jonathan Amid

Gans onmoontlik om slegs een uit te sonder! Die Klein Prinsie, Moemin, The Count of Monte Cristo, The Three Musketeers, die legendes van koning Arthur en die ridders, Marvel- en DC-strokiesprente en later grafiese romans, en verskeie ander mitiese verhale het my leergierigheid, lus vir lees en nuuskierigheid as jong leser geprikkel.

Ek het ook die Roald Dahl-boeke en sy kortverhale keer op keer almal deurgewerk en ek kon nie genoeg kry van The BFG, Charlie and the Chocolate Factory en James en sy reusagtige perske nie. My ma se deel van Khalil Gibran se The Prophet, ook met die voorlesing op CD van die teks deur Richard Harris, het op 'n jong ouderdom my empatiese sy geprikkel en oneindig aangegryp.

As tiener het verskeie boeke van Francois Bloemhof, Stephen King, veral met Carrie, The Shining, It en Different Seasons my (meestal onbewustelik) genoop om oor buitestanderskap, vriendskap en die menslike aard te besin, wat ek nooit afgeskud sal kry nie.

Op hoërskool het Shakespeare, van A Midsummer Night's Dream, Romeo and Juliet en Hamlet tot veral Macbeth my omgeboul - soveel gebundelde insigte en waarhede oor die mens en die samelewing wat steeds oor tyd relevant bly.

Barrie Hough se Skilpoppe en Dalene Matthee se Fiela se kind en Kringe in 'n bos het my geleer om sagter na gebrokenheid en trauma te kyk. Lord of the Flies, 1984, Animal Farm, Flowers for Algernon en Catcher in the rye het my geleer om altyd skepties teenoor meesternarratiewe te staan, outoriteit te bevraagteken, skepties te wees oor mag- en magstrukture, 'n sagte plekkie vir die underdog te koester en om altyd my binnestem en gut feeling te vertrou en daarna te luister.

Daar was nog vele, vele ander boeke wat iets in my geraak en help wysig het, maar kennismaking met die werk van Cormac McCarthy, veral Blood Meridian en The Road, met J.M. Coetzee se Disgrace en veral sy vroeëre werk wat uitstaan. Die eksistensialisme en Camus se The Stranger het my beslís beïnvloed. Beslis ook boeke deur Dickens, Hemingway, Vonnegut, Bukowski, die hardboiled/noir-skrywers soos Chandler en Hammett . . .

Die voorplat van Lodewyk G. du Plessis se roman ‘Die Dao van Daan van der Walt', 'n roman wat Jonathan Amid verslind het.
Die voorplat van Lodewyk G. du Plessis se roman ‘Die Dao van Daan van der Walt', 'n roman wat Jonathan Amid verslind het.

Die boek wat ek toe nooit klaar gelees het nie:

Gelukkig kan ek glad nie onthou nie!

Die boek wat ek tot my skaamte nog nie gelees het nie:

David Foster Wallace se Infinite Jest. Eendag is eendag! Gilead deur Marilynne Robinson en 'n paar John Irvings. Ek het ook agter geraak met die laaste klompie Don DeLillo-boeke - hy's een van my gunstelinge en ek moet dit summier begin regstel.

Die skrywer Roald Dahl se boeke vir kinders het 'n groot impak op Jonathan Amid gehad. Foto: Getty Images
Die skrywer Roald Dahl se boeke vir kinders het 'n groot impak op Jonathan Amid gehad. Foto: Getty Images

Die laaste boek wat die trane laat loop het:

Anne Michaels se Fugitive Pieces is een wat ek gereeld herlees en dit verwond en verkwik my elke liewe keer. Michael Ondaatje se Anil's Ghost, The English Patient en Divisadero is drie waarna ek ook gereeld terugkeer en wat my steeds bewoë laat. Richard Powers se The Overstory en onlangs Playground kon my totaal ontredderd laat. Atwood se The Handmaid's Tale, so ook Gabriel Garcia Márquez se One Hundred Years of Solitude en Love in the Time of Cholera. Jonny Steinberg se A Man of Good Hope en Joanne Hichens se Death and the After Parties, asook Madeline Miller se Song of Achilles.

Onlangs het veral Lodewyk G. du Plessis oftewel regter Andries Buys se Die Dao van Daan van der Walt en Carina Stander se vier Bergengel-romans my telkens oorrompel en die trane laat loop, terwyl Gerda Taljaard se Vier Susters, Andrew Brown se The Bitterness of Olives, Barbara Boswell se The Comrade's Wife, Siphiwe Gloria Ndlovu se The Creation of Half-broken People, Alex Latimer se Love Stories for Ghosts en veral Fanie Naude se Van vaders en vlugtelinge my van my emosionele skanse kon stroop.

Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens - bloot die gedagte aan verskeie tonele en oomblikke kan my in 'n oogwink tranerig maak. Justin Fox se essays in Place het my nie noodwendig laat huil nie, maar wel besonder diep aangeraak en meegevoer.

Die boek wat ek graag as geskenk gee:

Dis 'n lekker kopseer om lesers as vriende te hê; ek vind 'n geskenkbewys vir Exclusive Books werk altyd goed.

Wat ek tans lees:

Stone Yard Devotional deur Charlotte Wood, The Art of Travel van Alain de Botton, Jeremy Vearey se Rooisand, Exit Wounds deur Peter Godwin, When the Body Says No deur Gabor Mate, Time Shelter deur Georgi Gospodinov, Anne Michaels se Held, Naomi Klein se Doppelganger, Murakami se The City and its Uncertain Walls en Sally Rooney se Intermezzo.

Die voorplat van Haruki Murakami se ‘The City and its Uncertain Walls'.
Die voorplat van Haruki Murakami se ‘The City and its Uncertain Walls'.

Die boek wat ek wens ek geskryf het:

Ek het die grootste respek vir skrywers wat iets tydloos en raak kan vasvang in hul boeke: Ek wens nogal ek kon Don DeLillo se Underworld, Jonathan Swift se Gulliver's Travels, Truman Capote se In Cold Blood, Markus Zusak se The Book Thief, Yann Martel se Life of Pi, Neil Gaiman se American Gods, Alan Moore en Dave Gibbons se Watchmen of Marcus Aurelius se Meditations nadoen of self geskryf het. Ter plaatse het Sven Axelrad se debuut, Buried Treasure, die Suid-Afrikaanse noir van Julio Agrella en die immer onvolprese Mike Nicol se krimi's my erg beïndruk en nogal jaloers gemaak dat ek nie ook só kan skryf nie.

Die boek wat ek as troos lees:

Nie boeke vir troos nie, wel kos en soetgoed!

Die boek wat ek elke paar jaar herlees:

King se On Writing. Vir my menswees en om nooit op te hou hoop nie, Fugitive Pieces.

Al die romans van die Suid-Afrikaanse skrywer Deon Meyer is deur Jonathan Amid deurgedraf.
Al die romans van die Suid-Afrikaanse skrywer Deon Meyer is deur Jonathan Amid deurgedraf.

Die skrywer van wie ek al sy/haar boeke gelees het:

Daar's baie skrywers, van Ondaatje tot Henning Mankell. Plaaslik van Deon Meyer en Rudie van Rensburg tot Irma Venter en Ingrid Winterbach, Andrew Brown en Mike Nicol.

Gunstelingskrywer wat by jou die toets van tyd deurstaan het:

Stephen King.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM