Amanda Strydom en Margit Meyer-Rödenbeck gesels oor dankbaarheid, stokkielekkers en daai balletproduksie op hakke wat hulle beplan.

Margit se vrae aan Amanda:
MMR:As jy dink aan die KKNK, wat kom by jou op?
AS: Die KKNK was ons eerste groot Afrikaanse fees en dit het deel van my lewe geword. Die gehore, ook die rou senuwees. Daai opwinding kan mens vir niemand beskryf nie en as die uiteinde daar is van die vertoning en hulle staan en klap hande. O, het ons dit gemis die afgelope twee jaar, my suster! Die blydskap, die opwinding, nuuskierigheid, die fantastiese atmosfeer. Dis vir my 'n wonderlike hoogtepunt van elke jaar, ook omdat dit ons eerste was. Sy is ons moeder - ons Moederfees.
MMR:Die Covid-tyd van twee jaar het meeste mense sleg geraak. Ons het nie net werk verloor nie, maar ook vriende en familie en 'n sense of purpose in 'n sekere sin. Is daar enige iets goeds wat vir jou uit die Covid-tyd uitgekom het?
AS: Dit was vir my persoonlik 'n baie diep spirituele reis. Daar het 'n oorweldigende dankbaarheid in my opgekom vir alles wat ek het. Ek sal nooit weer in my lewe iets as vanselfsprekend aanvaar nie. Nooit nie. Alles wat ek voorheen net aanvaar het, het vir my meer waardevol geword - as die son opkom en ons het nog asem in ons longe, en ons leef!
MMR:Kry jy nog steeds mense wat jou vra om verniet op te tree, want dis "goeie exposure"?
AS : Ek het lanklaas so 'n aanbod gekry vir exposure en wanneer dit gebeur, het ek altyd iets anders aan. Everybody loves your work until they have to pay for it. Op 65 soek ek nie eintlik baie exposure nie. Miskien nou en dan in die son is dit lekker om myself te expose.

Amanda se vrae aan Margit:
AS:Wat was vir jou van die hoogtepunte van die KKNK?
MMR: Daar is etlike . . . Toe ek 'n paar jaar terug my show moes doen in donkerte en sonder klank en dit was nogal my debuut. Die sweet het in strale by my afgeloop. Ek onthou die begindae van die KKNK voor sosiale media - genadiglik, anders kon ons nooit weer ons gesig op straat gewys het nie. Hoe ons in die aande in die Godfather gekuier het. Ons het gedans op die tafels.
AS:Ek weet dat dit met Covid met julle baie swaar gegaan het by Die Boer. Hoe het julle gecope?
MMR: Ek dink ons het deur Covid gekom deur asem te haal. Vir iemand wat 'n control freak is soos ek, was Covid 'n gatslag - nie net finansieel nie, ook in ons bedryf waar mense swaargekry het en ek weet steeds nie of hulle gaan herstel nie. Hoe meer jy teen die prikkels geskop het en nie met die vloei beweeg het nie, hoe moeër het jy jouself gemaak, soos dryfsand. Gelukkig is Die Boer weer oop.
AS:Kry jy nog mense wat vir jou Dolla sê? Dink jy hulle sal dit kan laat gaan?
MMR: Dowwe Dolla was goed vir my vir baie lank. Ek dink nie mens raak maklik ontslae daarvan nie. Ja, Dolla is nou amptelik begrawe. Ek moet nog haar klere uit my kas uitkry en haar stiletto's. Dis nogal bevrydend gewees. Almal vra of ek hartseer is. Dan sê ek ja, maar ek is aan die ander kant so opgewonde om nuwe goed te doen. Dolla gaan ek miskien mis, maar nie daai flippen stokkielekker nie.
'n Feesmaal sonder gelyke
Amanda Strydom sit vanjaar, soos by elke liewe KKNK sedert 1995, 'n feesmaal sonder gelyke vir ons voor. In Nostalgie ontgin sy die dinge wat ons laat terugdink en laat verlang. Daar is stories en gedigte, en 'n fyn uitgesoekte repertorium van liedere - haar eie sowel as 'n smorgasbord van ander skrywers se werk.
Van daardie eerste tienerhartbreek tot by liefde van later (sy sing die Brel-meesterstuk "La Chanson des vieux amants" in Afrikaans) tot by 'n almagtige weergawe van Bob Dylan se "The Times They Are A-Changin" het sy haar gehoor in die palm van haar hand.
Sy word magies ondersteun deur Coenraad Rall op klavier en Susan Mouton op tjello.
Ekstra applous vir Rall vir die wonderlike verwerkings! - Madeleine Barnard
- Nostalgie. Musiek Vanaand om 20:30.



















