Die agt finaliste vir die ATKV-DigiToneel se werklikheidsreeks Gekies vir die kollig is bekend gemaak en die messe geslyp vir die eindronde waarin drie wenners met geldpryse beloon word.
Vir dié "voorloperplatform" moet tieners monoloë verfilm. Enigeen kan die monoloë skryf, maar die deelnemers moet dit aanbied en verfilm.
Die agt finaliste, wat uit 16 semifinaliste gekies is, word nou twee-twee deur vier mentors bygestaan. In dié fase doen die finaliste meer ondervinding op deur onder die wakende oog van die mentors met 'n kameraspan saam te span.
Vanjaar is die mentors Jacques Bessenger, Lindsey Cele, Marlo Minnaar en Liezl de Kock.
'n Nuwe paneel wat geen van die finaliste se werk gesien het nie, sal die laaste beoordeling behartig.
Die mentors word ook beoordeel. Verlede jaar se wenner, Solomon Cupido, is vanjaar die aanbieder op Gekies vir die kollig. Hy het saam met Bradley Olivier die rolprent Frankie en Felipé vervaardig, geregisseer en daarin gespeel.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, het die finaliste bekend gemaak. Hulle is:
Darren Cloete (Hoërskool Jan van Riebeeck) - Maskers.
Izaan Kotze (Hoërskool Ben Viljoen) - Sprokie in suburbia.
Keagan Cooper (Hoërskool Noordheuwel) - Toneel is tydmors.
Marelee Ferreira (Curro Windhoek Gymnasium) - In my kop.
Marionè Muller (Hoërskool Hugenote Springs) - Woorde in die water.
Nicole de Klerk (Hoërskool Randburg) - Koëvolusie van sestig.
Nina Strydom (Hoërskool Parel Vallei) - Tree Hugger.
Rico Immelman (Hoërskool Noordheuwel) - Veertig sekondes van vryheid.
Gekies vir die kollig word van 14 Oktober op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Dit bestaan uit vier episodes.

















