
Dis 1944 en Chrisjan Cronjé is in Johannesburg om sy geld terug te eis nadat 'n transaksie om sy buurplaas Jerigo te koop, misluk het. Die eienaar, George Baker, is dood voordat die koopooreenkoms beklink is en nou moet Chrisjan met dié se seun, Edward, onderhandel. Hy smeer sy suster, Catherine, aan Chrisjan af in ruil vir honderd pond. Die ongekunstelde boer van die Vrystaat het geen ander keuse nie as om die gesofistikeerde jong vrou van Johannesburg saam te neem na sy plaas, Kanaän. En ná die skielike dood van haar geliefde vader het Catherine nie 'n ander heenkome nie.Dié twee karakters is die spil waarom die gebeure in Sophia Kapp se historiese nuwe liefdesroman, Kanaän (LAPA Uitgewers, R300), draai. Die boeiende verhaal roer verskeie donker en omstrede temas, soos rassevooroordeel, liefde oor die kleurgrens heen, verlies en skuld, waardigheid en medemenslikheid, aan.
Ek het per e-pos met Sophia Kapp gesels oor haar nuwe boek.

Wat was die vonk vir die verhaal?
Ek was ná Kantelpunt eers bietjie moeg vir 'n vrou wat kwaad is, en lus vir 'n oulike heldin en 'n regte, egte held (een wat nie weet hy is 'n held nie). Dis dalk nie heeltemal die vonk nie, eerder 'n saadjie: My oupa- en oumagrootjie het in Senekal se distrik geboer. Ek het hom nie geken nie, haar wel. Sy was 'n mooi vrou, en intelligent - 'n onderwyseres, wat nogal ongewoon was. Hy was 'n Hertzogiet en as jong man 'n krygsgevangene op Diyatalawa in Sri Lanka; sy was 'n Sap - haar broers het onder generaal Louis Botha geveg. En omdat hulle uit Cookhouse in die Oos-Kaap gekom het, was hul deelname aan die oorlog soveel merkwaardiger - as hulle gevang sou word, sou hulle as verraaiers tereggestel word. Dis 'n deel van die geskiedenis wat ons nie meer mooi begryp nie en ek wou die storie skryf voor die mense wat dit nog kan onthou, nie meer met ons is nie.
Dis nie die eerste keer dat die Vrystaat as agtergrond dien in een van jou verhale nie. Is daar iets wat jou aan die omgewing bind?
Ek dink ek is bietjie van 'n verloopte Vrystater. Ek het net daar studeer (Kovsies, vroeë tagtigs), maar my pa is van Kroonstad. Blouskool. Sy mense was Vrystaters. Sy ma se mense was boere. Sy pa se ma het in die konsentrasiekamp op Bethulie beland omdat die Boeregeneraals in haar losieshuis op Bethlehem vergader het.Die Vrystaat het altyd vir my 'n vreemde bekoring ingehou. Mense praat maklik neerhalend daaroor - dis plat, droog, ongesofistikeerd en bekrompe - maar ek het van die lekkerste tye van my lewe daar deurgebring en van die vriendelikste mense in die land daar ontmoet. Ja, die seisoene het hul uitdagings. Die somer is bloedig warm, die winter is skroeiend koud. En ja, daar is groot sosiale onregte wat daar gebeur het, en steeds gebeur, omdat mense nie bereid is om hul koppe oop te maak nie. Maar as die plek jou eers gevat het, is dit vir ewig deel van jou syn.
Moes jy baie navorsing doen om die verhaal te kon skryf?
Ja, ek het baie meer navorsing vir hierdie storie gedoen as vir enige van my ander stories. Nietemin, ek dink nie ek het naastenby soveel navorsing gedoen as wat skrywers van letterkunde byvoorbeeld doen nie. Dit was vir my net belangrik om die geskiedkundige feite en omstandighede reg aan te bied sodat dit nie ingeligte lesers pla nie. Ek vermoed die geslag lesers wat sal kan sê dat ? ding anachronisties is, is aan die uitsterf, maar nietemin. Ek wou nie goed in die storie inskryf wat opsigtelik snert is nie.My eerste uitstappie was na die Joodse biblioteek in Kaapstad. Die personeel daar het my so baie gehelp, veral 'n assistent met die naam Janine Rodgers. Die Joodse gemeenskap het hul geskiedenis in Suid-Afrika tot in die fynste besonderhede opgeteken - die Joodse gesinne wat op elke dorp in hierdie land gewoon het en wat hulle daar gedoen het. Dit is absoluut merkwaardig.Feite oor die lewenswyse, wat beskikbaar was en wat nie, hoe 'n boerdery bedryf is, of daar lopende water in die plaashuis sou wees, wat die naam vir die trein was wat van Johannesburg af Kroonstad toe geloop het en hoe laat dit vertrek het, het ek by my pa gekry. Sy oupa het tussen Senekal en Paul Roux geboer, en sy pa was 'n treindrywer.Maar dis soos jy sê: Navorsing is nooit die doel van 'n storieboek nie. Die storie is die doel, en as die navorsing en die geskiedkundige feite nie die storie voortstu nie, hoort dit nie in die boek nie. Dan is dit soos 'n swart bra wat deur 'n wit bloes skyn - gewoon verkeerd.Uiteindelik was die hardste werk aan die outentiekheid van die storie nie die feite nie, maar die taalgebruik. Ek het probeer om die uitdrukkings en woordeskat, veral in die dialoog, korrek te hou, en dit was baie moeiliker as om feite te gaan navors.
Was daar iets waarop jy in jou navorsing afgekom het wat jou verstom het?
Die geskiedenis van die Italiaanse krygsgevangenes in Suid-Afrika was vir my verstommend. Die meeste van hulle is in 'n kamp by Zonderwater naby Cullinan aangehou. Die kampkommandant, kolonel Hendrik Prinsloo, was self as seuntjie tydens die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekamp op Barberton, en hy het sy bes gedoen om toe te sien dat die gevangenes menslik behandel word. Op die internet kry jy byvoorbeeld foto's van die kampe waar die krygsgevangenes hele operas uitvoer - met orkes en kostuums en al. Die kamp het meer as 100 000 manskappe op 'n slag gehuisves, en in al die jare wat dit bestaan het, is net 252 gevangenes daar dood. Dit is werklik merkwaardig. Prinsloo het later die Orde van die Ster van Italië van die Italiaanse regering ontvang en die pous het aan hom die Orde van Goeie Prestasie toegeken.
Catherine Baker en Katryn Cronjé, dieselfde karakter maar tog ook verskillend. Wat het jy van die karakter geleer oor vrouwees?
Waarskynlik dat 'n mens se lewe altyd in die eerste plek gaan oor die gehalte van jou karakter. Dis nie geld of goed of selfs geleenthede wat jou besonders maak nie, dis wat jy is, veral wanneer dinge swaar raak, wat jou waarde bepaal. Catherine het elke moontlike vooruitsig gehad om 'n wonderlike lewe te hê, maar dis maklik om wonderlik te lewe as geld die pad vir jou gelykmaak. Katryn moes in die Vrystaat, op 'n plek waar niks sag of koesterend is nie en tussen mense wat haar nie wou aanvaar nie, vir haarself 'n lewe maak, en dit het sy by uitstek reggekry. Ek dink nie dis 'n sommerso prestasie nie.
Katryn en Chrisjan se verhaal word onderlê deur donker en omstrede temas, rassevooroordeel, liefde oor die kleurgrens heen, verlies en skuld, waardigheid en medemenslikheid. Wil jy iets hieroor sê ten opsigte van die periode van die verhaal?
Ek het grootgeword in die bloeitydperk van "Afrikanernasionalisme". Ek sien nou nog oorblyfsels daarvan in die retoriek van sommige organisasies wat namens Afrikaners praat of oënskynlik vir Afrikaners werk. Die indruk word altyd geskep dat "die Afrikanervolk" 'n eensgesinde, samehorige groep mense was met 'n eenvormige lewensuitkyk en gedeelde oogmerke. En verhewe. Hulle was almal "Boere-adel".
Dis gewoon snert.
Die Afrikaners was nog altyd 'n spul dwarstrekkers. Hul voorsate het uit Europa uit padgegee omdat dinge nie na hul smaak verloop het nie, en die Voortrekkers het uit die Kaap uit padgegee omdat dinge nie na hul smaak verloop het nie. Hulle het oorlog gemaak oral waar hulle gegaan het, en "afstig" was hul lewensleuse. Hulle was, selfs in die bloeitydperk van Afrikanernasionalisme, nie eensgesind oor enigiets nie, en jy kon nie 'n gesprek oor politiek of godsdiens of geld hê sonder dat een helfte van die familie in hul kar geklim en gery het nie. Hulle was 'n spul korrelkoppe, met uiteenlopende menings en baie uiteenlopende lewens, en jy hoef net na die aantal kerklike denominasies en politieke partye in ons geskiedenis te kyk om te weet hoe "eensgesind" Afrikaners was.
Die storie probeer 'n bietjie hierdie mitologisering en romantisering van ons geskiedenis weerlê, maar dit probeer ook sê dat ons nie vir ons voorouers hoef skaam te wees nie. Hulle was wat hulle was, en ons mag met liefde en deernis aan hulle terugdink, al was hulle gebroke en gewoon. Dit is nie nodig om ons voorouers op te dis as adel of helde om met hulle ? verbintenis te hê nie. Ons het met hulle 'n verbintenis, ongeag wat hulle was. Ons plig is om die foute wat hulle gemaak het, raak te sien en dit nie te herhaal nie.
Chrisjan is 'n uitsonderlike jong man. Hoe het jy sy karakter geskep?
Chrisjan is 'n bietjie soos die manne in my familie. Hulle is almal die stil, sterk tipe, met vroue wat om hulle kwetter en fladder tot hulle die dag genoeg gehad het en hul voet neersit. Chrisjan is 'n bietjie so, maar ook nie heeltemal nie.
Chrisjan is werklik een van my gunstelingkarakters ooit. Hy is so 'n suiwer siel, so goed tot in die murg van sy gebeente, sonder dat hy dit ooit werklik besef. Hy is nou die verpersoonliking van die sout van die aarde, die soort man wat beloftes maak en dan daarby hou, wat 'n ding doen omdat dit reg is en nie omdat dit hom laat goed lyk nie, en wat verskoning kan vra as hy verkeerd was. Op die oog af pas hy glad nie by die gesofistikeerde Catherine nie, maar in werklikheid is hy presies die soort man wat sy nodig het.
Watter karakter het jou werklik aan die hart gegryp?
Boetie is Kanaän se broosste siel, en natuurlik het ek 'n baie sagte plek vir hom. Maar ou Chrisjan, wat so hard probeer om die regte ding te doen, wat so binnetoe gaan met alles wat seermaak, lê vir my werklik baie na aan die hart.
It happened, therefore it can happen again.- Primo Levi. Waar het jy die aanhaling raakgelees en waarom juis dit gebruik?
Een van die ontwrigtendste gebeurtenisse van my lewe was my besoek aan die Holocaust Museum in Washington. Dit is om verskeie redes 'n lewensveranderende ervaring, maar van al die goed wat my daar gevang het, was die aanhalings teen die mure die verpletterendste. En by baie van die aanhalings het ek stilgestaan en gedink: Dit kan net so op Suid-Afrika van toepassing gemaak word. Oor ons geskiedenis, en oor wat nou hier gebeur.
Primo Levi was 'n Italiaanse Jood en 'n Auschwitz-oorlewende. Die aanhaling kom uit sy boek Surviving in Auschwitz en ek het spesifiek die stukkie gekies omdat dit eintlik die tema van my storie ook is: Goed gebeur. Dit het al gebeur, en dit hou aan gebeur omdat mense dink dit sal nie gebeur nie. Hier is die volledige paragrafie:
We must be listened to: above and beyond our personal experience, we have collectively witnessed a fundamental unexpected event, fundamental precisely because unexpected, not foreseen by anyone. It happened, therefore it can happen again: this is the core of what we have to say. It can happen, and it can happen everywhere.
Ek is gebore lank ná die stowwe van die Tweede Wêreldoorlog gaan lê het, maar ek het deur die donkerste jare van apartheid geleef. My oupas en oumas het die skakel tussen Nazisme en apartheid geken. My ouers het dit geken. Dalk nie altyd erken nie, maar hulle het daarvan geweet. En veral omdat die wêreld daarvan geweet het, het die ergste afgryslikhede van Nazi-Duitsland nie hier gebeur nie. Wie weet wat in hierdie land sou gebeur het as daardie rem nie aangedraai is nie? My geslag en my kind se geslag het hierdie insig verloor. Die opkoms van regse nasionalisme dwarsoor die wêreld, veral in Europa en in die VSA, is vir my 'n teken dat die grootste deel van die Weste nie meer die gevaartekens van so 'n uitsluitende en vervreemdende ideologie herken nie. Politieke leiers dink dis iets waarmee jy kan speel om 'n politieke loopbaan te bevorder. Hulle swaai dit voor hul ondersteuners rond soos 'n wortel voor 'n donkie se neus, en hulle weet nie dis eintlik 'n ding waarmee jy die hele wêreld in oorlog kan dompel nie.
Vir die huidige geslag is die woord Nazisme 'n sinoniem vir die Joodse volksmoord. Dis nie moeilik om die volksmoord af te keur nie - ons kan almal ons hande in afgryse saamslaan oor die gruwels wat teenoor die Jode gepleeg is. Maar Nazisme was baie meer as rassisme of selfs volksmoord. Onthou dat die meeste Duitsers nie eens geweet het daar is 'n volksmoord aan die gang nie. Die uitwissing van die Jode was nie waarom hulle Nazi's geword het nie, hulle het Nazi's geword omdat Hitler vir hulle gesê het hulle skuld die wêreld niks en hulle is geregtig daarop om in 'n sterk, verenigde Duitsland te woon waar die staat na hul welsyn omsien. Nazisme (nasionaal-sosialisme) gaan daaroor dat 'n sterk staat vir 'n verenigde (rasegte) volk 'n tuiste moet wees. As 'n mens dit weet, en onthou, is iets soos "Let's make America great again" nie iets wat jou bewondering afdwing nie, dit het jou koud tot in jou murg.
Is jy 'n fyn waarnemer van mense en hou jy notas oor eienskappe en mannerismes om in jou boeke te gebruik?
Nee, glad nie. Ek skryf gewoon 'n mens soos wat ek hom of haar in my kop beleef. Die waarneming moes seker lankal begin het, want die meeste van die tyd weet ek net 'n karakter is sus en so en sal daarom iets doen of sê. Ek doen wel moeite om my karakters behoorlik uit te pluis voor ek begin skryf, sodat ek weet watter soort optrede, woordeskat, reaksies en opvattings by hulle gaan pas.
Wat was die mees uitdagende van die skryf van die verhaal?
Dis altyd moeilik om ná die tyd iets aan die skryfproses uit te sonder wat moeilik was. Terwyl ek skryf, is dit soos kraam, en dan vergeet ek ná die tyd hoe moeilik dit was (ook soos kraam). Vir my is dit altyd moeilik om tyd te kry om te skryf. Dit is my tweede werk, en ek is ook hart en siel by my VivA-werk betrokke. Dit beteken dat ek soms my skryftyd aan my VivA-werk afstaan, en dit maak die skryfproses werklik uitdagend.
Het jy 'n voorliefde vir geskiedenis en wat is die relevansie van geskiedenis in hierdie ongewone tyd waarin ons ons bevind?
Ek het in my derde jaar geskiedenis as 'n ekstra hoofvak geneem, net omdat ek so baie daarvan hou. Afgesien van die gevoel van herkoms wat dit 'n mens gee, is die geskiedenis vol patrone wat 'n mens 'n ruimer visie op die hede gee.
Selfs hierdie virussituasie waarmee ons nou te make het, het al in die geskiedenis gebeur. Die pes en die Groot Griep was maar baie dieselfde - die mensdom was net baie minder paraat om dit te hanteer. Dit is veral belangrik om te verstaan wat die snellers is wat gebeure in 'n land of in 'n gebied in 'n bepaalde rigting stuur. Die opkoms van Nazisme is byvoorbeeld direk toe te skryf aan die hond se brekfis wat die Vrede van Versailles was. Frankryk was so ingestel daarop om Duitsland te verneder en verswak dat iemand soos Hitler maklik die Duitsers se frustrasie oor hul ekonomiese nood kon gebruik om sy eie mal politieke ideale te bevorder. 'n Groep (ras, volk, taal) wat verneder word, sal altyd terugbaklei, en die terugbaklei lyk altyd dieselfde: Dit is 'n luidkeelse aandrang op erkenning, soms buitensporig ten opsigte van prestasie of verdienste. Die leiers is militant en manipulerend, en die volgelinge meestal 'n klomp skape. En hierdie ding is soos 'n pendulum wat swaai, van die een uiterste na die ander, en die afgryslikhede wat op die uiterstes van die swaai plaasvind, gebeur altyd omdat daar gewone mense is wat dink dit sal nie gebeur nie.













