Drama: Kafka's Ape: Met Tony Bonani Miyambo. Skrywer: Franz Kafka (1917). Verwerking: Phala Ookeditse Phala. Venue: Baxter-ateljee tot 12 April.
Bykans 'n dekade het verloop sedert Kafka's Ape met Tony Bonani Miyambo die eerste keer in die Alexander Bar in Kaapstad opgevoer is. Dié piepklein teater, soos die Fugard-teater, bestaan helaas nie meer nie, maar die vele produksies wat daar die eerste keer aan die Moederstad se bittereinder-teaterliefhebbers bekendgestel is, talm in die hart en geheue.
Miyambo se verstommende vertolking van die aapmens Red Peter in Kafka's Ape was een daarvan en staan nog helder in die geestesoog. Juis dan is 'n mens mos versigtig om 'n produksie weer te gaan kyk, net ingeval dit nie meer so treffend is soos jy dit onthou nie.
Dis in hierdie geval onnodig. Sonder vrees vir teenspraak sal elkeen wat op die openingsaand in die Baxter was, beaam dat hulle die getuies was van 'n onthutsende, deurdagte en hartverskeurende relaas omtrent wat eintlik van ons mense maak. Wat lê onder die vel?
Franz Kafka se kortverhaal "A Report to an Academy" het tydens die Eerste Wêreldoorlog die lig gesien en is sedertdien ontelbare kere vir die verhoog verwerk. In Suid-Afrika onthou ons spesifiek drie bekroonde produksies, waaronder twee in Afrikaans. Daar was Marius Weyers as Rooi Piet (verwerking en regie deur Mario Schiess), De Klerk Oelofse in Na-aap (verwerk deur Arnold Blumer en regie deur Jaco Bouwer) en nou Miyambo in Phala Ookeditse Phala se verwerking.
Red Peter is by 'n akademiese kongres van die organisasie World Species. Na aanleiding van die kongres se tema, "What is the identity of an evolving man?", is hy gevra om verslag te doen oor sy voormalige lewe as 'n aap. Aangesien hy al langer as vyf jaar weg is van sy herkoms, is dit vir hom moeilik. Hy het sy aapnatuur eers doelbewus onderdruk en later vergeet omdat hy aanvanklik die aanleer van spraak en die na-aap van die mens se gedrag, oftewel assimilasie, as 'n weg na vryheid beskou het. Kans vir omdraai is daar ongelukkig nie, verklaar hy, selfs al wou hy.
In net minder as 'n uur ervaar jy 'n wipwa-rit van wisselende emosies en malende gedagtes, terwyl jy aan Red Peter se elke woord, gebaar en geluid hang. As jy enigsins ouer as ons demokrasie is en meer as een breinsel het, kan jy nie anders nie as om jouself so algeheel te verdiep in die teks en temas as wat Miyambo homself oorgee aan sy karakter. Ons hier ken immers eerstehands die vernietigende nalatenskap van rassisme, kolonialisme, growwe uitbuiting en ook 'n dikwels onomkeerbare verlies aan identiteit.
My woordeskat is onvoldoende om te beskryf presies hoe briljant Miyambo dié rol sy eie maak. Dis dalk 'n oorvereenvoudiging om sy spel as 'n weergawe van method acting te beskou, maar hy word sienderoë al hoe meer aap. Sy spraak is deurspek met dierlike krete, snorkgeluide en maniërismes wat 'n mens dadelik herken as behorende tot aapspesies. Selfs sy stem is doelbewus skor en kras en hy praat met moeite, soos 'n mens verwag 'n dier sou doen. Sy fisieke spel gaan die verstand te bowe, veral die manier waarop hy loop en sy hande gebruik.
Miyambo is 'n wandelende mirakel. 'n Mens wil nie die einde verklap nie, behalwe om te sê die gehoor het soos een mens na hul asem gesnak en toe opgespring met oorverdowende applous en erkenning.
Te oordeel na die lang tou mense wat agterna die teks wou koop (bring R200 saam), is Kafka's Ape onvergeetlike teater en Miyambo 'n meesterlike akteur wat 'n blywende indruk laat.
Net 'n voetnota: Dis eintlik skandalig dat dit 15 jaar geneem het voor Kafka's Ape in Kaapstad op 'n hoofstroomverhoog beland het. Miyambo se emosionele reaksie aan die einde laat jou besef dat ons kunstenaars ook in hul eie land geëer wil word. 'n Mens wil eers vies raak daaroor, maar hoe langer jy daaroor dink, hoe meer besef jy Phala en Miyambo kon Kafka se boodskap nie op 'n beter tydstip aan ons gebring het nie. In ons huidige tydsgewrig, wie is nou eintlik die aap?





















