KKNK

Uitkampteater bring vol program na KKNK

Fisieke teater, komedie (donker en tragies) en mimiek is onder meer op die program van die Uitkampteater-program op vanjaar se KKNK.

Soos voorheen is die produksies kort en kragtig, bekostigbaar en geskik vir die hele gesin.

Dit word vanjaar weer in samewerking met die Koninklike Nederlandse ambassade in Pretoria aangebied en kunstenaars uit Nederland neem aan die program deel.

Jos van Wees en Merel Kamp van Nederland bring Springtime.Foto: Frank Scheffka
Jos van Wees en Merel Kamp van Nederland bring Springtime.Foto: Frank Scheffka

Jos van Wees en Merel Kamp van Nederland bring Springtime: Hendrick-Jan de Stuntman meets Merel Kamp, 'n baldadige komedie in die styl van 'n tradisionele stilprent. 'n Man en 'n vrou hang aan spiraalvere wat aan 'n staalstruktuur vasgemaak is. Dit is 'n skouspelagtige visuele vertoning waarin die clichés opbou tot 'n tragikomiese liefdesverhaal. Dis daagliks gratis te sien.

Onder die Uitkampteater-dramas tel die DCAS Eden Dramafees-wenners Highway met Llewellyn Bond en When Love Resigns met Charné Jansen en Gashmée Harrison.

Llandi Beeslaar en Stephanie Gericke wat verlede jaar die Kannaprys vir die beste Uitkampteater gewen het, is terug met 'n donker komedie, Halfses vir sesuur. Ten spyte van absurde onderbrekings, probeer twee vriende steeds hul ete geniet.

Richard Antrobus is met fisieke teater en mimiek in twee episodes van Jan Alleman se lewe te sien. Hy wil net normaal wees, maar ten spyte van sy pogings om sukses te behaal, misluk dit.

Richard Antrobus in Jan Alleman.
Richard Antrobus in Jan Alleman.

Jurgen McEwan en Ame Reinke vertel die liefdesverhaal van Adam en Eva in Volg. Aangevul met musiek gaan die gehoor op reis saam met die verliefdes, pasgetroudes en ook die stereotipiese rolle wat aan mans en vroue toegeken word.

Èmil Haarhof en Tiaan Slabbert verwelkom in Die leeutemmer, die gypsy en die kas vol hartseernarre die gehoor by die sirkus. Gunstelinge soos Tarzan, die leeutemmer met (of sonder) sy briljante leeu, Simba, maak 'n verskyning. En dan natuurlik ook die twee narre, wat deesdae sukkel om te glimlag.

Stories oor die meermin bring storievertellers uit die distrik byeen. Bekende digters en storievertellers van die distrik, Poem Mooney en André Boezak vertel daagliks inheemse stories oor die watermeid en haar speelplek in die riviere. Dit is kultuurstories eie aan Oudtshoorn en omliggende areas.

Uitkampteater word daagliks van 10:00 tot 12:00 en weer van 15:00 tot 19:00 voor die Absa Burgersentrum aangebied. Kaartjies na produksies kos R30 en toegang tot die Nederlandse Springtime is gratis. Kaartjies is slegs by die Uitkampteater-area beskikbaar en kan nie vooraf bespreek word nie.

Die volledige feesprogram is by www.kknk.co.za beskikbaar en kaartjies vir ander produksies is by Computicket.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM