Dans

Grotes byeen op program vir 29ste KKNK

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die skrywer Ingrid Winterbach het ’n satire ‘Moedswil en muitery’ vir die KKNK geskryf.  Foto: Jaco Marais
Die skrywer Ingrid Winterbach het ’n satire ‘Moedswil en muitery’ vir die KKNK geskryf. Foto: Jaco Marais

Die fees van die grotes tesaam en die terugkeer van 'n paar legendes - so kan 'n mens in die breë die program van die 29ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) beskryf.

Die fees word vanaf Dinsdag 1 tot Sondag 6 April op Oudtshoorn aangebied met die tema "Al die ietse". Dit beteken die program is so verpak dat daar iets vir almal is.

Hier is net 'n paar hoogtepunte om na uit te sien - en dit is nie naastenby alles nie:

• Antjie Krog bring spesiale hulde aan die ontslape digter Breyten Breytenbach in Digtersparadys;

• die skrywer Ingrid Winterbach het 'n satire gepen, Moedswil en muitery;

• Arnold Vosloo en Elzabé Zietsman is te sien in Liefdesbriewe;

• die aktrise Petru Wessels word deur haar akteurman, Carel Trichardt, geregisseer in die solostuk Die vrou met 27 kinders;

• die regisseur Hennie van Greunen keer ná 'n afwesigheid van sewe jaar terug na die fees;

• die Joe Barber-duo, David Isaacs en Oscar Petersen, is ná twee dekades terug op die fees;

• Casper de Vries bring 'n solostuk;

• Tobie Cronjé is te sien in 'n moordraaisel;

• David Kramer beplan 'n musiekproduksie saam met Zietsman, Katrien, die King en die Kween.

Die vereerdes van 2025 is die pianis en musiekopvoeder John Theodore vir sy diens aan die kunste; Marion Holm vir vertolking, Lee-Ann van Rooi ontvang die Kruispunt-eerbewys; en vir vernuwende denke, die rockgroep Die Heuwels Fantasties, bestaande uit Hunter Kennedy, Pierre Greeff en Fred den Hartog.

Die fees open met 'n konsert op die feesmarkterrein onder leiding van Richard Cock en sluit af met Nataniël en sy nuwe produksie Duif.

Winterbach se Moedswil en muitery begin by Jan van Riebeeck en sy vrou, Maria, se aankoms in die Kaap. Daar is 'n verstekeling aan boord wat vir als ander planne het. Dit kan as 'n rowwe rit deur Suid-Afrika se geskiedenis beskryf word met vele plesierighede. Dié skip word gestuur deur Tinarie van Wyk Loots en die spelers is Albert Pretorius, Nicole Holm, Brendon Daniels en Dean John Smith.

Zietsman en Vosloo ken mekaar al langer as vier dekades. In die stuk speel hulle geliefdes wat hul diepste geheime, drome en gevoelens met mekaar in briewe kommunikeer. Dit is 'n Afrikaanse verwerking van A.R. Gurney se Love Letters.

Die ondersoekende joernalis en komediant Marianne Thamm het haar eerste toneelstuk geskryf, en vir dié komiese drama het sy die lewe van Oudtshoorn se bekendste inwoner, C.J. Langenhoven, as inspirasie ingespan. Sonde met die spoke se rolverdeling bestaan uit Veronique Jephtas, Van Wyk Loots en Michele Burgers. Die regisseur is Lee-Ann van Rooi.

Wessel Pretorius het Die een wat bly, 'n fisieke teaterstuk, geskryf, met Sylvaine Strike en choreograwe Shaun Oelf en Grant van Ster. Dit handel oor twee seuns wat die dood van hul ma moet verwerk.

Pretorius se gevierde biografiese debuutwerk Ont-, wat destyds ook in Edinburg opgevoer is en wyd bekroon is, is ook op die fees. Wian Taljaard is in die stuk te sien oor die grootwordjare van 'n jong Afrikanerman wat op 'n reis van selfontdekking en aanvaarding is.

Die vrou met 27 kinders is gegrond op 'n ware lewensverhaal en handel oor 'n kinderlose egpaar. Die man, 'n beeldhouer, skep elke jaar vir sy vrou 'n baba uit hout. Die babas is vir hulle van vlees en bloed. Wessels was in 1996 in die stuk op die fees te sien.

Yasmina Reza se Tony-bekroonde komedie Kuns herleef danksy Naòmi Morgan se vertaling. Marthinus Basson is die regisseur en ontwerper, en die spelers is Wilhelm van der Walt, Ludwig Binge en Pretorius. Dit is 'n besinning oor moderne kuns. Wanneer een karakter 'n leë of wat lyk soos 'n leë doek teen 'n uitspattige prys koop, meen sy vriende hy is van lotjie getik.

Van Greunen se drama Annie + Helen handel oor die ontmoeting van die 25-jarige Annie Sullivan, 'n onderwyseres, en die 12-jarige blinde Helen Keller, wat 'n lewenslange vriendskap gesmee het. Sullivan was ook gesiggestremd. Cintaine Schutte, Judi Hattingh, Stian Bam, Eldon van der Merwe en Bianca Flanders is daarin te sien.

Op die kinderprogram debuteer die Afrikaanse Die koning van weggooigoed (The King of Broken Things).

Die Karoo Kaarte-projek keer terug na die fees waar die bekroonde Die Swartmerrie weer opgevoer word, sowel as 'n nuwe produksie Kroon en konfetti.

Lagdoepa is te vinde in die vertonings van Marc Lottering, Schalk Bezuidenhout, Holm, Thamm en Double Trouble met Dean John Smith en Veronique Jephtas.

Treffers van ander feeste kom ook na die Karoo. Ruim tyd in vir onder meer Pieces of me, Speelgoed van glas, Stinkhout, Albatros, Laaitie mettie biscuits, 'n Begin, Kruispad of die legende van die goue vis en Isidlamlilo / The Fire Eater.

Op die musiekprogram is daar net so 'n ryk verskeidenheid. Die pianis Mareli Stolp en die animasiekunstenaar Diek Grobler bied 'n buitengewone produksie Die gevlerktes aan. Grobler het drie kortprente geskep in reaksie op die soloklavier in werke van Jean-Philippe Rameau, Olivier Messiaen en die gelyknamige gedig van Susan Smith. Die musiek vir Die gevlerktes is deur Neo Muyanga gekomponeer.

Coenie de Villiers en Rocco de Villiers smee kragte saam vir 88, 'n debuutproduksie wat beloof om die gehoor van boeremusiek tot Bach te bied. Mauritz Lotz is op kitaar.

Danie Reënwolf du Toit en sy pa, Johan, tree saam op in Songs, stories en gedigte. Jannie du Toit bied De wals van de liefde aan, en die Charl du Plessis Trio meld aan met Bach & Beatles.

Die pas gestigte Cape Ballet Africa neem hul drieluik Salt, wat vanjaar onder luide toejuiging in Kaapstad gedebuteer het, ook na die fees.

Die KKNK sluit ook 'n uitgebreide visuele kunsprogram onder die kuratorskap van Liza Grobler in. Die feeskunstenaar is Henk Serfontein. Aktuele gespreksreekse, insluitend Netwerk 24 se gespreksreeks met die multimedia-verslaggewer Mia Spies, en boekgesprekke asook leefstyl-ervarings in die omgewing van Oudtshoorn en historiese wandelinge voltooi die program. Daar word later meer hieroor berig.

Kaartjies is beskikbaar by Webtickets. Word 'n Vriend van die KKNK en geniet voordele soos afslag op kaartjies. Besoek www.kknk.co.za vir meer besonderhede.

CTA