Die digter Elisabeth Eybers sou op Woensdag 26 Februarie 110 jaar oud geword het. Sy het die helfte van haar lewe in Amsterdam gewoon en as digter was sy in Suid-Afrika en Nederland ewe gerespekteerd. Sy word onthou as "heel avontuurlik" en iemand met 'n "wakker, waaksame en oplettende oog". Mense deel hul herinneringe met AJ Opperman.
Elisabeth Eybers het die laaste jare van haar lewe nie meer gereeld buitentoe gegaan nie, maar sy was steeds 'n goeie korrespondent. Sy het 'n sterk greep op 'n storie gehad, aldus prof. Ena Jansen, wat haar doktorale tesis oor Eybers geskryf het, wat tot haar boek Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam gelei het.
Amsterdam, waar Eybers 46 jaar - die helfte van haar lewe - gewoon het voordat sy op 1 Desember 2007 in die ouderdom van 92 dood is, het gewis 'n invloed op haar poësie gehad. Haar omgewing het ook haar werk beïnvloed toe sy nog in Suid-Afrika gewoon het.
Sy het Suid-Afrika in 1979 die laaste keer besoek.

Jansen het in die 1970's in Utrecht studeer en verskillende mense het haar aangemoedig om Eybers in Amsterdam te ontmoet.
Die egpaar Maureen en Fritz Joubert, albei joernaliste, het gesê sy moet probeer om 'n onderhoud met Eybers vir die tydskrif Sarie te voer omdat sy daardie Februarie 60 sou word.
"En sy was toe daarvoor te vinde," sê Jansen.
"Dis 'n groot leeftydverskil (Eybers is in 1915 gebore en Jansen in 1951), maar ons het net van mekaar gehou. Ek het altyd 'n bietjie probeer verduidelik ons is albei predikantsdogters, maar ons het ons Dunhills gesit en rook. As sy van iemand gehou het, was sy baie gou vertroulik. Ek het besluit om daai vertroulike goed, wat vir my regtig nuut was, nie in my onderhoud te gebruik nie. Ek het byna niks geskryf wat sy gesê het nie, maar ons het mekaar daarna taamlik gereeld gesien. Dit was altyd 'n soort uitsondering en hoogtepunt vir my."
Eybers is op 26 Februarie 1915 in Klerksdorp gebore. Later het haar pa, 'n predikant, 'n beroep na Schweizer-Reneke aanvaar. Daar het Eybers grootgeword en gematrikuleer en aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg studeer.
Sy was getroud met Albert Wessels, stigter van Toyota Suid-Afrika, en hulle het vier kinders. Hulle is later geskei.
Ook haar gesinslewe het haar digkuns beïnvloed. Die digter Antjie Krog illustreer ook die gesinslewe in haar werk, maar in 'n ander lig as Eybers.
"Eybers se skryfstyl (met ander woorde, beelde) en haar soort ‘vrouelewe' (temas) was nader aan my eie skryf as ander vroulike digters s'n. Soms het ek haar nageaap, soms juis alles anders probeer doen as sy: As sy oor haar babas skryf, skryf ek nie oor my babas nie, as sy haar netjiese huishouding beskryf, beskryf ek my deurmekaar, chaotiese huishouding. Dus was Eybers altyd 'n enorme bron waarmee, waarin en waarop ek kon reageer. Selfs hier op my oudag kry ek inspirasie en troos uit haar oudwordgedigte."

Dit was eers toe Jansen weer in Nederland gaan woon het, waar sy 'n hoogleraar aan die Universiteit van Amsterdam was, dat sy en Eybers mekaar dikwels gesien en hegte vriende geraak het.
"Later het ek 'n soort sekretarisrol in haar lewe gespeel, soos om allerlei administratiewe goed vir haar te help doen. Dit was gemoedelik - tegelykertyd het sy my op allerlei praktiese maniere gehelp en ek vir haar."
Eybers het twee keer die Hertzogprys vir poësie ontvang en in Nederland is sy onder meer met die PC Hooft-prys bekroon. Haar digbundels is gelyktydig in Suid-Afrika en Nederland uitgegee, maar in albei lande het dit in Afrikaans verskyn.
Volgens die digter en vertaler Daniel Hugo het Eybers se taalgebruik in 'n groot mate die standaardtaal van die 1930's gebly, wat veel nader aan Nederlands as die hedendaagse Afrikaans is.
"Ná haar permanente vestiging in Nederland het haar idioom en woordeskat verder vernederlands. Eybers het dus die anglisismes vrygespring of doelbewus vermy wat moderne Afrikaans oorwoeker. Talle jonger Afrikaanse lesers het nogal moeite met haar taal.

