Dansteater vorm weer eens 'n groot deel van die vermaak wat vanjaar op die Nasionale Kunstefees in Makhanda aangebied word.
Die Darkroom Contemporary Dance Theatre voer sy produksie Ultra op by die 50ste aanbieding van dié gewilde fees.
Ultra vorm deel van die saamgestelde program onder die tema Justice and Hope.
Dié lewendige dansaanbieding behels verskeie multimedia-elemente, soos musiek deur die musikant Brydon Bolton.
Die kombinasie van uitsonderlike musiek en verstommende danspassies sal aan die gehoor 'n meesleurende verhoogondervinding bied.
Feesgangers kan verwag dat die dansers fisiek tot die uiterste gedaag word en dat alle voorgestelde limiete oortref sal word.
Ultra stel 'n virtuele realiteit voor waar die dansers se menslikheid aanhoudend deur 'n alomteenwoordige masjien onderbreek word.
"Die konsep vir die produksie het ontstaan uit 'n belangstelling in die nuanses en kompleksiteit van hoe samelewings funksioneer, beide op 'n realistiese sowel as virtuele basis," sê Louise Coetzer, medestigter van die Darkroom Contemporary Dance Theatre.
"Met ekstreme oomblikke in verskeie vorme en gedaantes word daarmee gepoog om die kyker te betrek en toe te laat om die fisieke liggaamlikheid te probeer verstaan."
Daarbenewens het Coetzer, wat pryse vir verskeie dansflieks ontvang het, met haar nuuskierigheid gebruik gemaak van nuwe tegnologie en ander media-toepassings wat bydra om die merkwaardige produksie tot die uiterste te neem.
Die feesgangers kan uitsien na 'n afgeronde, eerlike en vurige optrede deur die dansers.
Die konsep, direksie en choreografie word deur Coetzer behartig, en Bronwyn Craddock, Darion Adams en Gabrielle Fairhead is die dansers wat die gehoor sal betower.
Die visuele effekte word in die bekwame hande van Oscar O'Ryan en Keshet Karidi gelaat terwyl die kostuums deur Henri Design verskaf word.
Die Darkroom Contemporary Dance Theatre het al verskeie pryse ontvang vir die innoverende bydrae om dans te hervestig as 'n fenomenale uitvoering wat gehore bykans sprakeloos van waardering laat.
Die stigters, Coetzer en O'Ryan, bied ook met hierdie dansgeselskap, wat in 2010 gestig is, 'n platform vir alle betrokke kunstenaars om geleenthede te skep waar hulle talente en kennis onder mekaar kan deel en só tot hul volle potensiaal kan ontwikkel.
Daar word spesifiek gefokus op drie pilare: optrede, film en ontwikkeling deur die gebruik van nuwe tegnologie en digitale media.
Die aanbieding Ultra is moontlik gemaak deur 'n skenking van die Nasionale Lotery-kommissie en word ondersteun deur die Nasionale Kunstefees.) Ultra sal op 20 Junie om 19:00, 21 Junie om 12:00 en 19:00 en 22 Junie om 13:00 by die Graeme College in Templetonrylaan, Makhanda, aangebied word.
Die kaartjies daarvoor kos R120 per persoon en kan by https://tickets.nationalartsfestival.co.za/en/events/218/ultra bespreek word.
Besoek die webtuiste by www.darkroomcontemporary.com, Facebook by DarkroomContemporary en Instagram by DarkroomContemporary vir meer inligting.
Besoek ook Coetzer se webwerf by www.louisecoetzer.com vir meer inligting oor haar werk.





















