Soos die titel van die poppeteaterproduksie Kersfees is hier! lui, is die feestyd op ons.
Kersfees is hier!, 'n produksie deur Vlytige Vingers Opvoedkundige Poppekas wat ook uit oorspronklike musiek bestaan, word Saterdag in die Atterbury-teater in Pretoria opgevoer.
Die speel af by die De Lange-gesin, waar 'n Kersete bedien word.
Ma Denise staan bont om al die kos te berei, terwyl pa Kobus sukkel om die Kersliggies te ontrafel. Boonop is Boeta, Sussa en Rocky, die mopshond, heeltyd onder Denise se voete.
Later kom maak Kersvader 'n draai.
Dis 'n baie eerlike gehoor; hulle sal jou laat hoor wat werk en wat nie.
"Vir my is kinderteater die suiwerste vorm van teater omdat jy met 'n gehoor te doen het wat nie deur allerhande goed besoedel is nie," sê Michelle Botha, wat saam met Dihan Keun die teks geskryf het. Hulle albei tree ook in die stuk op.
"As jy nie 100% on top is van wat jy doen nie, gaan jy jou gehoor verloor. Dis 'n baie goeie leerskool. Dis 'n baie eerlike gehoor; hulle sal jou laat hoor wat werk en wat nie.
"Dis die vreugde wat ek uit kinderteater kry. Dis wonderlik om vir kinders te speel. Jy het onmiddellike reaksie as dinge werk."
Alicia Badenhorst, wat tans in die kykNET-telenovelle Diepe Waters te sien is, was oorspronklik deel van die geselskap, maar moes onlangs 'n nekoperasie ondergaan.

Nou staan Botha vir haar in as die ma van die gesin. Die ander spelers is Ntshikeng Matooane en Tiaan Slabbert.
"Ons poppe is lewensgroot," sê Botha.
"Die gesigte is ook só gemaak dat dit 'n spesifieke karakter is. So ons is akteurs en almal speel dan die poppekarakters ook. Jy gaan baie lag. Ons het iets van alles.
"Dis 'n gesinsvertoning. Daar is baie vir die volwassenes ook en dan natuurlik kom loer Kersvader in vir die kleinspan. As kinders hul Kersbriefies wil saambring en vir hom gee, is hulle welkom."
Coenraad Rall het gesorg vir die nuwe musiek wat in die produksie te hoor is.
Daar is egter 'n saamsing-geleentheid met die gehoor aan die einde van die vertoning, wat uit meer bekende Kersliedjies bestaan.
Ek wil jong spelers wat werklik talentvol is 'n kans gee.
"My doelwit is altyd om te probeer werk skep," sê Botha.
"Veral vir kunstenaars wat nie noodwendig op die breë spektrum te sien is nie, soos op groot verhoë of televisie. Ek wil jong spelers wat werklik talentvol is 'n kans gee."
Al die spelers is betrokke by die vervaardiging van die produksie en die doel met die stuk is om die gehoor te herinner aan wat Kersfees werklik beteken.
"Ek leer nog elke keer," sê Botha.
"As jy nie in die oomblik en eerlik en opreg is nie, reageer daai kindergehoor nie. Dis 'n feit soos 'n koei. Wanneer dit meganies word, reageer kinders nie. Jy moet luister en reageer. En dan gaan jy die reaksie kry wat jy moet."
• Die vertoning begin om 10:00 en kaartjies kos R150. Bespreek by seatme.com.




















