Begin by die huis en op jou eie dorp. Só skep jy gemeensaamheid en maak 'n impak wat wyd uitkring.
So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, wat jaarliks die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn aanbied.
Dié fees is pas deur die Wes-Kaapse regering as beste gemeenskapsfees vereer en sy projek saam met die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), Karoo Kaarte, het 'n Basa-prys as beste gemeenskapsprojek ontvang. Voorts het die Wes-Kaapse regering Theart ook vir sy werk in die kunste vereer. Karoo Kaarte is boonop 'n finalis in vier Pendoring-kategorieë en die wenners word op 9 November bekend gemaak.
Theart glo dat die kunste deur die jaar moet leef en gedy in die streek waar die KKNK aangebied word. Dit moenie net blom die week wat die fees aangebied word nie. Só het die Karoo Kaarte-projek ontstaan, wat die gemeenskap se stories opneem, argiveer en in uitvoerings en kunsprojekte herskep.
"Ek glo dat die kunste in al die dissiplines werklik 'n verskil aan mense en 'n gemeenskap kan maak. Dis een van die doelstellings van die KKNK - om nasiebou te bevorder en deur die kunste transformasie te bewerkstellig."
Hierdie projek is nie net aangepak om werkskepping en vaardigheidsontwikkeling in Oudtshoorn te bevorder nie, dis om 'n gemeenskap positief te verander en op te hef, sê Theart.

"Ons almal is bekommerd oor wat in die wêreld en in Suid-Afrika gebeur, maar ek dink die enigste manier om 'n verskil te maak, is om in jou omgewing te werk."
Die Karoo Kaarte-projek het 'n lang aanloop gehad. Die saadjie daarvoor is deur dr. David Piedt, 'n opvoedkundige en een van die stigterslede van die KKNK, geplant.
"Hy was 'n formidabele man en sy lewensverhaal het my geïnspireer. Deur hom het ek besef wat die ware betekenis van vergifnis en ubuntu is. Hy het my bewus gemaak van die kompleksiteite van Oudtshoorn en die onvertelde geskiedenis van die dorp en hoe die gebeure van die verlede steeds die lewe hier beïnvloed."
Só is die KKNK Oudtshoorn Kunsteakademie in 2019 begin, wat Piedt se groot droom was. Hy is in 2020 oorlede.
"Die idee van 'n opleidingsentrum in die kunste in Oudtshoorn is deur die pandemie gefnuik. Die fokus moes dadelik verskuif. Die pandemie het ons kans gegee om te herbesin oor alle aspekte van die organisasie en die fees."
Theart het voorheen saam met die teaterskepper Neil Coppen gewerk en bewonder sy Empatheatre, waar Coppen deur teater maatskaplike vraagstukke belig en empatie ontlok.
"Neil het vertel van 'n projek wat hy en Vaughn Sadie in Dundee aangepak het - dit was 'n vorm van maatskaplike ingryping met deelname van die inwoners wat op verskillende maniere die kunste gebruik het om te gesels oor maatskaplike vraagstukke op hul dorp."
Theart het hulle versoek om 'n soortgelyke projek in Oudtshoorn te begin. Die idee was om die mondelinge geskiedenis van dié Karoo-dorp te argiveer en dit as basis te gebruik vir kreatiewe projekte wat op die KKNK aangebied sou word. Die hele dorp is betrek en na vergaderings genooi om hul bydraes te gee en opleiding in die verskillende aspekte van die projek is gegee.

In 2022, tydens die eerste fees ná die pandemie, kon hulle saam met gemeenskapslede die produksie Op hierie dag aanbied, asook 'n kunsuitstalling van collages en gepubliseerde zines (informele tydskrifte met stories). Hulle het toe reeds sowat 140 onderhoude met dorpsmense gevoer.
Vanjaar is die produksie Droomkraankronieke opgevoer en is 'n ruimte met interaktiewe bedrywighede bestuur. 'n Boek met kinderstories asook pamflet-boekies met tradisionele kinderspeletjies is gepubliseer, en 'n app is geskep wat as begeleiding gedien het na die verskillende dele van die dorp waar jy na stories oor die spesifieke plek op die dorp kon luister.
Die projek het in 2022 werk vir 37 deelnemers en plaaslike verskaffers geskep en in 2023 is 66 werkgeleenthede geskep.
Dis roerend vir die gemeenskap om hul stories en hul geskiedenis op hierdie manier te beleef. Die projek gee erkenning aan die geskiedenis en stories van die dorpsmense.
"Dit sluit nie die vrywilligers in wat hul stories gedeel, ondersteuning gebied het of op 'n ander manier betrokke was nie.
"Dis roerend vir die gemeenskap om hul stories en hul geskiedenis op hierdie manier te beleef. Die projek gee erkenning aan die geskiedenis en stories van die dorpsmense. Daar is 'n trots in die wonderlike werk wat die hele span van Karoo Kaarte doen. Ons het nog 'n lang pad om te stap, maar ek dink die projek het reeds 'n groot invloed op die deelnemers gehad."
Hy glo dit gaan verder uitkring soos mense mekaar se stories leer ken en dat brûe só deur die kunste gebou gaan word.
"Mense leer mekaar se stories ken, die stories waarvan hulle dalk onbewus was."
Die Karoo Kaarte-span het reeds baie van hul oorspronklike doelwitte bereik, sê Theart.
"Dis vir die KKNK belangrik dat dit 'n volhoubare projek is wat oor jare sal groei en uitbrei. Deelnemers het reeds vaardighede aangeleer, werk is geskep, stories is geargiveer en die impak kring uit na die hele dorp."
Die grootste uitdaging is finansiële steun vir die Karoo Kaarte-projek. Die KKNK het dit onafhanklik gefinansier, met bydraes van vennote soos die ATKV, NATi en die Het Jan Marais Nationale Fonds.
"Ons is verheug dat die Jannie Mouton-stigting ook 'n skenking gemaak het om die nuwe jaar mee aan te pak. Om die projek egter volhoubaar te maak het ons nog langtermynskenkers en -finansiers nodig.
"Die erkenning wat die projek en die KKNK met die pryse ontvang, is wonderlik en beteken vir al die betrokkenes baie. Dit is 'n aanmoediging dat die projek sinvol is en 'n impak het."
Theart en sy span werskaf reeds om die program vir die 28ste KKNK vroeg in Desember aan te kondig.
Die fees word van 23 tot 31 Maart gedurende die skoolvakansie en oor Paasnaweek aangebied.