"Poësie is per definisie gekunstelde taalgebruik. By Eybers word die gekunsteldheid bewerkstellig deur 'n hoogs formele, Nederlands getinte Afrikaans. Vir die Nederlandse lesers berus die gekunsteldheid waarskynlik op presies die teendeel, naamlik die grammatiese vereenvoudiging en direktheid van Afrikaans. Vir ons klink Eybers deftig; vir die Nederlandstaliges eksoties en miskien selfs kreools."
Jansen het as jong student nie aanvanklik daarin belanggestel om oor Eybers se werk te skryf nie, maar in die tyd toe sy aan Wits in Johannesburg doseer het en haar kollegas van doktorsgrade gepraat het, het sy besef sy het inderdaad 'n ideale onderwerp.
"Eybers se gedigte het daardie dubbelheid en ek dink een stel lesers verstaan dit op een manier en Afrikaanse lesers op 'n ander manier. Ek het net besef ek is 'n soort brugfiguur. Soos wat sy by uitnemendheid is. Ek het teen daai tyd al Nederlands goed geken. Los van my vriendskap met haar het ek net besef haar werk is 'n uitstekende onderwerp.
"Ek het haar nooit in die proses gekonsulteer nie. Dis nie 'n biografie nie - ek het suiwer na haar werk gekyk, haar twee stelle lesers en 'n hele lot poësie-teorie daarop losgelaat."
Die digter en skrywer Marlene van Niekerk, wat Jansen in haar studie bygestaan het, glo alle studente moet Eybers se gedigte lees.
"Haar werk bevat 'n bepaalde etos, noem dit maar die etos van ‘liefde en ironie', deugde en waardes wat soek geraak het in die selfkoesterende lawines van ‘selfekspressie' wat 'n mens soms aantref in die jonger poësie.
"In 'n tyd van snelle, oppervlakkige, dikwels eensydig-oordelende kommunikasie op sosiale media bied haar gedigte 'n milde lering van die verwikkeldheid en dubbelsinnigheid van die lewe en stuur dit weg van selfbejammering en -idealisering. Sy skryf poësie wat dink en glimlag."
Van Niekerk het Eybers twee keer ontmoet.

Sy beskryf haar: " 'n Wakker, waaksame en oplettende oog, 'n vriendelik-afstandelike manier, iemand met oorwoë menings, maar onnadruklik uitgespreek, 'n spitsvondige, humorvolle persoon."
Van Niekerk was dekades gelede teenwoordig by 'n byeenkoms waar 'n uitgawe van 'n literêre Amsterdamse tydskrif aan Eybers gewy is.
"Ek het gesien hoe al die groot digterbroeders van die stad haar met groot bewondering en respek kom groet het in haar stoel. Sy het al die aandag en verering op 'n heel beskeie en lig geamuseerde manier oor haar heen laat kom. Nie net as digter nie, maar ook as mens was Eybers iemand wat, in haar eie woorde, ‘liewer in terugsluk as in uitstort' sou wou stik."
Die aktrise Elma Potgieter vertolk Eybers se gedigte in haar poësieproduksie Vrou versus vrou: Van Wespark tot Kolmanskop, wat bestaan uit gedigte deur Eybers en Corlia Fourie.
Potgieter is, soos Eybers, in Klerksdorp gebore en Eybers se pa het Potgieter se ma in Schweizer-Reneke gedoop.
"Eybers besit die vermoë om die kwesbaarheid van die menslike kondisie met patos, humor, liefde en ironie te skets. Die liefde is 'n belangrike onderwerp vir haar en sy hanteer dit terselfdertyd lig en diepsinnig in byvoorbeeld ‘Ontmoeting', waar sy 'n kortstondige ou geliefde raakloop.
"Dan is daar haar beskrywing van 'n diepgaande liefde wat sy beskryf in ‘Die geskenk'; die herhaling van verskillende gewaarwordinge wat sy telkens inlei.
"Sy is sterk filosofies ingestel, maar is nooit voorskriftelik nie, soos haar eenvoudige gedig ‘Twee kleuters in die Vondelpark' wys, waar sy die ‘verwondering van die onskuld' skets deur die tweetjies wat na 'n swaan se dubbelbeeld in die water kyk terwyl hulle later al die maskers van die grootmenswêreld begin gebruik.
"Dan is daar ‘Wespark', tekenend van hoe ek haar beskryf: 'n Behendige vakman met 'n onheilige humorsin."

Eybers het Suid-Afrika nie om politieke redes verlaat nie, maar Helen Suzman, stigterslid van die Progressiewe Party, was 'n heldin van haar.
"Sy het later nie meer so erg belang gestel nie, maar haar politiek was beslis vir die underdog en sy was gekant teen onreg," sê Jansen.
"Dit het te doen met haar soort mensskuheid in 'n sekere sin . . . of meer vir groter groepe. Een tot een was vir haar lekker, maar sy wou nie op besoek wees en afhanklik van diegene wat haar wou sien nie. Sy was nogal hipochondries. Sy was altyd bang sy gaan iets oorkom as sy te ver weggaan."
Eybers was aanvanklik ongelukkig, maar het later werklik tuis in Amsterdam gevoel.

"Sy het respek gehad vir die Nederlanders se afstandelikheid, maar sy kon haar ook vererg vir die bruutheid en eerlikheid van die Nederlanders. Sy het 'n fiets gehad en later jare het sy baie gestap. Ons het baie gewandel. Later het sy met haar klein Suzuki gery. Sy was heel avontuurlik."





















