"Iets vir almal" - so beskryf Jaco van der Merwe, die samesteller van die Toyota Stellenbosch Woordfees se rolprentprogram, vanjaar se uithalerprogram.
Daar is van romantiese komedies, aksieprente, dokkies tot prente van voorgeskrewe werke vir matrieks (Mis en Krismis van Map Jacobs). Daar is kort-kort prente en les bes 'n ou fliek van die stomstreke-komediant Buster Keaton met 'n klankbaan lewend uitgevoer deur 'n Suid-Afrikaanse musikant. Al die ander prente is plaaslik.
Hy dink rolprentfeeste is 'n goeie plek om "innovering, eksperimentasie en ongewone audiovisuele ervarings te vind en te vier". Sy program lig die hoed daarvoor.
"As mens meer voorspelbare genreprente en hoofstroom flieks wil kyk, kan mens mos enige tyd na rolprentteaters gaan of 'n stromingsdiens aansit. Filmfeeste regoor die wêreld bied 'n plek waar filmmakery nog as 'n kunsvorm verstaan en geniet kan word."
Van der Merwe weet van rolprente; hy is die afgelope ses jaar die tersiêre kunsteskool Open Window se departementshoof vir Film Arts. Die kunsteskool, wat in Centurion gesetel is, het vanjaar ook 'n kampus in die Eikestad geopen.
Hy glo dat rolprente die kragtigste van al die kunsvorme is. "Rolprente is 'n tipe spieëlbeeld van ons lewe en het 'n diep towerkrag. Van my diepste geestelike ervaringe het danksy flieks gebeur. Volgens rolprentteorie is daar twee kykerservaringe; die hedonistiese en die eudaimonic - tye wanneer mens flieks kyk vir blote plesier en tye wanneer mens flieks kyk vir dieper betekenisvolle ervarings. Dit is tog 'n groot deel van wat baie mense soek by kunstefeeste. Daardie dieper ervaring wat nuwe perspektiewe op hulle lewe gee."
Op vanjaar se program het Van der Merwe ook flieks ingesluit wat hy glo fliekvlooie "nog nêrens anders gesien het nie". Toegang tot baie van die prente is gratis. Daar is meestal kortprente op die program sodat besoekers dit maklik op hul vol programme kan inpas.
Ons wil hê mense moet by die Neelsie kan in- en uitval en iets waardevol in 'n kort tydjie kom geniet.
"Ons wil hê mense moet by die Neelsie kan in- en uitval en iets waardevol in 'n kort tydjie kom geniet."
Hy is self betrokke by die dokumentêr Finding Resonance van die regisseur Dan Roberts. Van der Merwe was voorheen verbonde aan die rap-groep Bittereinder, en die prent handel oor digters en musikante wat deur die gesproke woord kommentaar lewer op Suid-Afrika se koloniale geskiedenis. Churchil Naudé, Simon Witbooi en Vusi Mahlasela is ook te sien in die prent.
Van der Merwe is 'n groot Keaton-aanhanger en het al baie van die komediant se biografieë gelees, vandaar die verskyning van die klassieke Hard Luck (1921) op die program.
"Dit bly onbegryplik dat hy al sy eie waagkuns-toertjies gedoen het. Dit is ook uitsonderlik dat die prente letterlik 100 jaar gelede gemaak is. Ronald Davey speel onder meer trompet en tjello en voer 'n regstreekse klankbaan uit. Dit is 'n prent wat met 'n donker tema afskop, maar mettertyd al snaakser word in die klassieke Keaton-styl."
Die historikus Amber Fox-Martin se twee dokkies oor die Suid-Afrikaanse teater - A Feast in Time of Plague (2020) en Reflections in a Broken Mirror (2023) - is ook te sien. Eersgenoemde fokus op die artistieke span van die streekraad Kruik in die apartheidsjare 1970 tot 1990, wat ondanks sensuur en vervolging seminale produksie opgevoer het wat die regering gekritiseer het. Laasgenoemde belig Afrikaanse toneelstukke en teatermakers wat herbesin oor hul identiteit en die nalatenskap van apartheid.
Die kortprente sowel as die Shotgun-prente en dokkies van vanjaar se kykNET Silwerskermfees is soos gebruiklik opgeneem in die program.
Daar is drie prente van die nuweling-regisseur Armand Rossouw - Wie is Christiaan Olwagen?, 'n prent oor Afrikaanse identiteit, Wanneer Meisies Swem (saam met Tana Pistorius) oor die eerste dag op aarde, en Kom Hier Weg, met Liza du Plessis.
Louw Venter se dramatiese speelfilm Stam met Tarryn Wyngaard en John Barker se The Umbrella Men is ook te sien.
Van der Merwe se top-13:
Stam
Metropolar
Oor my dooie liggaam
Ooms
Gabriel: The Hole Runs After the Rabbit
Wanneer meisies swem
Buitenkant
Security
Kom Hier Weg
Finding Resonance
Die Huis van my kinderdae verbind my liggaam
Hard Luck
Vergeet van my
•Al die prente word in die Neelsie Cinema op die Universiteit Stellenbosch se kampus vertoon.















