KKNK

KRIT | ‘Bul’ stormloop KKNK

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Bul.

Donker komedie.

Geen o.16.

Bul is 'n donker komedie wat op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) debuteer. Dit is gebaseer op Mike Bartlett se gelyknamige Engelse produksie, Bull, kranig vertaal en verwerk deur Nico Scheepers.

Wian Taljaard en René Cloete in 'n toneel uit 'Bul'.
Wian Taljaard en René Cloete in 'n toneel uit 'Bul'.

Bul speel af in die wagkamer waar drie kollegas vir hul baas, Matangwa (Peggy Tuyiswa), wag om te hoor wie vandag afgedank word. Isabelle (René Cloete) en Tony (Wian Taljaard) is tewerig, katterig en speel spook-spook met hul kollega Thomas (Wynand Kotze). Thomas (uitgespreek Tómas) is onseker van homself. Hy is 'n doodgoeie ou, maar jy sal hom dalk nie in 'n skare mense opmerk nie. Tony is 'n laventelhaan, spoggerig en selfbewus. Isabelle is kil en berekend. Tony en Isabelle is gefokus op hul eie loopbaanvooruitsigte en sal alles in hul vermoë doen om hul werk te beskerm. Enigiets. Waarin stel hulle belang? Meestal hulself.

Ons almal ken mense met wie dinge altyd skeefloop. Dis asof hulle die ongeluk aantrek. Niemand is verbaas as dinge nie vir hulle uitwerk nie. Is dit 'n genetiese fout of aangeleerde gedrag? Dis maklik om op hulle te trap. En wie is diegene wat die trapwerk doen? Wie is die bul, en ken die bul enige ander gedrag as om net te storm en te trap?

In 'n moderne tyd gee ons nuwe name aan oeroue gedrag. Goed soos ghosting beteken eintlik net jy smokkel met iemand se kop. Jy laat hulle glo die fout lê by hulself, die probleem is in hul verbeelding. Bartlett se werk ondersoek menslike gedrag en laat dink mens ook so 'n bietjie aan Lord of the Flies.

Kotze se spel beïndruk en is sensitief en genuanseerd. 'n Mens wil die arme ou net help. Taljaard as die kapokhaan is uiters geloofwaardig en 'n mens voel asof jy hom net wil teer en veer. Soos die tannie hier langs my op 'n kol vir Thomas fluister: "Slaan hom!"

René Cloete skitter as die yskoningin in 'Bul'.  Foto's: Jaco Marais
René Cloete skitter as die yskoningin in 'Bul'. Foto's: Jaco Marais

Cloete oortuig as die yskoningin en 'n mens wonder nog lank ná die tyd oor haar en wat haar storie nou eintlik is. Hoe het sy só geword?

Die wagkamer het 'n boks vol speelgoed. Nicole Holm, die regisseur, gebruik dit slim om die politieke magspel wat hier voor ons afspeel uit te beeld. Mense word teen mekaar afgespeel, speel met mekaar se gevoelens en met mekaar se lewens.

Bul is 'n moet-sien-stuk op die fees. Dis sterk, dis by tye baie snaaks. Al wil jy nie lag nie, lei Scheepers, Holm en die spelers jou dieper in die bos in totdat jy nie weet hoe om daar uit te kom nie. Scheepers se dialoog is skerp en lei jou lag-lag in 'n doolhof van kantoordinamika, boeliegedrag en die drang om oorlewing in. Hy los krummels van suggestie in die gangetjies stilte en lok jou om die volgende draai. Holm se regisseurshand moedig jou van agter af aan, en só volg ons dit wat gesê word en nié gesê word nie. Ons volg die spelers al hoe dieper die donkerte van menslike gedrag in, waartoe mense in staat is ter wille van oorlewing, totdat ons ons vasloop in die Minotourus wat in die doolhof bly: half mens, half bul, wat op mense teer.

  • Donderdag om 13:00, Vrydag om 18:00, Saterdag om 09:30 en Sondag om 13:00.
  • Besoek die KKNK se webtuiste vir nog inligting.
Marchelle van Zyl

CTA