Daar is 'n behoefte aan samesyn en onmiddellike toegang tot die kunste ná die pandemie, want alles is duurder en ons het mekaar en die kunste nodig, want kuns praat.
So sê ds. Heerden van Niekerk van die NG kerk in Welgemoed, Kaapstad, wat binnekort die Welgemoed-kunstefees aanbied.
"Ons het agtergekom die belangstelling in ons eerste fees was so goed omdat mense graag in hul onmiddellike omgewing die kunste wil bywoon.
"En dis ook belangrik om saam te kom in 'n moeilike tyd wat so neerdrukkend is. Mense soek na 'n gemeenskap, om saam iets van die mooie, die skone, dit wat verhef, te geniet."

Boek, koek en allerhande feestelikhede is deel van die tweede aflewering van die fees, wat van 25 Augustus tot 9 September gehou word.
Literêre veterane soos Antjie Krog en Irma Joubert gesels en doen voorlesings op die program Boek & koek, die sjef Mynhardt Joubert lui die geleentheid in met 'n feestelike langtafel, Liewe Heksie maak 'n draai by die kinderfees met Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl, en Nic de Jager en Jan Wolmarans troos met woord en musiek.

Desiré Gardner se gewilde komiese solovertoning Magda Louw is ook op die program. Hierin neem sy die gehoor op reis rondom aspekte van vrouwees en menswees.
Jannie Moolman, Riaan Hunter en kore van die Laerskool Totius en die Hoërskool D.F. Malan bring hulde aan die ontslape Afrikaanse operareus Gé Korsten met 'n sangvertoning.
Die feesprogram
• Langtafelfees met sjef Joubert, 25 Augustus om 18:00
• Liewe Heksie vang vis, 26 Augustus om 14:30
• Boekpraatjie met Zuleka Smit, 27 Augustus om 09:00
• Ds. Jan Vermeulen gesels oor tienerkwessies, 27 Augustus om 18:00
• Ilne Fourie se komedie Laerskool Noord bied 'n komiese blik op die lewe van onderwysers nadat skool verdaag het, 28 Augustus om 19:30
• In Nêrens, Noord-Kaap kom die broers Frans (Geon Nel), Andries (De Klerk Oelofse) en Ronnie (Albert Pretorius) byeen vir hul pa se 65ste verjaarsdag, maar hulle is effe vervreem van mekaar, 30 Augustus om 19:30
• Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys, 1 September om 19:30.
• Nic de Jager en Jan Wolmarans bied Vertroosting met woord en musiek aan, 3 September om 11:00
• Ete met Renette Vosloo, 3 September om 12:30
• Magda Louw, 5 September om 19:30
• Gé Korsten-huldeblyk, 7 September om 19:00
• When Time Stood Still met PJ Powers en die Soweto Gospel Choir en die Laerskool Welgemoed Senior Koor, 8 September om 18:30
• Boek & koek met die skrywers Krog en Joubert, 9 September om 10:00
Vir kaartjies, besoek Computicket of skakel die kerkkantoor by 021 913 2320.





















