Wat kan Suid-Afrika en die res van die wêreld verwag onder pres. Donald Trump van Amerika? Willemien Brümmer het gaan luister wat 'n paneel kenners by die US Woordfees sê.

Julius Malema is die Amerikaanse president, Donald Trump, se eweknie in Suid-Afrika en die EFF gaan die "momentum" gebruik wat Trump geskep het vir sy rassistiese retoriek.
Só het dr. Leon Schreiber, navorser, ontleder en navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit van Princeton in die VSA, gister gesê tydens die gesprek "VSA onder Trump: Wat kan Suid-Afrika en die wêreld verwag?"
"(Danksy Trump se uitlatings) word hier toestemming gegee dat jy maar kan goed sê. Jy kan maar sê ‘ons is die meerderheidsras, jy hoort nie hier nie, Suid-Afrika is vir Suid-Afrikaners'."
Schreiber was een van drie paneellede by gister se Van Zyl Slabbert-gesprekreeks wat vandeesweek by die US Woordfees gehou is in samewerking met Die Burger.
Schreiber en Jan-Jan Joubert, adjunkredakteur van die Sunday Times, het gesê Suid-Afrika het rede om te vrees dat Trump die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) in sy visier kan hê. Suid-Afrika het massiewe voordeel getrek uit dié multilaterale handelsooreenkoms met Amerika. "As Trump Agoa in sy visier het, gaan dit diep katastrofiese gevolge hê vir Suid-Afrika en die ekonomie kan dit eenvoudig nie nou bekostig nie," het Schreiber gesê.

Hy het verder gesê die idee dat pres. Robert Mugabe van Zimbabwe opgewonde kan wees oor 'n inkomende Amerikaanse leier behoort ons almal te ontstel. "Dis nie net Mugabe nie. Kyk maar reg oor die vasteland. Diktators en mense wat geen belangstelling het in demokratiese waardes nie voel aangespoor deur die feit dat Trump verkies is."
Net soos wat Trump in Amerika toestemming gegee het aan die sogenaamde "alt-right" om uit die krake te kruip, het hy hier dalk subtiel toestemming gegee dat mense kan uiting gee aan rassistiese of ondemokratiese beginsels. "Die ambassadeurs wat Trump gaan aanstel, gaan nie daadwerklik kan opstaan teen Mugabe of een of ander Afrikaleier wat sy mense onderdruk nie. Hulle gaan sê: ‘Ek kyk weg, maar wat kan ons hieruit kry?' Ek dink daai is 'n baie donker wêreld waarin Suid-Afrika hom gaan bevind," het Schreiber gesê.
Joubert het gesê hy en baie ander is bekommerd oor die nasionalisme en die selfsug wat Trump se opkoms verteenwoordig. "Die laaste keer dat ons wêreldwyd hierdie soort groei in regse populisme en nasionalisme in die wêreld se geskiedenis gesien het, was in die 1930's. Dit het nie baie goed geëindig nie."
Prof. John Stremlau, hoogleraar in internasionale betrekkinge by Wits, het gesê Trump is die ongewildste en mees onbevoegde president in die Amerikaanse geskiedenis.
As oudonderwyser is hy benoud oor die aanstelling van Betsy DeVos as die minister van onderwys in Trump se kabinet. "Die punt is, ek sou nie iemand wat in tuisonderrig glo die hoof van my departement van openbare onderwys maak nie. Sy is gekant teen dit wat sy moet bestuur. Dis soos om vir Dracula die baas te maak van 'n bloedbank. Dis idioties."
Prof. John Stremlau, hoogleraar in internasionale betrekkinge by Wits, het gesê Trump is die ongewildste en mees onbevoegde president in die Amerikaanse geskiedenis.
Hy het Trump met dr. Frederik Van Zyl Slabbert vergelyk. In teenstelling met dié Suid-Afrikaanse ikoon het Trump "geen karakter, geen offervaardigheid, nog minder empatie, welwillendheid of liefde in die ware profetiese betekenis van die woord nie. Dit is die ware bedreiging wat hy inhou".
Hy meen dit lyk al hoe meer waarskynlik dat Trump se presidentskap van korte duur sal wees. "Trump, anders as vorige presidente en presidensiële kandidate, het nie vir ons vertel van sy verdagte finansiële transaksies oor die jare nie. Die verhouding met Rusland is nie ideologies nie. Dit neem ons terug na die Nixon-era: Volg die geldspoor . . ."
Op een of ander stadium gaan daar 'n kantelpunt wees, het hy gesê. "Ek het gedink die kantelpunt gaan nie gou kom nie, maar ek het van mening verander hieroor."
In antwoord op 'n vraag uit die gehoor of Trump in 'n staat van beskuldiging geplaas kan word, het Stremlau gesê indien genoeg donker wolke om dié president se kop saampak, sal die hoofstroom-konserwatiewes in die Republikeinse Party na die visepresident, Mike Pence, begin kyk. "Ek is nie 'n bewonderaar van Pence nie, maar hy't ondervinding in die regering en hy weet hoe dit werk. Om te regeer is moeilik. Trump weet nie enigiets daarvan nie."
Indien die Demokrate in 2018 die middeltermynverkiesing wen, sal hulle ongetwyfeld die wiele aan die rol sit om vir Trump in 'n staat van beskuldiging te plaas, het hy gesê. "Die Republikeine en die Demokrate sou ook vroeër as dit kon bymekaarkom, maar indien dit gebeur, sou die Republikeine moet saamspeel."
* Vrydag was die laaste van vyf gesprekke in dié gesprekreeks by vanjaar se US Woordfees.














