Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Toyota Stellenbosch Woordfees deel twee digters die titel van feesdigter - 'n simboliese en inhoudelike pasmaat vir vanjaar se tema, "Deel". Die veelbekroonde Antjie Krog (Binnerym van bloed) en die energieke uitvoerende digter Siphokazi Jonas (Weeping Becomes a River) sal die rol saam op die EasyEquities Skrywersfees vertolk. Die Woordfees vind van 11 tot 19 Oktober in Stellenbosch plaas.
Digkuns
Volgens Bibi Slippers, sameroeper van die Skrywersfees, is hierdie gedeelde rol nie net geskiedkundig nie, maar ook 'n geleentheid vir poësie om 'n nuwe ruimte in te neem.
"Dit is die eerste jaar dat ons op die Woordfees 'n dag van poësie hou wat deel is van die Skrywersfees-program," sê sy.
Die eerste Sondag van die fees is daar net digbundels of poësie op die program.
"Mense wat van poësie hou, of onseker is daaroor en net hul kleintoontjie in die water wil steek, kan kom en die een ná die ander gedigte-dinge meemaak."

Die dag sluit voorlesings, besprekings en nuwe werk in, en word afgesluit met 'n gedeelde aanbieding deur Jonas en Krog.
"Ek dink hul gesamentlike voorlesing gaan baie spesiaal wees. Ek is opgewonde omdat ons soveel geleenthede vir digters kan skep," sê Slippers.
Nie net gaan Krog en Jonas se digkuns voorgelees word nie, maar dit sal ook oral wees - op mure, papiere, sypaadjies en in geheime plekke opgeplak.
Van die ander digters op wie se digkuns gefokus word, is Louis Esterhuizen (Klaarte), Marelize Joubert (Atrium), Gilbert Gibson (Vloei/Stof), die nuweling Herman Wasserman (Waterman), Pieter Madibuseng Odendaal (A Corpse Is Also a Garden) en Ryan Pedro (Prins).
Boekklub
Die res van die Skrywersfees-program is vol literêre diversiteit.
Slippers sê die keuringsproses is kompleks en word deels bepaal deur die boeke se publikasie-tydslyne.
"Wanneer ons die program saamstel, is daar van die boeke wat nog nie klaar of gereed is vir publikasie nie. Dit kom eers later in die jaar uit. Die uitgewers doen dan voorleggings en maak 'n saak vir sekere boeke of skrywers.
"Ek kyk dan na die voorleggings en probeer 'n gebalanseerde en verteenwoordigende program bou uit dit wat vanjaar op die winkelrakke gaan verskyn."
Die resultaat is 'n program wat sowel gevestigde as opkomende skrywers insluit.
"Die Woordfees is 'n wonderlike geleentheid om lesers bekend te stel aan nuwe skrywers."
In twee boekgesprekke word Krog se selfverklaarde laaste skrywe, Binnerym van bloed, en Marita van der Vyver se My jaar van vrees en vryheid bespreek. Die skrywers gaan onderskeidelik met Andries Bezuidenhout en Ingrid Jones oor hul jongste skrywes praat.
Krimi's
'n Sterk tema vanjaar is misdaadfiksie, wat uitloop op verskeie genre-spesifieke panele.
"Daar is baie ‘krimi's' op die program omdat dit 'n gewilde genre onder skrywers en lesers is," sê Slippers.
Van die boeke onder bespreking is Die Dood van Rachel April deur P.P. Fourie, Die drie weduwees van Irma Venter, Knal van Bettina Wyngaard en Bonsai-meisies van Erla Diedericks.
Daar is ook aparte sessies vir die verskillende subgenres.
"Ons het 'n aparte krimi-paneel met Chris Karsten (Al die swendelaars), Rudie van Rensburg (Leeumens en Eleksie op Erdvark) en Jaco Wolmarans (Donkermaan en Sekelmaan) wat almal sterk speurverhale skryf.
"Ons het ook 'n paneel van skrywers wat ‘knussie-krimi's' (cosy crime) skryf. Dit is 'n subgenre van krimi's. Die skrywers sluit in Bonnie Espie (Making a Killing), Tom Eaton (An Act of Murder) en Andrea Shaw (Unsolicited)."
Onder gewilde fiksie gesels Wyngaard met Chanette Paul (Déjà vu), Leon van Nierop (Die volmaakte moord) en Riaan Grobler (Hospitaal Weltevreden).
Slippers beklemtoon dat die aanbod nie beperk is tot misdaadfiksie nie.
"Ja, daar is baie krimi's op die program, maar ander genres word ook goed verteenwoordig."
Sy wys veral op een roman waarna sy uitsien.
"Ek is opgewonde oor Gerda Taljaard se roman Die grafdigter. Frieda van den Heever, wat jare die radioprogram Vers en klank op RSG aangebied het, sal met Gerda oor die roman gesels. Frieda is ook 'n musikant en 'n baie skerp leser," sê sy. "Ek sien uit daarna om te hoor hoe die gesprek tussen hulle verloop. Gerda is een van die skrywers wat verdien om 'n bekende naam te word."
Debuutromans
Drie debuutromans, Marieta Carrick se Bloed van 'n vlinder, Hendie Grobbelaar se Wilde vere en Wilna le Roux se Die ooggetuie, word deur die ouduitgewer Marga Stoffer bespreek.
Romanses
Die radioaanbieder Sibongile Mafu gesels met die skrywers Lindsay Norman (Khaki Fever), Jo Watson (The Ex Effect), Shameez Patel (Playing Flirty) en Ntombifuthi Nkabinde (In the Late of Night).
Storieman(s)
Die akademikus en storiekenner Bibi Burger lei 'n boeiende gesprek met drie Storieman(s): Johannes de Villiers (Op pad na 'n klooster in die sneeu), Theo Kemp (Klein konings) en François Loots (Twyfelbos). Hulle deel die stories agter die stories, gesels oor die krag van vertellings, waar hul eie liefde vir stories begin het en wat 'n vertelling werklik onvergeetlik maak.
Teater
Die band tussen die wêreld van boeke en die wêreld van teater het baanbrekende werk op die verhoog tot gevolg gehad. Vanjaar vloei dit in die ander rigting met Willem Anker se boek Patmos, wat oorspronklik as 'n teaterteks geskryf is, wat pas verskyn het. Kabous Meiring gesels met die Nagtegaal-tekspryswenner Dianne du Toit Albertze (Huis van sand), die dramaturg Jolyn Phillips (Kompoun) en Ingrid Winterbach (Moedswil en muitery) oor die opwindende uitdagings van toneel skryf, hoe dit verskil van boek skryf, en hoe hierdie twee kreatiewe wêrelde mekaar verryk.
Niefiksielesers kan uitsien na die bekendstelling van Tony Leon se nuwe memoires, Being There.





















