Boeke

‘Skuld’ aangrypende debuut

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Fiksie

Die skuld wat bloed betaal

Sandra Skinner

NALEDI, R275

Sandra Skinner het voorheen gedigte in Poort en Tydskrif vir letterkunde gepubliseer, maar verras met hierdie debuut, Die skuld wat bloed betaal.

Twee kinders word tydens die apartheidsjare in dieselfde plattelandse wêreld in die Karoo groot. Een wit, een bruin. Al verskil hul lewens­omstandighede radikaal, is hul wortels diep in dieselfde grond geplant - grond deurdrenk met die bloed en beendere van voorsate. Vernietigende gedragspatrone spoel deur geslagte heen en druk swaar op hul jong skouers.

Madelee en Karools probeer elkeen op hul eie manier sin maak van hul bestaan, terwyl hulle worstel met die brute nalatenskap van gesins- en geslagsgeweld. In hul pogings om staande te bly, vorm ontstellende gedrags­patrone. Wanneer hul paaie onvermydelik kruis, bars die verskille oop soos ou wonde om nuwes te vorm. Albei betaal bitter aan die skuld van bloed. Skinner delf diep in die psige van die beskadigde kind en hoe dit hul lewens later affekteer. Madelee en Karools se ontmoeting as kinders was katastrofies, en daarna volg die leser met ontsetting in die hart hul lewens.

Die verhaal speel af in die Karoo, sonder dat 'n spesifieke area genoem word. Indien dit gedoen is om mense teen ontbloting van ware gebeure te beskerm, is dit slim gedoen, want dit versterk die idee hoe universeel die gruwelikhede plaasvind. Skinner se werk as 'n jong skoolsielkundige by 'n nywerheidskool, werk in arbeidsverhoudinge en as korporatiewe lewensafrigter, berei haar deeglik voor om die leser 'n rou, eerlike blik in die spieël van Suid-Afrika te gee. Dis 'n ongemaklike lees, want jy weet daar is nog vele Madelees en Karoolse.

Temas is onregte uit die verlede, gesinsgeweld, skuld- en wraakgevoelens, maar veral ontheemding. Generatiewe trauma wat oorgedra word aan die volgende geslag, word goed ontgin. Lesers wat bekend is met die term "mimetiese kuns", sal verstaan hoe goed dit uitgebeeld word in die aksies van die karakters, op totaal verskillende maniere.

Onverwerkte trauma wat onderdruk word, manifesteer in die herskepping daarvan. Onbewustelik is dit 'n poging om 'n ander uitkoms te verbeel, wat natuurlik nie moontlik is nie en dan die situasie vererger. Dit gebeur volgens die handboek in sowel Madelee as Karools se lewe. Dit is 'n dun boek, maar kragtig genoeg om die verhaal te vertel. Dit sny vinnig, maar diep.

Die skuld wat bloed betaal is 'n aangrypende debuut. Skinner versuiker of verromantiseer nie, sy skryf in eenvoudige taal tonele wat jy nie graag in jou kop wou hê nie, maar die leser word gedwing om dit te beleef. Sy weier om weg te kyk van die sistemiese wreedhede van die verlede, en vereis van die leser om dieselfde te doen.

Trisa Hugo is 'n skrywer en resensent Kleinmond.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM