Boeke

’n Laaste in Laeveld-trilogie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Fiksie

Waar die doringbome sing

Elize Parker

LUCA, R290

Eko-fiksie span die natuur dikwels as karakter én ruimte in.

Parker se Laeveld-trilogie, bestaande uit Stil vloei die Komati (Luca, 2021), Wanneer skaduwees kantel (Luca, 2023) en hierdie betrokke roman, is geen uitsondering nie. Die sentrale karakters, wat beurtelings as protagoniste optree, is drie niggies, Lenore, Tarien en Bella, almal kleindogters van 'n eertydse Laeveldlegende, Tjaart van der Walt. Die inleidende dramatis personae is van groot waarde vir geheueverfrissing by die lees van hierdie finale bydrae in die trilogie, en illustreer die werking van die openingstelling deurdat selfs diere en hul name die lys van karakters gehaal het.

Lenore is op wankelrige emosionele bene ná uiteenlopende persoonlike verliese, maar moet kophou en aanhou ter wille van haar twee jong seuns, midde-in die uitdagings van wildstroping, omgewingsbesoedeling, intimidasie en korrupsie. Tarien bevind haarself in die Bolandse wynland, in kontras met haar eertydse rol as reddingswerker, maar dra nietemin haar verlede soos 'n skaduwee met haar saam. Bella se stryd met infertiliteit kortwiek haar lewenslange begeerte.

Natuurbeskrywings is noodsaaklik in 'n roman soos hierdie, maar daar is soms 'n oormaat vergelykings in 'n enkele paragraaf. Daarteenoor vertoon beskrywings van menslike karakters en hul ervarings soms afgejaag en oorvereenvoudig: "Lenore merk op Bella is erg gespanne." (bl. 52). 'n Teenstrydigheid in kontinuïteit krap ook ten opsigte van 'n eenjarige, op bl. 88 stap hy ". . . aan haar hand kar toe", op bl. 89 word hy beskryf as 'n "aspatat" met 'n "wiegel-waggel-stappie", maar op bl. 91 word daar van dieselfde kind gesê: "Hy gaan sekerlik een van die dae loop."

Enkele regsfoute pla: spekulatiewe leidende vrae, soos "Wat dink u was die aangeklaagde se motivering?" (bl. 74) word tydens hoofondervraging toegelaat, duplisering van kriminele klagte glip deur (bl. 192), klagte word foutiewelik beskryf as kwaadwillige brandstigting in plaas van slegs brandstigting, anders as by 'n klagte van opsetlike saakbeskadiging (bl. 74) en aanranding met die doel, in plaas van opset, om ernstig te beseer, wat op verwarring tussen motivering en die skuldvereiste dui (bl. 192). Die verouderde term "magistraat" word ook deurgaans gebruik.

Die roman het 'n sterk Christelike aanslag, maar verval nie in clichés nie en verwoord desperaatheid ten opsigte van die 2020-pandemie se onsekerheid en die verlies van 'n geliefde oortuigend en empaties.

Die leesvolgorde van die trilogie moet verkieslik behou word.

Anschen Conradie is 'n vryskutresensent van Ma­khanda in die Oos-Kaap.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM