Dance Intersect, 'n innoverende en uiteenlopende dansprogram wat fokus op dansteater, word van 6 tot 8 Junie in die Baxterteater in Kaapstad aangebied.
Internasionale asook plaaslike dansgeselskappe tree op in dié produksie, wat aangebied word deur Anderson Carvalho Dance & Choreography (ACDC), 'n Brasiliaans-Nederlandse dansgeselskap wat uit Suid-Afrikaanse en internasionale dansers bestaan.
Mense kan uitsien na opwindende vertonings waar kunstenaars van uiteenlopende agtergronde en artistieke benaderings bymekaar kom.
ACDC se jongste werk, Silent Symphony of Feeling, debuteer met dansers van Suid-Afrika, Pole, Nederland, Amerika en die Verenigde Koninkryk.
Ook op die program is Ballet de Barcelona van Spanje, 'n gevierde internasionale dansgeselskap, en die Kaapse SboNdaba Dance onder leiding van Sbonakaliso Ndaba.
Lee van der Merwe is aangewys as die plaaslike gaschoreograaf. Die 29-jarige kunstenaar moet saam met Ballet de Barcelona 'n nuwe stuk vir Dance Intersect skep. Die stuk heet After Dark en volg die storie van drie karakters en die naglewe van 'n stad.
"Ek is so verskriklik opgewonde om die gekose choreograaf te wees. Toe ek daaroor ingelig is, kon ek nie glo hulle het my gevra nie. Dit is ongelooflik!
Die kaliber en standaard van die dansers is tegnies meesterlik.
— Lee van der Merwe
"As 'n kunstenaar is dit fantasties wanneer jy so 'n groot geleentheid gegun word en mense in jou glo. Daar is 'n vuur in my aangesteek en ek kan nie wag om die meeste van die geleentheid te maak nie. Ek het lank gewag om hierdie vertoning te skep, ek het dit heeltyd in my agtersak gehad, maar het net nooit die kans gehad om iets op so 'n groot skaal te skep nie."
Gehore kan egte diversiteit en verskillende dansstyle op die verhoog verwag, sê Van der Merwe.
"Elke vertoning gaan so anders as die volgende een wees, daar gaan regtig iets vir almal te sien wees, maak nie saak van watter soort dans jy hou nie. Die kaliber en standaard van die dansers is tegnies meesterlik."
Silent Symphony of Feelings is geskep ná 'n residensie van vyf maande by Ballet on Kloof. Sewe dansers is gekies ná 'n oop internasionale oudisie van wie drie van Kaapstad is. Die Nederlandse danser Sofie van Doorn, Weronika Kaminska, 'n Pool, die drie van Kaapstad, Gemma Trehearn, Alice Maybin en Nicolas Laubscher, Caitlyn Casson van New York en Rhapsody Stiggers van Boston, Amerika, voltooi die dansgroep.
Dance Intersect word ondersteun deur die Nederlandse departement van buitelandse sake as deel van sy ontwikkelingsbeleid.
• Daar is vier vertonings op 6 en 7 Junie om 19:30 en op 8 Junie is daar twee vertonings - om 14:30 en 19:30. Al die deelnemende geselskappe tree in een vertoning op. Elke vertoning bevat al die deelnemende geselskappe en dansers. Een kaartjie bied toegang tot die hele program. Elke uitvoering sluit twee pouses in. Die tydsduur is 120 minute en sluit 'n pouse in.
Een kaartjie bied toegang tot die hele program. Kaartjies kos tussen R250 en R350. Bespreek deur Webtickets.















