Kuns

Beeldhouer Evette Weyers ‘was eenmalig’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Evette en Marius Weyers by die see by hul geliefde Rooiels.  Foto: Deon Raath
Evette en Marius Weyers by die see by hul geliefde Rooiels. Foto: Deon Raath

Die kunstenaar en beeldhouer Evette Weyers is vroeër vandag dood.

Alzheimer se siekte is in 2019 by haar gediagnoseer. Sedertdien het haar man, die akteur Marius Weyers, haar tuis by hul huis in Rooiels in die Overberg versorg.

Sy het gesterf in hul huis met Marius en die see naby haar, soos sy dit wou hê, het 'n WhatsApp-boodskap oor haar dood gelui.

Weyers is in 1946 in Durban, KwaZulu-Natal, gebore en het 'n BA-graad in visuele kuns aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy het 'n wye belangstellingsveld gehad en was verknog aan die see en die natuur.

Sy was ook 'n aktrise en het verskyn in The Trojan Women en Equus. Sy het dié tragedies ook in Afrikaans vertaal. Sy was 'n vurige ondersteuner van teaterkuns en het dikwels van haar huis op Rooiels gery om opvoerings in Kaapstad by te woon en het dan dieselfde aand teruggery.

Marius en Evette Weyers by een van haar beelde. Foto: Deon Raath
Marius en Evette Weyers by een van haar beelde. Foto: Deon Raath

Die aktrise Sandra Prinsloo het haar vriendin nog Sondag gesien, en beskryf haar as iemand wat die lewe altyd vanuit 'n ander hoek aangedurf het. "Sy was een van daardie ongelooflike mense - energiek, talentvol, wys - sy was altyd positief en vol humor. Sy was een van daardie vroue wat in die koudste waters gaan duik het, berge geklim het en graag gestap het. Dit was ongelooflik hoe Marius haar versorg het."

Katinka Heyns, die rolprentmaker, was ook nou met die egpaar bevriend. "Dit is hartseer nuus, ons verwag dit al so lank. Sy en Marius het so 'n unieke verhouding gehad, hulle het mekaar elke kans gegun om hul talente te laat blom. Dit is 'n ontroerende gebaar dat hy besluit het om nie verder te werk nie sodat hy haar kan versorg."

Dié foto is op die omslag van haar boek oor haar kuns, ‘Wat die hart van vol is', gebruik.
Dié foto is op die omslag van haar boek oor haar kuns, ‘Wat die hart van vol is', gebruik.

Die kleurboek Wat die hart van vol is oor Weyers se lewe as beeldende kunstenaar en vrou van Marius het in 2012 by die uitgewer Hemel & See Boeke verskyn. Sy skryf daarin onder meer oor haar wedervaringe, haar verhoudinge, die natuur en haar lewe as kunstenaar.

In sy resensie oor die boek het die nou ontslape skrywer en resensent Cas van Rensburg geskryf: "Evette is soos 'n bewende pyl in 'n styfgespanne boog. Die hele wêreld, van bo tot onderaards, is vir haar teiken. As sy nie bo-op die berg sit tussen wilde bobbejane wat vlooie in haar hare soek nie, swem sy saam met otters, dolfyne en selfs 'n skaamhaai in die baai. Nooit egter rus haar verbeelding nie, en elke ervaring word 'n beeld of soms net 'n storie - vir Marius."

Weyers was 'n unieke, oorspronklike en vrydenkende mens. Só beskryf die kunskenner Amanda Botha haar. "Met 'n betowerende mengsel van intellek en intuïsie het sy as kunstenaar en beeldhouer grense verskuif. Haar verwysingswêreld het die letterkunde, die kunste, die teater, sielkunde en die filosofie omsluit en met haar gemaklike omgang en insig was sy 'n baie besondere gespreksgenoot. Sy het oor die vermoë beskik om ontvanklik te wees en ruim van haarself te gee. Maar wat ek by uitstek van haar onthou, is hoe lekker sy kan lag en wat 'n oneindige plesier dit was om in haar geselskap te wees. Sy, Evette, of soos meestal na haar verwys is as ‘Marius se vrou', was in somtotaal eenmalig."

Botha vertel dat Weyers graag haar akteurman sy woorde help leer het. Sy het al die ander rolle vir hom gelees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM