Profiele

Schuster op sy stukke: Hie’ kommie grappe uit ’n hospitaalbed

Leon Schuster is pas by die Silwerskermfees vereer as legende van die vermaaklikheidswêreld. Hier is hy in sy hospitaalbed in Johannesburg. Foto: Elizabeth Sejake
Leon Schuster is pas by die Silwerskermfees vereer as legende van die vermaaklikheidswêreld. Hier is hy in sy hospitaalbed in Johannesburg. Foto: Elizabeth Sejake (Elizabeth Sejake)

Die sportskrywer Chris Swanepoel het jare gelede in ‘Die Volksblad’ voorspel “hierdie outjie Schuster” gaan nog eendag in die vermaaklikheidswêreld beland ... die res is geskiedenis.

Hie’ kom die krokke, hie kom die krokke . . . daai verloor laas Saterdag teen die Wallabies het sy rug finaal geknak, kreun Leon Schuster vanuit sy hospitaalbed.

“Ek het só tekere gegaan om die Bokke aan te moedig en hulle te vloek dat ek myself in die proses beseer het! Daai verloor was nie ’n skande nie, dit was ’n landsramp!”

As die Bokke wéér sulke marakkas maak, veral teen die Wallabies, wat Schus met sy hele hart verpes, dan gaan hy persóónlik uit die hospitaal ontsnap en elkeen van hul gatte kliphard kom skop en hulle ’n oond gee.

“Bokke, julle gaan tussen ons bene deur hardloop en ons slaat julle boude pimpel en pers.”

Hier lê Schuster nou in die Johannesburg Surgical Hospital. Hy gaan die naweek se groot toekenning aan hom as Legende in die Vermaakwêreld by die Silwerskermfees misloop.

“My hart bloei oor ek die grand okkasie mis, dis ’n groot eer vir my. En ek is dankbaar dat ek nog bo die grond is, en dat my ma nie geboortebeperking gebruik het nie.”

Leon het vier rug-operasies die afgelope jaar gehad. En hulle was almal flops. Nou lê hy met die gevolge.

“Ek gaan maar my rug Egipte toe neem, daar’s ’n baie goeie Cairopractor . . .”

Die eerste dokter het skroewe in sy rug gesit, die twééde dokter het hulle uitgehaal. Hy het hulle nou nog in ’n sakkie. “Seker 18 van hulle, dit lyk soos skroewe wat jy by Mica Hardware gekoop het, dit lyk nie vir my soos mediese skroewe nie.

“Ek is ’n bietjie kwaad vir die dokters, want ek is nou in ’n slegter situasie as voor die tyd. Hulle het my net opgedonner, solied, hoor.

“Ek voel soos ’n ou melkkoei wat drooggemelk is, ek belowe jou. Drooggemelk, rêrig, met al daai operasies. Daai narkose, dit doen ’n ou nie goed nie. My rekord is om tot 20 te tel voordat ek uitpaas. Toe wed ’n narkotiseur my R1 000 ek sal nie daar uitkom nie, en by 15 . . . toe voel ek net sjoep, weg is ek.”

Hy is nou in die hospitaal vir nierinfeksie nadat hy twee weke terug in die hospitaal was vir blaasinfeksie.

“Die dokter sê my toestand hou direk verband met daai vier operasies. My niere is glo droog. Nou lê ek hier, kry antibiotika en verveel my morsdood. Die dae gaan so stadig verby.

“Daar moet met sulke groot letters op my voorkop geskryf word: Oh Shucks I’m gatvol.”

En as daar nou ’n feetjie hier intrippel en sy rug regruk?

“Ek is baie lief vir visvang, ek wil graag weer diepsee gaan hengel. En daarna wil ek ’n boot-cruise vat met ’n twintigjarige poppie, heh heh, nee! Venesië toe, Griekse Eilande, Bahamas, want ek kyk moewies oor sulke boot-cruises en dis op my bucket list. Het iemand dalk ’n rug vir my? Ek ís mos ’n rugisseur!”

Al wat ’n nursie is, wat hier inkom, vra hom: “When is your next movie? You must get your back right.”

“Dan sê ek vir hulle as ek ’n moewie maak met ’nlove interest, hoekom het ek ’n rúg nodig?”

Schuster en Gray Hofmeyr is juis nou besig met die voorbereiding vir ’n komedie. Die draaiboek is al so te sê klaar.

Hy wou aanvanklik nog ’n skelmkamera-fliek gemaak het, maar liewer nie, netnou klap iemand hom weer. “Want dis al daai klappe wat my blêrrie rug uit lit geruk het. My grafskrif eendag moet wees: Schuster kon nie die laaste klap vat nie . . .”

Jissie, hy lê lekker hier in die hospitaal en dink aan al die goed wat hy aangevang het, hoe waaghalsig hy was. Afspring van bewegende voertuie, daai keer toe hy aan ’n lorrie gehang en sy grip verloor het.

“Toe val ek kwa! op die grond. Toe ek daar opstaan, toe weet ek ek is ’n goner.”

As die Bokke weer droogmaak teen die Wallabies, sal Leon Schuster uit sy hospitaalbed ontsnap en hulle ’n loesing gaan gee. Foto: Elizabeth Sejake
As die Bokke weer droogmaak teen die Wallabies, sal Leon Schuster uit sy hospitaalbed ontsnap en hulle ’n loesing gaan gee. Foto: Elizabeth Sejake (Elizabeth Sejake)

Vir die nuwe fliek gaan hulle ’n paar jong skrywers kry om saam te skryf, want hulle raak ’n bietjie oud, hul breine is nie meer so skerp nie, reken Schuster. “Die paar whiskies wat ons geklap het as ons klaar gewrap het in die aand, doen ons op 74 ook nie goed gestand nie,” grinnik hy.

Vir die rol sal hy ’n rybewys vir ’n rolstoel moet kry, want op sy voete gaan hy dit nie maak nie, hoor. “Kan jy dink watter humor uit ’n rólstoel-scenario kan kom,” draai die grapratte in sy kop.

Ja, onthou hy, met ’n Checkers-boerewors-advertensie moes hy by ’n proe-tafeltjie ’n stukkie wors eet en dan wurggeluide maak en morsdood neerslaan. Hy het seker 40 keer geval, net om die regte reaksie van die mense te kry, onthou hy.

“En die tragedie van die storie is, ek het al daai ouens ryk gemaak en ek bly maar net ’n gewone Bloemfonteinse boerseuntjie.

“Ek het baie swaar gekry, die kritici het my gekasty van my eerste moewie af. Met respek aan die oorlede Barry Ronge, jissie, hy het my cleaners toe gevat. Hy het goed gesê soos: This movie should be thrown into the gutters where the rats can get hold of it.”

Maar Schuster se moewies was gewilder as James Bond. “Ronge wasn’t right. Leon van Nierop ook, maar Leon het later ’n bietjie gedraai. ’n Beeld-outjie het my in 2006 0 uit 5 vir Bones 2 gegee. As dit 0,025 was, was dit darem iéts maar om al daai werk te doen en hy gee my ’n ronde núl! En ek brag, maar Bones 2 was die grootste geldverdiener ooit in Suid-Afrika, R38 miljoen by die loket, wat natuurlik na mnr. (Anant) Singh (vervaardiger) se gatsak toe is, nie myne nie.”

In 2018 is Schuster in ’n Sunday Times-artikel beskryf as die “father of blackface” in Suid-Afrika. Die blackface-herrie was vir hom ’n nagmerrie. Die uiteinde was dat You Must Be Joking! (1986), You Must Be Joking! Too (1987), Oh Schucks… It’s Schuster! (1989), Sweet ’n Short (1991), Schuks! Pay Back the Money (2015) en Frank and Fearless (2018) nie meer op Showmax gewys word nie.

“Ek het vir die Sunday Times-joernalis gesê wat van die Wayans Brothers wat White Chicks gespeel het? Sy het die storie so verdraai en gemaak asof ek skuld beken, wat ek nooit gedoen het nie. Ek het gesê Suid-Afrika is nie Amerika nie, Suid-Afrika is gewoond aan 11 verskillende kulture and they love it when we send them up, black, white, Indian, Japannese, Chinese, Maltese, they love it. Dis Afrika hier, Afrika is swart, so hulle is mal daaroor as ek swart speel in my pranks want hulle kan daarmee identifiseer.

“Die uiteinde is ek kan nie meer blackface doen nie, hulle sal my kom arresteer. En my groot droom was om ’n opvolger vir Mama Jack te maak.

Schuster en Mary-Anne Barlow in Schuster in Mama Jack.
Schuster en Mary-Anne Barlow in Schuster in Mama Jack. (Leon Schuster en Mary-Anne Barlow in Schuster in Mama Jack.)

“Dit was ’n ontsettend moeilike rol om te speel. Ek het elke dag vyf ure gesit terwyl hulle my make-up gedoen het. Mama het so ’n permanente smaailtjie op haar gesig gehad, maar binne-in, dan kook ek, so kwaad is ek vir Gray oor iets wat ek dink hy’t verkeerd gedoen. En dan kyk hy vir my en sê: ‘Ah, Mama, you are so pretty when you smile like that!’

“Een van die riggers was verlief op Mama, so ’n gróót man. As ek Leon is, het hy my geïgnoreer, maar vir Mama het hy tee aangedra. Mama was ’n mooi vrou.

“By daai paartie destyds, waar Zuma ’n klomp politici en Steve Hofmeyr entertain het, het Zuma beken hoe lief hy Mama het, hy sou haar trou as hy kon, heh heh heh,” kom die Zuma-lag.

