
Drie produksies word as hoogtepunte uitgesonder in 'n omvangryke aanbod van klassieke musiek op die US Woordfees wat volgende jaar van 2 tot 10 Maart in Stellenbosch gehou word.
Die feëkoningin word as 'n Afrikaanse weergawe van Purcell se opera The Fairy Queen opgevoer met Kaapstad Opera, Tinta Barocca en die musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch onder leiding van Erik Dippenaar.
Alan Swerdlow is die regisseur van dié maskerspel gegrond op Shakespeare se huwelikskomedie A Midsummer Night's Dream. Die teks verklaar dat liefdesweë selde glad verloop en die liefde gekke van ons almal maak.
Khoi'npsalms gaan oor die eerste ontmoetings aan die Kaap en lewer kulturele kommentaar wat eietyds verklank is. Die musici is Francois Blom (orrel), Garth Erasmus (blik-en-snaar en boog) en Marietjie Pauw (fluit).

Suid-Afrikaanse soprane: Heldinne bring vyf bekende sangers byeen om verskeie operakarakters voor te stel.
Niël Rademan sal die sangers voorstel, naamlik Lauren Dasappa, Minette du Toit-Pearce, Jolene Auret Kappis, Amanda Osorio en Lanel Speelman. Elna van der Merwe sal hulle op die klavier begelei in arias oor verraad, moord en liefde.
Die res van die klassieke program is ewe opwindend en sal in 'n wye spektrum van voorkeure voorsien.
Die geliefde Stellenbosse Blondes, Elna van der Merwe en Zorada Temmingh, is weer voor twee klaviere met Rach en Rav, oftewel, musiek van Rachmaninoff en Ravel. Hulle weef heel vernuftig ook Afrikaanse treffers van Laurika Rauch, Amanda Strydom en Coenie de Villiers by die klassieke werke in.
'n Interessante kombinasie van solo-tjellis, dans en 'n kamer-ensemble word inCello Meets Dance gevind.
Die Oostenrykse tjellis Erich Oskar Huetter span saam met Peter Martens (tjello), Albie van Schalkwyk (klavier), Farida Bacharova (viool) en I Grandi Violoncellisti om musiek te verskaf vir die kontemporêre danser Tanja Schmid.
Sangliefhebbers kan uitsien na Schubert se Winterreise met

Robert Brooks (tenoor), Gisela de Villiers (klavier) en die nimlike Nic de Jager as aanbieder. Ligspel en sketse deur William Kentridge sal die uitvoering toelig.
Verskeie kamermusiekuitvoerings is op die program, onder meer soloklavier, twee kitare, trio's, die Signum-strykkwartet, Suid-Afrikaanse werke vir klavier, klarinet en viool, barokmusiek, die roerende L'Histoire du Soldat van Strawinski waarin 'n soldaat sy viool aan die duiwel verkoop, en les bes die Two Pianists, Nina Schumann en Luis Magalhães, wat werke van Mozart, Debussy, Mendelssohn en Liszt sal speel.
Kore wat optree, is onder andere die Libertaskoor wat saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes Mendelssohn se Elia-oratorium gaan uitvoer, die Stellenbosch-universiteitskoor onder André van der Merwe wat pas weer as die beste koor ter wêreld aangewys is, en die US-kamerkoor.
Die Universiteit Stellenbosch-simfonieorkes sal onder leiding van Corvin Matei "immergroen hartsmusiek" uitvoer. Die solis is die kitaarspeler Morgan Szymanski wat Rodrigo se immergewilde Concierto de Aranjuez sal uitvoer.
Hierby kom ook 'n hele week van orrelmusiek in die Stellenbosse moederkerk deur Winand Grundling, Zorada Temmingh, Mario Nell, Eon Malan, Grant Bräsler en Christopher Petri.














