Ter viering van Wêrelddansdag Maandag wys van Suid-Afrika se voorste dansers hul talente by die Suidoosterfees in die Kunstekaap.
Wêrelddansdag is in 1982 geskep deur die danskomitee van die Internasionale Teaterinstituut (ITI), die hoofvennoot vir die uitvoerende kunste van Unesco. Hierdie dag is 'n feesdag om die waarde en belangrikheid van dans as kunsvorm te vier. Dit is 'n wekroep vir regerings, politici en instansies wat nog nie die waarde daarvan vir die mense erken het nie.
Hier is van die dansproduksies wat vanjaar op die Suidoosterfees te sien is.
- Dance Synergy Volume III (29 April en 1 Mei)
'n Aanskoulike produksie gevul met uitbundige energie! Dans word in al sy betowerende fasette gevier en in al die genres waaraan jy kan dink - van kontemporêr, ballet, Indiese dans en jazz tot akrobatiese lugtoertjies.
Aangebied deur die Figure of 8 Dance Collective en Suidoosterfees, in samewerking met verskeie dansorganisasies en kunstenaars - met 'n spesiale verskyning deur 'n Papillon-danser uit Kanada.
- Moenie net praat nie, dans! (29 April)
In hierdie paneelbespreking word daar kopstukke gepraat oor tendense in die plaaslike dansbedryf en hoe dit vergelyk met sake in die internasionale arena. Kom luister na plaaslike danskenners en ons internasionale besoekers wat verlede jaar Edinburg-feesgangers se verbeelding met hul uitsonderlike produksies aangegryp het.
- Papillon (26 en 28 April)
Ná 'n landswye toer deur Kanada en suksesvolle optredes by die Edinburg-randfees, is Papillon gereed om uit die kokon te verskyn en Suidoosterfees-gehore te ontmoet. Geïnspireer deur die estetika van straat- en kontemporêre dans, jukstaponeer Papillon drie solo's en 'n eksperimentele klankbaan om die fyn balans tussen orde en wanorde te verken.
* Moenie net praat nie, dans! (28 en 30 April)
'n Dansteaterproduksie van Finland wat identiteit ondersoek en wat dit beteken om 'n mens te wees.
- Set in motion (27, 28 April)
Met: Figure of 8 Dance Collective
Hierdie dansteaterproduksie ondersoek die interne en eksterne kragte wat ons in teenoorgestelde rigtings trek en ons soms verhoed om voluit te leef.
* Amapiano: TikTok (29 April)
Dink TikTok! 'n Dansvorm wat individualiteit aanmoedig en deelnemers toelaat om hul eie artistieke flair in hul choreografie in te sluit. Geen enkele Amapiano-dans is dieselfde nie, want elke danser se eie unieke aanslag kom in die uitvoering na vore. Ashlynn Erasmus leer jou nuwe vaardighede vir jou volgende TikTok-video.
- Kontemporêre dans
'n Klas in kontemporêre dans wat verskeie genres soos ballet, jazz en moderne dans.
* Still Moving
Die kuns van beweging word ook gevier in hierdie tentoonstelling waaraan onder meer Lindsey Appolis en Gys Loubser deelneem.
Besoek suidoosterfees.com.


