Dink net, Mama kon Zuma se nommer-seventyeleventy vrou gewees het.

“Hei wena, no marry me, nothing like that! Toe lag Zuma baie lekker, hoor.

“Ai jissie, ek is deur so baie wedervaringe,” draaiboek sy verlede hier in sy hospitaalbed.

Saam met Jacob Zuma en Steve Hofmeyr destyds.
Saam met Jacob Zuma en Steve Hofmeyr destyds. (Saam met Jacob Zuma en Steve Hofmeyr destyds.)

Hy is as student in 1974 op daai Shimla-toer Europa toe om te gaan rugby speel . . . “Ons het die tyd van ons léwe gehad, en baie stout gewees, moet ek sê. Rugby was nog nie professioneel nie, so ons het elke dag 50 pennies as vergoeding gekry. Ons was in die Reeperbahn, die Duitse rooiligdistrik, en ek is bevrees, en ek kan dit nie met oortuiging sê nie, maar ek dink ’n paar jong mannetjies het iets baie waardevols op daaitrip verloor!”

In die Hofbrauhaus het Leon die Duitsers laat skree van plesier toe hy op die toonbank spring en vir hulle “Sarie Marais” sing. “Jissie, ons was sulke heroes gewees, dit was net ongelooflik. Dis hoekom ek so lief is vir Duitsland, hulle het nie hierdie hang-ups van politiek en goed nie, hulle is net uit en uit biersuipers en hulle love hul liedjies. Hulle het sulke glas-boots, nét so groot” wys hy met sy hande, “die uitdaging is om daai ding in een teug in jou keelgat af te gooi. Wat ons kon doen, natuurlik, ons was getráin gewees, jy weet!”

Op die toerbus het Leon die mikrofoon gegryp en omroeper gespeel. “Dan’s ek Robin Alexander en sê vir Joggie Jansen, hierdie ene kom van jou meisie in Bloemfontein, Rusta Joubert, sy’t gevra ek moet sing ‘Cry to me’,” sing hy uit volle bors.

“Baie van my rugby-songs op my ’95-plaat, soos Is jy dan bang Johanna, vir die bakkop slang Johanna, hy gaan nie byt nie, hy maak net goeeeee, Johanna! is op die bus gebore.

“En ek het vásgebyt, ek het die een omroeperstoets ná die ander gepluk want ek het nie geweet van Debussy en Dvorak en daai grênd name nie. Toe ek die dérde een pluk, gaan sit ek vir ’n week lank in die biblioteek in Bloemfontein en lees alles wat ek kan kry. Rugby, politiek, kuns, skilders, Van Gogh en ek pass my toets. Dit het my loopbaan begin.

“Toe volg die Vrypostige Mikrofoon saam met Fanus Rautenbach en André (Scholtz) sê: ‘Ou Leon, kom ons maak ’n moewie.’

“Ek was onder geen druk nie, ek het nie geworry of hy werk of nie, maar hy het soos ’n bóm gewerk. Toe ek dít het, toe weet ek ek gaan aan met hierdie loopbaan.

“En ek sê dit in nederigheid, maar ek was die eerste ou wat begin sien het hier is ’n breër gehoor as net Afrikaners en ek wil vir álmal flieks maak. Met Zulu on My Stoep, toe staan ek agter in die teater en ek kyk so oor die mense se koppe heen, toe is dit swart, wit, bruin Indiër, die hele toetie, skouer aan skouer. Ek dink daar was net drie geleenthede wat meer verenigend was: Toe Madiba uit die tronk gekom het en die Wêreldbeker van 1995.”

Sy tong raak droog van al die gepraat, eers gou lawe, wys hy na die waterkraffie langs sy bed.

Maar van al sy moewies, van al sy songs, was die hoogste hoogtepunt Hie kommie Bokke in ’95. “Omdat dit so ’n ongelooflike bydrae gelewer het. Hulle’t mos daai dag die hele tyd ‘Shosholoza’ en ‘Hie’ kommie Bokke’ gespeel, en jy kon sién as daai Bok-song opkom, is daar nuwe dryfkrag in daai Springbokke. Jô. Dit het my laat voel ek kon ’n klein bydraetjie lewer.”

Hoe moet die mense hierdie Bloemfonteinse boerseuntjie onthou?

“Nie as Schucks, Mama Jack, Mr Bones nie, dis karakters. Hulle moet die Leon onthou, die ernstige komediant, want alle komediante het ’n ernstige sy. Dis ’n baie depressiewe loopbaan omdat so baie afhang of dit gaan werk. Om komies te kan werk moet jy jou alie af werk, jy moet bereid wees om te val en seer te kry, want dis part & parcel of the deal.

“Ja, en ek sou wou hê die mense moet sien daar is ’n ander sy van Leon, wat lief is vir die Here, wat elke aand op sy knieë gaan en dankie sê vir nog ’n dag . . .”

hretief@rapport.co.za

5094

CTA