Feeste

'Die moeder' blink uit met drie Fiëstas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sandra Prinsloo en Ludwig Binge in ‘Die moeder’.  Foto: Nardus Engelbrecht
Sandra Prinsloo en Ludwig Binge in ‘Die moeder’. Foto: Nardus Engelbrecht

Die regisseur Christiaan Olwagen se produksie Die moeder het drie Fiëstas losgeslaan, insluitend vir beste feesproduksie.

Sandra Prinsloo is as beste aktrise daarin vereer en Olwagen is vir sy regie uitgesonder.

Marthinus Basson se produksie van Ek, Anna van Wyk asook Olwagen se Die moeder was gelykop met vyf benoemings elk vir die 13de kykNET Fiëstas. Die glansaand waar prestasie op die land se vyf kunstefeeste vereer word, is op Donderdag 9 Maart by The Lookout by die V&A Waterfront in Kaapstad aangebied.

Olwagen het die dramatiese stuk van die Franse dramaturg Florian Zeller oor 'n ma wat sukkel om te aanvaar dat haar seun die nes verlaat het, verwerk in Afrikaans en vir Suid-Afrikaanse gehore aangepas. Dawid Minnaar, Ludwig Binge en Ashley de Lange was ook daarin te sien. Die produksie was Olwagen se welkome terugkeer na die verhoog nadat hy in die rolprentbedryf gewerk en presteer het.

Carlo Daniels is as beste byspeler vereer vir sy spel in Basson se Ek, Anna van Wyk.

Gideon Lombard is vereer met 'n Fiësta vir sy ontwerp van die dansproduksie ‘Karatara'. Van links na regs is Shaun Oelf, Grant van Ster en Dean Balie. Foto: Hans van der Veen
Gideon Lombard is vereer met 'n Fiësta vir sy ontwerp van die dansproduksie ‘Karatara'. Van links na regs is Shaun Oelf, Grant van Ster en Dean Balie. Foto: Hans van der Veen

Die dansstuk Karatara het aan die regisseur Gideon Lombard die Fiësta vir beste teaterontwerp besorg. Dit is geskep deur Shaun Oelf en handel oor die mense van Farleigh, naby die Karatararivier in Knysna, wat op 29 Oktober 2018 alles verloor toe 'n brand in die middel van die nag uitgebreek het. Agt mense is dood en huise en besittings verwoes.

Lombard se klankontwerp sluit in musiek van onder andere Max Richter, Nils Frahm, Aphex Twin, Brian Eno en Jimi Hendrix. Daarby het hy opnames saamgesnoer wat op radio en televisie uitgesaai is. Vir die klank van die vuur het hy die klank van 'n vulkaan wat ontplof stadiger gemaak en tromsolo's gebruik om die chaos uit te beeld.

Die produksie het minimale inkleding. Oelf en Grant van Ster het deur dans die verhaal vertel met Dean Balie as verteller. Wilken Calitz was ook betrokke daarby.

Adriaan Havenga se Iewers in die grys is uitgesonder as beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling. Dit handel oor twee kinders wat beste vriende op skool was en hul drome vir die toekoms. Hul droom om dokters te word gaan dalk nie in hierdie land 'n werklikheid word nie.

Nomapostile Nyiti and Lungiswa Plaatjies van The Ancient Voices. Foto: Hans van der Veen
Nomapostile Nyiti and Lungiswa Plaatjies van The Ancient Voices. Foto: Hans van der Veen

Havenga is ook as beste opkomende kunstenaar vereer vir Iewers in die grys se teks en vir sy spel en teks vir Om skoon te wees.

Erik Dippenaar se produksie Handel at Home met lede van die Kaapstadse Barokorkes, die soprane Lynelle Kenned en Hlengiwe Mkhwanazi wen die Fiësta vir die beste prestasie in klassieke musiek op die feeste. Die program het kamermusiekwerke vir instrumente en stemme ingesluit van die komponis George Frideric Handel (1685-1759). Die oboe-speler Ingo Müller en Cheryl de Havilland, 'n Baroktjellis, het ook opgetree.

Sy tentoonstelling Azibuyele Emasisweni (Terugkeer na die bron) van beelde geskep uit beendere waarvan elke beeld met 'n loflied vergesel is, het aan die beeldhouer Pitika Ntuli die Fiësta vir visuele kuns besorg. Die uitstalling, wat by die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein te sien was, fokus op die spiritualiteit van Afrika en hoe die mens deur sy bande daarmee te versterk weer in voeling met die natuur en 'n etiese lewenswyse kan kom.

Nataniël se musiekteater-produksie Prima Donna is die uitblinker in die kategorie vir beste musiekgedrewe produksie, terwyl The Ancient Voices, oftewel Nomapostile Nyiti en Lungiswa Plaatjies, vereer is vir beste bydrae tot 'n musiekgedrewe produksie met die oerkluts kwyt. Dit is deur Frieda van den Heever saamgestel en fokus op die digkuns van Antjie Krog. Antoinette Kellermann was die vertolker.

Die Blou Fiësta, wat toegeken word aan verdienstelike werk wat nie in een van die ander kategorieë val nie, is oorhandig aan die Stemme-projek van die Suidoosterfees in samewerking met LitNet. Dit bestaan uit 15 monoloë geskep in Afrikaans, Engels, Xhosa, Sotho en Zoeloe. Die monoloë is op die Suidoosterfees opgevoer (die meeste tydens die fees) en daarna verfilm, en word saam met die tekste op LitNet uitgereik.

Die moeder en Karatara word op vanjaar se KKNK opgevoer. Die moeder is ook eersdaags in die Baxter-teater in Kaapstad op die planke, terwyl Iewers in die grys op die Suidoosterfees in die Kunstekaap opgevoer gaan word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM