Konfrontasie met verlede tref hard

Martelsang

Woordfees, Stellenbosch

Zane Meas, Stian Bam en Lee-Ann van Rooi in Martelsang. Foto: Jaco Marais
Zane Meas, Stian Bam en Lee-Ann van Rooi in Martelsang. Foto: Jaco Marais

Het 'n mens nie anders geweet nie, sou jy kon glo dis 'n Suid-Afrikaanse storie dié.

Paulina word ewe maklik Pauline, net so ook die oorspronklike Gerardo wat Gerald Daniels word en Roberto Miranda wat as Robert Smit sy verskyning maak. So skop die waarheid jou in die krop dat name en plekke kan verander, maar dat misdrywe 'n universele verskynsel is.

Christo Davids het Ariel Dorfman se Death and the Maiden nommerpas na Suid-Afrika verplaas. Dis totaal geloofwaardig, in pas met gebeure wat oor dekades letsels gelaat het.

Die wonde van Pauline Daniels (Lee-Ann van Rooi) het oor twee dekades bly sweer. 'n Konfrontasie met die man wat dit toegedien het, is die enigste manier waarop genesing kan kom.

Onverwags en ongenooid dring hy haar veilige vesting binne. Die behulpsame dokter Smit (Stian Bam) help haar man, die advokaat Gerald (Zane Meas), wanneer hy langs die pad gestrand sit met 'n pap wiel.

Eers is dit net sy stem, dan die CD met Schubert-musiek uit sy motor. Wanneer sy tot aksie oorgaan, is dit die reuk van sy vel wat onnoembare herinneringe uit haar ruk. Hy is haar martelaar en verkragter. Of is hy?

Pauline kan maklik ervaar word as 'n onstabiele en paranoïese vrou. Sy kan nie aanvaar dat misdade ongestraf kon bly nadat mense erken het wat hulle aan ander gedoen het nie. Sy wil haar eie waarheidskommissie wees waar 'n bekentenis nie noodwendig versoening beteken nie. Sy is nie een van dié wat gesterf het nie, maar tog is haar lewe vernietig.

Van Rooi se Pauline is kompleks. Sy het jou simpatie, maar wanneer sy kras en kil afwissel met oomblikke van openlike gekheid, wil-wil sy jou vervreem.

Bam se dr. Smit laat jou onwillekeurig wonder hoeveel van sy soort rondom jou is - 'n monster verskans agter 'n masker van geleerdheid en ordentlikheid. Sy slinksheid kom na vore wanneer hy vir Gerald oortuig om sy vrou te verraai. Dan twyfel jy glad nie meer aan sy onskuld nie.

En dan wys Gerald wie hy eintlik is. Hy het homself lankal in 'n grys wêreld toegespin. Die kans dat hy gaan ontsnap, is min.

Kwessies van vergifnis, om eie reg te gebruik, geregtigheid wat nooit werklik geskied nie, een mens wat 'n klein rat in 'n groot bestel van ongeregtigheid is, is maar 'n paar van die vraagstukke wat bly draal in die aantog na die onafwendbare afloop.

Maar die groot vraag bly:Vir hoeveel moet die finale skoot nog klap?

Martelsang word Saterdag om 17:00 en 20:30 en Sondag om 10:00 by die Hoërskool Stellenbosch opgevoer.

Mariana Malan

SPELETJIES VANDAG

CTA