Feeste

Kalfiefees se program propvol teater, musiek, kuns en leefstyl

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
BlyckByrd – Tasché Burger, Tarryn Lamb en Natasha Zaaiman – tree op 10 Augustus op by die Kalfiefees in Hermanus.  Foto: Verskaf
BlyckByrd – Tasché Burger, Tarryn Lamb en Natasha Zaaiman – tree op 10 Augustus op by die Kalfiefees in Hermanus. Foto: Verskaf

Daar is vanjaar iets vir almal by die Kalfiefees, Hermanus se kunstefees, wat van 1 tot 11 Augustus in die Overberg aan die gang is.

Vanjaar vier die Hermanus-kunstefees sy 24ste bestaansjaar met 'n volgepakte program van teater, musiek, kuns en leefstyl.

Lisa Spaarwater, produksiebestuurder, sê dit is 'n fees vir oud en jonk.

"Daar is iets vir elke feesganger se smaak. Daar is drama, komedie, musiek, dans, kinderteater, boekbesprekings, kuns en leefstyl. Bekende kunstenaars soos Tobie Cronjé en Sandra Prinsloo se produksies is vanjaar by die Kalfiefees, maar ons het ook 'n hele paar nuwe gesigte. Dit is belangrik om die jonger gehoor te trek," sê Spaarwater.

Tobie Cronjé is te sien in ‘Moord met 'n T' op 10 Augustus. Foto: Argief
Tobie Cronjé is te sien in ‘Moord met 'n T' op 10 Augustus. Foto: Argief

Sy vertel die fees het aansienlik ontwikkel sedert dit 24 jaar gelede van stapel gestuur is.

"Dit het natuurlik gegroei, soveel so dat daar baie nuwe lokale is, soos die The Cave-teater by die Ou Hawe-museum en die munisipale ouditorium. Die fees het aanvanklik net in Onrus plaasgevind, maar oor die jare het dit uitgebrei na Hawston, Sandbaai en die dorp (Hermanus)".

Spaarwater voeg by dat dié fees ook oor die jare gemeenskapsprojekte geïnkorporeer het.

"Met hierdie projekte beoog ons om die jeug by die fees te betrek. Dit is een manier om die jonges van die strate af te hou en hulle te bereik."

Een van die gemeenskapsprojekte waarby die Kalfiefees betrokke is, is die The Cave-teater. Dis 'n ruimte wat geskep is vir jong akteurs om hul vaardighede te verbeter en te ontwikkel. In 2023 het die Kalfiefees dié teater se feesprogram ondersteun en vanjaar sal wins uit kaartjieverkope aangewend word om hierdie kreatiewe ruimte verder te verbeter.

Die Kalfiefees vereer vanjaar dr. Niel le Roux vir sy bydrae tot die fees. Le Roux, wat tans die uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans is, is een van die lede wat die Kalfiefees in 2000 gestig het.

Hier is van die produksies waarna jy kan uitsien by die Kalfiefees:

• Die kabaret Vincent - His quest to love and be loved, 1 Augustus.

• Kinderteater: Zoekie and Toeks, 2 Augustus.

• Musiek: Hartkamer - Jak de Priester, 2 Augustus.

• Musiek: Land en Sand - Neil Sandilands en Die Band, 3 Augustus.

• Boekgesprek: Deon Meyer in gesprek met Jonathan Amid, 3 Augustus.

• Kinderteater: Pinnochio met onder andere Soli Philander, 3 Augustus.

• Fliekfees: The Gods must be Crazy, 3 Augustus.

• Kletskomedie: Dik Deurmekaar - Mel die Storieverteller, 6 Augustus.

• Fliekfees: Die storie van Klara Viljee, 7 Augustus.

• Jeugdrama: Ken jy vir Dewie? met Crystal-Donna Roberts, Robert Hindley en Joshwin Dyson, 8 Augustus.

• Musiek: Mal oor jou SA met Frazer Barry, Deniel Barry, Lyntjie Jaars, Earl Witbooi, 8 Augustus.

Op 8 Augustus is Frazer Barry, Deniel Barry, Lyntjie Jaars en Earl Witbooi op die verhoog. Foto: Verskaf
Op 8 Augustus is Frazer Barry, Deniel Barry, Lyntjie Jaars en Earl Witbooi op die verhoog. Foto: Verskaf

• Kabaret: Vier Panado's en 'n Chardonnay met Elsabe Zietsman en Tony Bentel, 9 Augustus.

• Kinderteater: Die keiser se nuwe klere, 9 Augustus.

• Drama: Kamphoer met Sandra Prinsloo, 9 Augustus.

• Dansteater: Birthing Nureyev met Ignatius van Heerden en Penny Wolhuter, 9 Augustus.

• Musiek: Vêr van hier met Anna Davel en Graeme Lees, 9 Augustus.

• Komedie: My fellow South Africans . . . Coalition partners met Kim Blanché Adonis, 10 Augustus.

• Musiek: BlyckByrd - Tarryn Lamb, Tasché Burger, Natasha Zaaiman, 10 Augustus.

• Kosteater: A Feast from nature met Truida Prekel en Shihaam Domingo, 11 Augustus.

• Musiek: 'n Vuur gevang in 'n glas met Amanda Strydom en Coenraad Rall, 11 Augustus.

• Komedie: Hans gee Herklaas horings met Tobie Cronjé en Ignatius van Heerden, 11 Augustus.

Die volledige feesprogram kan hier afgelaai word.

Kaartjies is beskikbaar by Tixsa.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM