
Lepeltjie vol Snare van onder andere Hannes Coetzee, Frazer Barry en Loit Sols beloof om 'n hoogtepunt onder vanjaar se musiekaanbod op die fees te wees. En die konsert Awê Kaktus gaan die vlaktes laat dreun met optredes van Mi Casa, Majozi, Spoegwolf en Mathew Mole.
Feesgangers kan uitsien na optredes op die fees van onder andere David Kramer, Coenie de Villiers, Lize Beekman, Laurika Rauch, Karin Kortjé, Les Javan, Refentse én Amanda Strydom.
'n Samestelling van David Kramer se gunsteling- liedjies David Kramer se Platteland met Kramer self aan die skoffel op die verhoog tel onder die hoogtepunte. Kramer smee ook kragte met Laurinda Hofmeyr vir Afrika my verlange/Afrique mon Désir waar hulle 'n skatkis van Afrika-poësie oopmaak, asook werke van Breyten Breytenbach en Antjie Krog.
Chris Chameleon en CH2, bekend om hul kitaarspel-vuurwerk, snoer kragte saam vir CH3 Chris Chameleon en CH2.
Kortjé, Robin Pieters en Elwira Standili is saam te sien in Goue treffers van Kaap - nostalgiese ballades van die Kaap.
Karin Hougaard, wat sedert 2008 in die VSA woon, tree op in die musiekteaterstuk Karin Hougaard-Grepe. Sy sing liedere wat sy in samewerking met die Nederlandse kabaretster Herman van Veen uitgevoer het, asook haar vertolking van Anna Neethling-Pohl se Afrikaanse vertalings van Shakespeare se sonnette.
Tradisionele, sekulêre liedere en spirituals vorm deel van Boontoe: Engelstemme. met onder andere Jo Black en Corlea Botha. Die Karoo is ook die inspirasie vir Karoo-nag met Adam Tas, Refentse, Joshua na die Reën, Kortjé, en ander.














