‘Trouble in Mind’ 70 jaar later steeds relevant

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die rolverdeling vir ‘Trouble in Mind’ is van links (agter) Adrian Collins, Lyle October, Antony Coleman, Nicky Rebelo en Daniel Newton. Voor (van links) sit Alyssa van Reenen, Tamzin Williams, Thembi Mtshali-Jones en Royston Stoffels.
Die rolverdeling vir ‘Trouble in Mind’ is van links (agter) Adrian Collins, Lyle October, Antony Coleman, Nicky Rebelo en Daniel Newton. Voor (van links) sit Alyssa van Reenen, Tamzin Williams, Thembi Mtshali-Jones en Royston Stoffels.

Die Amerikaanse skrywer Alice Childress se roerende toneelstuk Trouble in Mind, met die gevierde aktrise Thembi Mtshali-Jones, is vandeesmaand in die Baxterteater in Kaapstad op die planke.

In die komedie-drama, onder regie van die veelbekroonde regisseur Mdu Kweyama, kom seksisme, rassisme, identiteit en mag onder die loep.

Die rolverdeling sluit in Antony Coleman, Royston Stoffels, Nicky Rebelo, Adrian Collins, Daniel Newton en Alyssa van Reenen. Lyle October, Awethu Hleli en Tamzin Williams, lede van die Baxter se Fires Burning Company, vorm ook deel van die rolverdeling. October, Hleli en Williams was ook onlangs te sien in Othello en Of Loss: Handle with Care.

Trouble in Mind speel af in die 1950's tydens 'n repetisie vir 'n komende Broadway-produksie en volg die uitdagings waarmee die groep multikulturele akteurs van verskeie generasies en hul wit, manlike regisseur en verhoogbestuurder te kampe het. Mtshali-Jones vertolk die rol van Wiletta, 'n veteraanaktrise wat raspolitiek in die teater en die inhoud van die toneelstuk, geskryf deur 'n wit man, bevraagteken.

Williams vertolk die rol van Millie Davis - 'n swart aktrise in haar 30's. Die aktrise beskryf haar as 'n lewenslustige karakter.

"Millie is uiters passievol, elegant en bewus van die raspolitiek. Sy is nie bang om haar mening te lug oor wat dit behels om 'n swart aktrise te wees nie, maar haar hoofdoel is om die lewenstyl van die wit huisvroue te bereik.

"Deur die toneelstuk sien ons hoe sy die klem plaas op die meer materialistiese aspekte van die wêreld. Daarom weet sy presies hoe om die witman-spel te speel om haar gewenste lewenstyl te bereik, en sy sal nie toelaat dat enigiemand in haar pad staan ??nie."

Williams glo gehore sal lekker lag tydens die opvoering, maar dit sal hulle ook diep laat nadink.

"Die skryfwerk van Trouble in Mind is uiters geestig en snaaks, en die talentvolle akteurs gee lewe aan die karakters," sê sy.

Coleman vertolk die rol van Al Manners, die regisseur.

Volgens hom is sy karakter uitlokkend. "Hy wil gesien word as 'n pligsgetroue en liberale man van die volk. Maar uiteindelik is hy 'n bietjie van 'n veragtelike vent. Hierdie toneelstuk is geskryf toe daar hewige debatte oor segregasie en integrasie gevoer is. Die temas en idees in die drama is vandag net so relevant as destyds. Gesprekke oor rassisme en seksisme moet voortgaan. En Alice Childress hou die gesprek aan die gang met ongelooflike insig, sowel as humor."

Kweyama stem saam met Coleman dat die teaterstuk vandag steeds relevant is. "Die toneelstuk het 'n moeilike geskiedenis gehad toe dit die eerste keer opgevoer is. Vir ons produksie bly ons getrou aan die oorspronklike teks, soos Alice Childress versoek het. Dit is in 1955 geskryf en 70 jaar later het ons steeds met dieselfde kwessies te doen."

Trouble in Mind is van 14 Mei tot 1 Junie by die Baxter Flipside te sien, saans om 19:30 met bykomende middagvertonings op Saterdae om 14:00. Bespreek deur Webtickets of by Pick n Pay-winkels.

SPELETJIES VANDAG

CTA